Geslagsgeweld gooi skadu oor feestyd

Misdaad ontwrig vrede en voorspoed

03 January 2019 | Misdaad
Augetto Graig



Die vrede van die Kersseisoen was baie Namibiërs in 2018 ongelukkig nie beskore nie.

Tussen 21 Desember en Nuwejaarsdag is ten minste agt verkragtings by die Namibiese polisie aangemeld.

Op 21 Desember was 'n 39-jarige vrou op Tsjaka in die Gobabis-­distrik op pad huis toe van 'n roudiens af toe 'n 21-jarige man haar glo aan die arm gryp en na 'n verlate plot tot langs 'n leë huis sleep.

Daar het hy haar na wat verneem word aangerand, met 'n skerp voorwerp op haar kop gekap en verkrag.

Die man is in hegtenis geneem en die polisie ondersoek die saak.

Twee dae voor Kersfees, omstreeks 22:30 is 'n swanger vrou (35) glo in die bosse langs die B6-pad in die Kappsfarm-gebied deur 'n man (20) verkrag.

Die slagoffer het na bewering van 'n nabye sjebeen af huis toe gestap toe die voorval gebeur het.

Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisieondersoek gaan voort.

Op 24 Desember, omstreeks 21:00, is 'n vrou (25) na bewering op Ondudu in die Okalongo-kiesafdeling verkrag.

Volgens die polisie het haar 38-jarige ekskêrel, wat glo ook die pa van haar twee kinders is, haar by die plaaslike cuca-winkel uitgedwing, haar geslaan en toe by sy huis verkrag.

Die man is op 26 Desember in ­hegtenis geneem en sou die volgende dag voor die Outapi-landdroshof verskyn.

Verlede Maandag, omstreeks 21:00 , is 'n Namibiese vrou (36) glo by Okakoto in die Okahao-kiesafdeling verkrag.

Die verdagte, 'n 28 jarige Angolese man, het die slagoffer na wat verneem word op pad huis toe gegryp en haar by drie verskillende plekke verkrag.

Die man is vasgetrek en sou ook 27 Desember in die Okahao-landdroshof verskyn.

Op dieselfde dag is 'n vrou (38) glo deur 'n 50-jarige man in Omutumbe by Etunda, in die Ruacana-kiesafdeling, aangerand.

Die man is glo haar kêrel en hulle woon glo saam.

Ná 'n beweerde stryery het die verdagte die slagoffer se voorkop glo ernstig met 'n klip beseer.

Sy is na die Outapi-staatshospitaal geneem.

Die man is in hegtenis geneem en verskyn na verwagting binnekort in die Outapi-landdroshof.



Donker KersDAG

Op Kersdag is ten minste drie verkragtingsake by die polisie aangemeld.

Op Rehoboth is 'n 15-jarige meisie glo tussen 03:00 en 05:00 by Quantum Inn in Blok E verkrag.

Die verdagte is aan die polisie bekend, maar is nog nie in hegtenis geneem nie.

Die man het die meisie glo met 'n SMS na sy kamer gelok, haar koeldrank aangebied en haar verkrag.

Die polisieondersoek duur voort.

Op dieselfde dag is 'n man op die plaas Garib in hegtenis geneem ná hy na bewering 'n 15-jarige meisie van Dordabis af soontoe ontvoer het.

Die verdagte het die meisie glo in die veld op die plaas vasgemaak en elke dag van 21 tot 23 Desember verkrag.

Hy is in hegtenis geneem en sou op 27 Desember voor die Katutura-landdroshof verskyn.

Op Kersaand, omstreeks 20:00, is 'n vrou (22) in die Tsandi-kiesafdeling by die dorpie Olwaandjana glo aangerand, beroof en verkrag.

Die vrou is glo op pad huis toe agtervolg en met 'n mes deur die verdagte aangeval en verkrag voor hy haar selfoon gesteel het.

Die verdagte is in hegtenis geneem.

Op Mondesa aan die kus is me. ­Merceline Gaweses (28) na bewering omstreeks 16:00 op Kersdag deur haar kêrel se dogter (21) by sy huis op Swakopmund uit die huis gedwing ná sy moles gemaak het.

Gawases het glo geval en haar kop teen die sypaadjie gestamp, wat 'n oop wond aan haar agterkop veroorsaak het. Sy is na die Swakopmund-staatshospitaal geneem waar sy op 26 Desember gesterf het.

Verlede Woensdag, omstreeks 02:00, is 'n vrou (27) by Omakuva in die Onesi-kiesafdeling glo deur 'n 22-jarige man verkrag.

Volgens die polisie het hy glo ook N$800 uit haar handsak gesteel.

Die verdagte is in hegtenis geneem en sou al voor die Outapi-landdroshof verskyn het.

In die loop van dieselfde dag is mnr. Willem Rudolf (40) glo op Usakos vermoor.

Volgens die polisie het sy 21-jarige meisie en haar 31-jarige vriendin hom in haar huisie aangerand voor hy in sy eie kamer gaan slaap het en nie weer wakker geword het nie.

Die vroue het sy kamer glo toegesluit en die volgende oggend teruggekeer, vermoedelik om voor te gee hulle het die lyk ontdek.

Hulle is albei op 28 Desember in hegtenis geneem.



Meisies vermis

Op 26 Desember het 'n 13-jarige meisie op die plaas Nauport naby Khorixas vermis geraak.

Natasha Naomi Amufeni het na wat verneem word met haar ma gestry en die huis verlaat.

Haar voetspore is na Khorixas tot by die Bergsig-pad gevolg, waar sy vermoedelik opgelaai is en verdwyn het.

Enigiemand met inligting oor waar sy haarself bevind, kan die Khorixas-polisiekantoor kontak, of vir mnr. Manfred Tjivera by 081 250 7491.

Karinangaro Tjambiru (11) word al sedert 23 Desember van O­koupaue in die Etango-gebied vermis. Sy is glo veld toe om bokke op te pas en het nooit teruggekeer nie.

Enigiemand met inligting kan ook die Khorixas-polisiekantoor kontak.

Soortgelyk

 

Polisie konfiskeer kerk se luidsprekers in Oshakati

1 dag gelede | Plaaslik

Die polisie het luidsprekers wat aan die New Jerusalem Ministry in Oshakati se informele nedersetting Oneshila behoort, vandeesweek ná klagtes van rusverstoring gekonfiskeer.Volgens inspekteur Thomas...

Olifante beskadig optiese kabels naby Khorixas

1 dag gelede | Plaaslik

‘n Trop olifante het inwoners in die Noorde van die land sonder landlyn- en selfoonverbinding gelaat, nadat die optiese kabel tussen Omatjete en Khorixas Donderdagmiddag...

Skietklub lê weer aan

1 dag gelede | Howe

Denver Kisting - Mnr. Norman Tjombe, die regsverteenwoordiger van die Rehoboth-skietklub, het vanoggend (Vrydag) bevestig sake is terug na normaal.Dít kom nadat die Namibiese weermag...

'Boere se veglus verdwyn'

1 dag gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

1 dag gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

1 dag gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

1 dag gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...