Gesondheidsbelasting moet sektor finansier

Skenkersgeld droog op

13 October 2017 | Ministeries
Henriette Lamprecht



'n Verpligte gesondheidsversekeringstelsel, die verhoging van belastingkoerse, of die instel van 'n toegewyde gesondheidsbelas­ting is van die voorstelle om die volhoubare finansiering van Namibië se gesondheidstelsel te verseker.

Dié voorstel deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is in 'n verslag vervat oor die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) se rekening vir 2014-'15. Volgens die verslag het skenkergeld in Namibië die afgelope paar jaar beduidend afgeneem. Die verwagting is dat dié neiging sal voortduur soos die land na 'n hoër middelklas oorskakel.

Bykomend tot die identifisering van alternatiewe bronne vir finansiering om dieselfde vlak en standaard van dienste te handhaaf terwyl skenkergeld opdroog, het Namibië hom ook tot Universele Gesondheidsdekking (UHC) verbind. Laasgenoemde gaan ook bykomende finansiële hulpbronne vereis.

Volgens die verslag moet die verskillende finansieringsopsies egter binne die huidige ekonomiese konteks ontleed word, terwyl terselfdertyd oorweging geskenk word aan die langtermyn-implikasies vir die volhoubaarheid van elk van dié opsies.

Die verslag sê die regering moet die omvang van onvervulde gesondheidsbehoeftes bepaal waar besteding nie dié met die grootste behoeftes bereik nie. Laasgenoemde verwys na groepe wat weens finansiële en ander struikelblokke geriewe en dienste nie ten volle kan benut nie.

Die verslag sê voorts volhoubare plaaslike finansiering moet geïdentifiseer word om programme vir MIV/vigs, tuberkulose (TB) en malaria te ondersteun.

MIV/vigs is die grootste oorsaak van sterftes in die land, gevolg deur TB en ander respiratoriese infeksies.

Ten spyte van dié siektes se topposisies vir sterftes in die land het Namibië se besteding aan MIV/vigs as 'n persentasie van die totale gesondheidsbesteding van 30% in 2008 tot 10% gedaal. Besteding aan TB was 2% en malaria 'n skrale 1%. Tans word 47% van die finansiering vir MIV/vigs deur skenkers gedoen, gevolg deur 23% vir TB en 18% vir malaria.

Volgens die verslag beteken dit dat sorg vir dié prioriteitsiektes wat 'n beduidende risiko vir die gesondheid van Namibië se bevolking inhou, grootliks op die skouers van skenkers rus - wat weer 'n risiko vir die volhoubaarheid van dié programme inhou.

Dit verwys voorts na die rol van die private sektor waarvan die bydrae tot die gesondheidsektor relatief laag is in vergelyking met dié van ander lande met soortgelyke bruto binnelandse produk per kapita.

Die verslag sê in Namibië se strewe na Universele Gesondheidsdekking moet die regering die private sektor betrek as 'n moontlike plaaslike bron vir bykomende finansiering en ook om druk op die openbare gesondheidsektor te verlig.

Dit maan voorts huishoudings se uit die sak-besteding (OOP-besteding) moet beheer word - onder meer omdat dit meestal informele werkers en werklose of kwesbare inwoners betrek.

Slegs 18% van Namibiërs word deur die staat se mediese fonds (Psemas) of private fondse gedek, met die oorblywende inwoners wat óf deur die openbare gesondheidstelsel óf met OOP-besteding geholpe moet raak.

OOP-besteding veroorsaak dat huishoudings die volle koste van gesondheidsdienste en –goedere moet dra wat 'n beduidende en potensieel katastrofiese finansiële las veral vir 'n kwesbare deel van die bevolking kan veroorsaak.

Slegs 18% van die totale gesondheidsbesteding is vir primêre gesondheidsorg.

Die verslag sê die toeganklikheid van kritieke dienste in afgeleë gebiede moet verbeter, terwyl oorweging ook geskenk moet word daaraan om 'n groter deel van die ministerie se hulpbronne aan die primêre sorgvlak asook voorkomingsprojekte toe te ken.

Groter finansiering is voorts nodig vir die voorkoming van nie-oordraagbare siektes (NCD).

Die meeste geld word nou aan die behandeling eerder as die voorkoming hiervan bestee.

Ook behoort die gesondheid van moeders 'n groter prioriteit te wees, met Namibië se moedersterftekoers wat op 265 sterftes per 100 000 lewendige geboortes staan.

In terme van neonatale sterftes is Namibië die land met die derde hoogste sterftekoers.

Soortgelyk

 

Kobra saai paniek by konstruksieterrein

6 ure gelede | Omgewing

‘n Agressiewe en beseerde Anchieta-kobra, ook bekend as die Angolese kobra, het vroeër vandag vir paniek gesorg by ‘n konstruksieterrein op Otjiwarongo waar werkers besig...

Kraam buite kliniek - verpleegsters geskors

22 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Twee verpleegsters wat ‘n hoogswanger vrou by die Okuryangava-kliniek glo weggewys het, is in opdrag van die minister van gesondheid en maatskaplike...

Lewenslank vir Suide-verkragters

22 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse...

Schlettwein sê oor TIPEEG, FOCAC

22 ure gelede | Regering

Denver Kisting – In die eerste plek is Namibië se ekonomie besig om aan te pas by ’n nuwe pad van groei nadat dit een...

Weer vir 19 September

22 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal baie tot bloedig warm in die Noorde wees.KUS:...

TransNamib op soek na nuwe direksie

22 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman Die ministerie van werke en vervoer het in 'n openbare kennisgewing aangekondig dat nuwe direksielede vir TransNamib gesoek word. Die huidige direksie se...

Esau: Visvangkwotas kan nie verkoop word

22 ure gelede | Ministeries

Leandrea Louw Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gewaarsku visvangkwotas kan nie verkoop word “om vinnig geld te maak nie”....

Help soek na vermistes

22 ure gelede | Misdaad

Tanja BauseDie Namibiese polisie vra die publiek se hulp in die opsporing van twee vermiste mense. Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert 19:00 verlede Woensdag...

Grond: Wit boere wíl praat

22 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree...