Gertze: Geen borg vir nou

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Klag van poging tot moord staar ’n Windhoeker in die gesig ná hy glo verskeie skote die naweek op sy vrou afgevuur het.

Mnr. Franz Gertze (55) sal in ’n latere stadium ’n aansoek om borgtog oorweeg.

Gertze het gister sy eerste verskyning voor landdros Samunzala Linus Samunzala gemaak, ná hy Saterdag in die vroeë oggendure na bewering verskeie skote met ’n geweer op sy vrou, Annitha, in hul huis in Pionierspark afgevuur het.

Hy word ook van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die nalatige afvuur van ’n vuurwapen aangekla. Die eerste twee klagte word met die wet op huishoudelike geweld saamgelees.

’n Merkbaar gespanne Gertze is gister van die Katutura-hospitaal na die landdroshof in Windhoek gebring.

Gertze is laat Sondag in die hospitaal opgeneem en sou aanvanklik in absentia verskyn, maar die polisie het hom hof toe gebring waar ’n groot groep joernaliste hom ingewag het.

Sy linkerhand en –duim was in gips.

Gertze het in die volgepakte hofsaal skaars hoorbaar geantwoord toe die klagte aan hom voorgelees is.

Senior staatsaanklaer Bernadine Bertolini het gevra die saak moet tot 20 Februarie aanstaande jaar uitgestel word omdat ’n verklaring nog by Annitha afgeneem moet word.

Ook moet MTC-rekords verkry word en die hulp van ’n handskrifontleder ingeroep word. Die polisie het ’n selfdoodnota wat na bewering deur Gertze geskryf is, in die gesin se huis in Scheppmannstraat gevind.

Bertolini het borgtog aan Gertze teengestaan omdat sy vrou nog ’n verklaring moet aflê, omdat die vrees bestaan Gertze sal by die ondersoek inmeng en dat hy op die vlug sal slaan.

Gertze se regsverteenwoordiger, mnr. Trevor Brockerhoff, het hierop geantwoord “alle nodige aansoeke sal met verloop van tyd ingedien word”.

Brockerhoff het gister by navraag gesê: “Ons sal ons posisie vir seker oorweeg. Vir nou is daar nie ’n borgtogaansoek nie.”

Hy het ook bevestig Gertze is steeds in die hospitaal.

’n Familielid van Annitha het gister gesê dit gaan goed met haar.

Op ’n vraag hoe dit met die gesin se twee jong kinders gaan, het sy geantwoord: “Die kinders is oukei.”

Volgens die familielid het Annitha reeds twee uit drie operasies ondergaan. Die eerste operasie was op haar een been, terwyl die tweede operasie aan haar maag was. Sy moet glo nog ’n derde operasie op haar ander been ondergaan, wat glo ook in die skietery beseer is.

Volgens ’n bron het Annitha na bewering Saterdag in die vroeë oggendure gelê en slaap toe Gertze die slaapkamer binnestorm en die eerste skoot afvuur, wat haar in die been getref het.

Annitha het glo opgespring en na die egpaar se twee jong kinders se kamer gehardloop, waar ’n tweede skoot haar getref het.

Na wat verneem word het sy een van die egpaar se kinders in haar arms gehad toe Gertze verdere skote op haar afgevuur het.

Gertze het Annitha en die getraumatiseerde kinders na bewering in die motor gelaai en na die Rooms-Katolieke Hospitaal in die hoofstad gebring.

Hier het hy aan polisie vertel hy het ’n inbreker in die huis gehoor.

By nadere ondersoek het die polisie geen teken van inbraak gevind nie en het hulle ’n pistool in Gertze se motor gevind, terwyl ’n selfdoodnota wat glo deur hom geskryf is, in die huis gevind is.

Die egpaar staan na wat verneem word op skei en daar is glo ’n geruime tyd reeds probleme in die huwelik.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!