Groen organisasies bal vuis oor bosbenutting

'Nog geen Hamburg-ooreenkoms'

15 October 2020 | Sakenuus
Elvira Hattingh



“Daar bestaan tans nog geen ooreenkoms vir die uitvoer van biomassa­produkte na Duitsland, Hamburg nie. So 'n ooreenkoms is afhanklik van die uitkoms van 'n deeglike en objektiewe haalbaarheidstudie.”

Só het mnr. Progress Kashandula, die uitvoerende hoof van die Namibia Biomass Industry Group (N-BiG) Dinsdagmiddag gereageer.

Dit volg nadat verskeie burgerlike organisasies, insluitend Earthlife Namibia die afgelope Sondag, 'n media­verklaring uitgereik het waarin hulle standpunt inneem téén die invoer van “Namibiese boshout” om in Hamburg se verhittingsaanlegte te gebruik. Die burgerlike organisasies sluit talle in wat in Duitsland gebaseer is en wat meen so 'n ooreenkoms sal nie “klimaatsvriendelik” óf “sosiaal regverdig” wees nie.

Hul hoofbesware is die lang afstand wat bosskerwe vervoer sal moet word, asook “veranderinge in grondgebruik” in Namibië. Ook, sê die groen organisasies, sal die grootste waardetoevoeging buite Namibië se grense plaasvind en sal geïndustrialiseerde bosbenutting tot werksverliese lei.

In die verklaring, wat ook onderteken is deur Earthlife Namibia se voorsitter, me. Bertchen Kohrs, word gesê dié wat hieruit bevoordeel word, sal hoofsaaklik in die globale Noorde geleë wees, “wat in staat sal wees om masjiene en voertuie te verkoop en hulself van rumateriaal te voorsien.”

Sy meen Namibië moet, eerder as om “60% steenkool-opgewekte, vuil elektrisiteit” van buurlande in te voer, die bos benut om self krag op te wek, eerder as om die bos te wil uitvoer.

Kohrs sê hiervoor moet ­volhoubare metodes vir die oes van bos ­toegepas word.

“Die bos moet slegs op die versigtigste manier moontlik geoes word, wat nie gewaarborg kan word as groot hoeveelhede vir uitvoerdoeleindes geoes moet word nie,” het sy gesê.



'nIE GESTAAF'

“N-BiG en sy lede is nie deur Earthlife Namibia of enige van die ander ondertekenaars van die verklaring gekontak nie,” het Kashandula egter gesê.

“Daarom is dit onduidelik tot watter mate Namibiese rolspelers vóór die uitreiking van dié verklaring ­gekonsulteer is om sulke sterk standpunte te staaf.”

Kashandula het verduidelik dat die “voortdurende gesprekke” oor die projek in September verlede jaar begin het toe 'n afvaardiging van Namibië Hamburg besoek het.

Die afvaardiging is deur mnre. Joseph Hailwa, Namibië se direkteur van bosbou, en Ned Sibeya van die Nasionale Beplanningskommissie gelei.

Nog verteenwoordigers van die regering, die bedryf, boere, verenigings, omgewings-nieregeringsorganisasies (NGO's), asook academici het die ­afvaardiging vergesel.

“'n Voorvereiste vir die ­vennootskap is dat sosioëkonomiese, asook ­ekolo­giese voordele oraloor die waarde­ketting moet geld.”

Kashandula sê dienooreenkomstig is 'n haalbaarheidsproses van stapel gestuur om 'n “wedersyds bevoordelende verhouding” te bewerkstellig en seker te maak soveel as moontlik van die waarde bly in Namibië.

Hy sê beide Namibië en ­Duitsland het op die proses besluit, wat insluit dat werkgroepe asook openbare konsultasiesessies gehou word en waarvan die finale uitslae middel 2021 verwag word.

“Buiten vir N-BiG, word Namibië in dié proses verteenwoordig deur onder meer die Duitse ambassade, die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, die Namibia Nature Foundation (NNF), die Walvisbaai Korridorgroep (WBCG), asook die Forest Stewardship Council (FSC) se raad vir Suider-Afrika,” het hy verduidelik.

Nog besware in die burgerlike orga­nisasies se verklaring is dat geen openbare, oop debatte nog hieroor gevoer is nie, wat op 'n gebrek aan deursigtigheid en demokratiese beheer neerkom. Besware word ook geopper omdat dié vennootskap met spesifiek Namibië gesoek word, wat 'n Duitse kolonie was.

Hulle doen 'n beroep op Hamburg se omgewingsbeskermingsowerhede om op te hou om die projek na te jaag.

“Die ongegronde beroepe . . . is klaarblyklik nie gebaseer op belange om Namibië se ekonomie te ontwikkel of om werksgeleenthede vir sy mense te skep nie,” het Kashandula gesê.

Hy sê N-BiG is 'n ­niewinsgewende Artikel 21-maatskappy wat die private sektor, asook verskeie ­academici in die plaaslike biomassasektor ­verteenwoordig.

“Deel van ons mandaat is om markgeleenthede te verken en die bedryf te diversifiseer,” het hy gesê en bygevoeg dat dit onder meer verskeie plaaslike projekte steun, soos die ontwikkeling van die NamPower 40 MW Otjikoto Biomassa-aanleg naby Tsumeb.

“Ons voel dat beide plaaslike asook internasionale geleenthede in ­sinergie verken moet word sodat ons 'n ekonomie van skaal kan bewerkstellig en die voordele van dié groot hulpbron moet benut.”

Hy sê die plaaslike ­biomassasektor het oor die afgelope vyf jaar sy ­arbeidsmag van 6 000 tot 11 000 vergroot en gehelp om belangrike maatreëls in te stel wat omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid verseker.

“'n Sterk bos-biomassasektor sal geleenthede bied vir beide ongeskoolde arbeiders, asook vir 'n formeel ­opgeleide werkslui . . .” het hy bygevoeg. – [email protected]

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

9 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

9 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

9 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

9 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

9 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

9 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...