Gemeenskappe oor miltsiekte gewaarsku

10 October 2017 | Omgewing
Francoise Steynberg - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het vandag in die Nasionale Vergadering bevestig dat plaaslike gemeenskappe in die Noordooste gewaarsku is om nie aan enige karkasse te raak of vleis daarvan te eet nie.

Dit volg ná 109 seekoei- en 20 buffelkarkasse in die vloedvlakte van die Okavangorivier in die Bwabwata Nasionale Park deur natuurbewaarders gevind is wat vermoedelik weens miltsiekte gevrek het.

Shifeta sê die streeksgoewerneur, die streeksraadslid van die Mukwe-kiesafdeling, die gesondheidsdirekteur van die streke van Kavango-Wes en Kavango-Oos, die bestuur van die Elephant Tusk-operasie en die HaMbukushu tradisionele owerheid is van die situasie ingelig.

Die minister sê sy personeel het vanaf 1 tot 7 Oktober hoë mortaliteitsgevalle van seekoeie en buffels in die vloedvlaktes waargeneem, waarna die lugwaarneming op 4 en 7 Oktober plaasgevind het en die totaal op 109 seekoei- en 20 buffelkarkasse getel is.

"Daar word sterk vermoed dat miltsiekte die oorsaak van die vrektes is en dat die lae vlak van die Kavangorivier gelei het dat die antraksbakterie aktief geword wat natuurlik in die omgewing voorkom," het Shifeta gesê.

"Omdat die kwessie 'n staatsgekontroleerde siekte is, val dit onder die mandaat van die ministerie van landbou, water en bosbou en die natuurbewaringskantoor op Rundu het die staatsveearts op die dorp ingelig."

Shifeta sê die staatsveearts het ook aan die lugwaarneming op 7 Oktober deelgeneem. Op 9 Oktober het die staatsveearts monsters na die laboratorium geneem om die presiese oorsaak van die vrektes te bepaal. Daar word steeds monsters geneem.

"Die vernieting van die karkasse het begin en sal voortgaan soos dit prakties is. Personeel van die ministerie van die omgewing en toerisme het tot dusver van net drie karkasse ontslae geraak. Die karkasse is op beide land en in die water," sê die minister.

Hy sê die streekskantoor het die proses begin om beskermende toerusting te verkry vir personeellede wat by hierdie situasie betrokke is en 500 weggooibare maskers is aan personeel gegee.

"Weens die aard van miltsiekte is plaaslike gemeenskappe ter voorkomingsmaatreël gewaarsku om nie aan enige karkasse te raak of enige vleis van dooie wild te eet nie, het Shifeta gesê.

Hy het ook bevestig dat 'n hoëvlak afvaardiging van die ministerie van landbou, water en bosbou Bwabwata môre gaan besoek. 'n Derde mortaliteitstelling per boot word vir Donderdag beplan.

Die seekoeibevolking word op 3 000 beraam en daar is sowat 7 000 buffels. Die bevolking van seekoeie in die westelike gebied van Bwabwata ('n strook van 24 km langs die Okavangorivier) het spesifiek van sowat 384 diere in 2013 tot 539 in 2017 vermeerder, het Shifeta gesê.

Soortgelyk

 

SME hoor in November oor finale likwidasie

1 uur gelede | Howe

Betoë is vandag in die Windhoek-hoërhof gelewer deur regsverteenwoordigers van die Bank of Namibia en twee minderheidsaandeelhouers, die Metropolitan Bank of Zimbabwe en World Eagle...

Man gooi seun met baksteen teen die kop

2 ure gelede | Misdaad

'n Vyftienjarige seun is ernstig beseer en moes vir behandeling na Windhoek oorgeplaas word nadat hy met 'n halwe baksteen teen die kop getref is.Volgens...

Miltsiekte: Baie karkasse al verbrand

5 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeyo Muyunda, het vanoggend bevestig dat meer as 80 karkasse van...

Keelvol studente soek hul geld

18 ure gelede | Onderwys

Augetto GraigStudenteleiers het gister op die Namibië Finansiële Hulpfonds vir Studente (NSFAF) se voorstoep betoog oor geld wat steeds nie aan hulle uitbetaal is nie....

Weer vir 19 Oktober 2017

18 ure gelede | Weer

WAARSKUWING: 'n Koue front word in die suidelike streke verwag. Binneland: Gedeeltelik bewolk en koud tot koel in die Suide, maar warm in die verre...

Routydperk vir Muharukua

18 ure gelede | Mense

'n Nasionale routydperk vanaf vandag tot Saterdag is afgekondig, met vlae wat halfstok sal hang. Die eer word betoon aan me. Angelika Muharukua wat op...

Minderheidsaandeelhouers teen sluiting van die SME Bank

18 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw Senior advokaat Andrew Corbett het gister namens die Bank of Namibia (BoN) die motiewe van die twee Zimbabwiese minderheidsaandeelhouers wat die likwidasie van...

DTA eis skorsing van PS

18 ure gelede | Politiek

Die DTA vra vir die onmiddellike skorsing van die permanente sekretaris van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling en die hoofbestuurder van die Owerheid vir Sake- en...

Aanlyn geldskema oortree wet

18 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer - ’n Nege maande oue geldmaakskema wat aanlyn beleggers se “drome” waar maak deur opbrengste van so hoog as 75% te beloof, oortree...