Gevlekte hiëna glo lankal by Garub

12 February 2019 | Omgewing
Tanja Bause - Volgens ’n verklaring van die bruin hiëna-navorsingprojek (BHRP) word die gevlekte hiënas by Garub al sedert 2007 bestudeer.

“Die beweging van dié hiënas word met GPS- telemetriese halsbande gemonitor en sedert 2014 het ons strikkameras in die Garub-gebied opgestel,” het me. Ingrid Wiesel van BHRP gesê.

Die Garub-hiënatrop kom geskiedkundig en natuurlik in die gebied voor, sê sy.

Dié diere se teenwoordigheid in die Koichab- en Garub-omgewing word al dekades lank gedokumenteer.

Ná 10 jaar se data-insameling is die gevlekte hiëna in 2005 as ’n geringe bedreiging vir die wilde perde van die Namib beskou.

Van 1999 tot 2012 het die wilde perde se bevolking van 89 tot 286 gegroei.

“Sedert die begin van die onlangse droogte is 106 vrektes onder die wilde perde oor ’n tydperk van twee jaar aangeteken. Die hoofoorsaak hiervan was die droogte en vermoedelik roofdiere,” het Wiesel gesê.

Beriggewing van die Namibian Wild Horses Foundation (NWHF) doen aan die hand dat die hiënas nie voor 2013 by Garub voorgekom het nie, en dat die perde se vrektes in dié tyd geheel en al aan predasie toegeskryf kan word.

“Data verskil egter hiervan en onjuiste beriggewing is gebruik om ’n openbare gesprek te begin om die wilde perde te red.”

Ingryping is dringend nodig om die wilde perde se langtermynoorlewing te verseker.

Die ministerie van die omgewing en toerisme se voorstel om die hiënas te skuif, sal slegs ’n korttermynoplossing wees en ander oplossings moet gevind word, het Wiesel gesê.

“By Garub is tans twee inwonende volwasse hiënas, een immigrant en tot drie jeugdige gevlekte hiënas. Op grond van foto’s wat deur die strikkameras geneem is, vermoed ons een wyfie is hoogs dragtig of het reeds geboorte geskenk. Enige bestuur van die diere moet dít in ag neem,” het sy gesê.

Die BHRP het sy hulp voortdurend aan die NWHF en die ministerie gebied, en is gewillig om dit in die toekoms te doen, het Wiesel gesê.

Dr. Rudie van Vuuren, van die N/a’an ku sê-stigting, het gesê rekords van gevlekte hiënas in die Aus- en Diamant Area 1-omgewing dateer terug na die tagtigerjare.

“Hulle was nog altyd in die omgewing teenwoordig, maar hul uitgebreide gebied en beskikbare kos het tot sporadiese waarnemings gelei en die indruk geskep dat hulle nie in die gebied voorkom nie,” het Van Vuuren gesê.

“Die onlangse droogte, die teenwoordigheid van die wilde perde en die feit dat sommige lodge-eienaars die hiënas voer, het veroorsaak dat die hiënas in die omgewing gebly het en op die perde as bestendige voedselbron fokus, in plaas daarvan om saam met hul natuurlike voedselbron van wilde diere te migreer. Dit verhoog hul waarneembaarheid en impak op die perde.”

In sosiale media is onlangs beweer die gevlekte hiënas is deur dié stigting op die plaas Kanaan hervestig.

“Geen hiëna is al ooit op Kanaan hervestig nie. Ons het ’n navorsingprojek op Kanaan, wat natuurlike wilde karnivore in mens-dier-konflik bestudeer. Maar ons het nog nooit ’n hiëna verskuif nie. Die hiënas in en om Kanaan was inwoners lank voor die projek begin is, of voor N/a’an ku sê die eiendom gekoop het,” het hy gesê.

In Junie 2018 is ’n gevlekte hiëna op ’n plaas naby Aus geskiet ná hy ’n koedoe gevang het.

“Die hiëna is op Kanaan gevang en vir die navorsingprojek met ’n halsband toegerus. Hy het van sy trop naby Kanaan af wegbeweeg en het nomadies rondbeweeg, soos algemeen vir ’n hiënamannetjie.”

“Die trop hiënas by Garub is afsonderlik van dié wat rondom Kanaan voorkom.

“Tog kan individue tussen die gebiede beweeg, soos in die geval van die hiëna wat by Aus doodgeskiet is,” het Van Vuuren gesê.

“Ons hoop almal op ’n goeie uitkoms vir alle spesies – veral in 'n nasionale park, waar alle wilde diere beskerm moet word,” het Wiesel gesê.

Soortgelyk

 

Honderde miljoene vir veevoer nodig

18 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Die 2019 droogte is ‘n omvangryke ramp en ten minste N$170 miljoen is nodig om net 5 persent van die nasionale veekudde...

Min of geen handboeke vir nuwe leerplan

18 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Óf drupsgewys óf glad nie. Dit is volgens verskeie skole oraloor die land die huidige stand van handboeke vir die nuwe leerplan...

Regional council must account for vandalised buildings

18 ure gelede | Infrastruktuur

AUSSENKEHR – The //Kharas Regional Council must account for government buildings that are vandalised and left to become white elephants, the minister of urban and...

Swapo beslis dorpsraadslede se lot

18 ure gelede | Politiek

Dorpsraadslede van Okahandja en Rundu moes Maandag ure lank by Swapo se hoofkantoor in Windhoek wag om te hoor wat hul lot is. Verskeie nasionale...

Groeiende stad druk rioolstelsel

18 ure gelede | Infrastruktuur

Elvira Hattingh - Die Windhoekse munisipaliteit erken sekere rioolpype in die stad moet opgradeer word om die groeiende getal stadsbewoners te akkommodeer. Terselfdertyd beloof hulle...

Weer vir 19 Februarie 2019

18 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Bloedige hittetoestande word vir die res van die week in die binneland verwag.BINNELAND: Mooiweer en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik...

Gammams staan steeds stil

18 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek se munisipaliteit (CoW) sê hul Gammams-watersuiweringsaanleg staan steeds stil nadat swaarbrandstofolie meer as twee weke gelede in die stad se rioolstelsel...

‘Vroue is sterk’

18 ure gelede | Maatskaplik

Mariselle Stofberg – TrueKrav Namibia het Donderdag, in samewerking met die Namibiese Vrouevereniging en Kosmos, ’n praatjie oor geslagsgeweld in die hoofstad aangebied.TrueKrav bied...

Namcor wil vry van sekere wette wees

18 ure gelede | Energie

Elvira Hattingh - Namibië se Nasionale Petroleumkorporasie (Namcor) het ‘n aansoek by die Namibiese Kompetisie-kommissie ingedien om vir die volgende 10 jaar vrygestel te wees...