Grootmense moet gesien, nie gehoor word nie
Jo-Maré Duddy - My ouma het altyd gesê: “Muisdrolle uit die peper uit.”
Dit was haar weergawe van kinders moet gesien en nie gehoor word nie – die sêding waarmee menigte jongeling in my dae uit sitkamers en om braaivleisvure verban is. Wat hulle te sê gehad het, was nie belangrik nie.
Deesdae moet dit eerder andersom wees, voel ek toenemend: Heelwat grootmense moet gesien en nie gehoor word nie.
'n Strawwe winterskolesportseisoen wat pas ten einde geloop het, het my telkemale verseker dié omgedraaide gesegde is van pas.
Plaas daarvan om kinders wat hul harte uitspeel, van die kantlyn af aan te moedig, word hulle meedoënloos gekritiseer. Soms reguit sleggesê.
Is dit wat ons ons kinders in die veiligheid van hul huise leer? Dat foute onvergeefbaar is? Dat 'n mens nie daaruit kan leer en dit kan regstel nie? Dat almal nie een of ander tyd mistrap nie?
Plaas daarvan om ons kinders te troos en hulle vir 'n goeie poging op die skouer te klop, selfs al kon hulle nie wen nie, verloor so baie ouers hul humeure en pak die skuld op almal en nog wat.
Watter voorbeeld is ons vir goeie sportmangees en verantwoordelikheid? Sport kom en gaan, maar sportmangees is 'n bousteen van 'n kind se karakter. Spanwerk bepaal sukses op soveel fronte in die lewe. Net soos die vermoë om te kan verloor. En verantwoordelikheid te vat vir jou aandeel daarin.
Die lewe is tog een groot wedstryd. Jy moet fiks bly, jou vaardighede opskerp, jou spanmaats vertrou. Jy kán nie gaan lê nie. Speel móét jy aanhou speel.
Daar's rede waarom 'n mens dit speel noem. Want die lewe is vlietend en hárd, maar tog ook groot pret.
Die optrede van heelwat grootmense die afgelope maande – op én af van sportvelde – was hartseer. Nie net moet grootmense nie gehoor word nie, van hulle moet nie eens gesien word nie, het ek gevoel.
Ons skandalige optrede is nie net tot die sportveld beperk nie. Die wyse waarop ons ekonomiese, maatskaplike en politieke onsekerhede hanteer, stuur eweneens die verkeerde boodskap na ons kinders uit.
Verdeeldheid word gesaai oor iets so simpel soos 'n straatnaamverandering. Ja, dis simpel. Het Namibië nie groter probleme om op te los as om in kampe verdeel te word oor 'n straatnaam nie?
Waar leer ons kinders van “ons”, “hulle” en “julle”? By grootmense se ondeurdagte en kinderagtige stereotipisering van Namibiërs. Medelandgenote – spánmaats – met verskillende denkwyses, politieke en geloofsoortuigings, seksuele oriënterings.
Kinders word nie met onverdraagsaamheid gebore nie. Hulle leer dit by ons.
Dis tyd dat ons weer 'n bietjie by húlle gaan kers opsteek.
Kinders moet gesien én gehoor word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie