Geen rekords van dié dag word erken

Atletiek

23 February 2021 | Sport
Andrew Poolman

Vir die land se topatlete was die Khomas Superliga atletiekbyeenkoms ongelukkig niks meer as ’n goeie oefenlopie vir atlete jonk en oud wat vanjaar iewers hul stem wil dik maak nie.

Die uitslae van Saterdag sal geen erkenning dra sover dit nasionale rekords of kwalifisering vir internasionale deelname betref nie.

Die byeenkoms in Windhoek se Onafhanklikheidstadion, gereël deur die Khomas-streekkomitee, het in verskeie opsigte nie voldoen aan die vereistes wat vir die erkenning van nasionale rekords geld nie.

Die 28-jarige Jolene Jacobs en Ernst Narib (30), beide nasionale naelloopkampioene van die afgelope jare, het byvoorbeeld hoë verwagtinge gehad toe resiese oor die ietwat ongewone afstande van 60 meter en 150 meter aangebied is.

Die blitsige Jacobs het byvoorbeeld met ’n persoonlike beste tyd van 17.93 in laasgenoemde item só beïndruk dat die aankondiger oomblikke later die toeskouers ingelig het dat sy so pas die nasionale rekord oortref het.

Met die eerste oogopslag wou dit lyk asof die poging wel ’n nuwe rekord kon wees, omdat geen Namibiese vrouerekord oor dié afstand aangedui word op Atletiek Namibië se rekordlys wat op Wikipedia verskyn nie.

Op sosiale media het ondersteuners ook met genot van Jacobs se prestasie kennis geneem.

Die gesoute atletiekorganiseerder me. Leoni van Rensburg het egter gister gesê die byeenkoms het om verskeie redes geen erkenning vir rekorddoeleindes van die nasionale beheerliggaam, wat geensins by die organisering van die dag betrokke was nie.

Elektroniese tydhouding en windmeting was wel vereistes waaraan Saterdag voldoen is.

“Dit was op sy beste ’n klubkompetisie en nie naastenby op die vlak van byvoorbeeld permitbyeenkomste in Suid-Afrika nie. Die teenwoordigheid van opkikkertoetsing is egter een van die vereistes waaraan nie voldoen is nie. Daar was ook nie gekwalifiseerde baanbeamptes by die wegspring van die naellope nie, asook by items soos hoogspring en die werpitems nie.

“Atlete kan dus die prestasies as hul persoonlike beste tel as hulle wil, maar ek verwag nie dat Atletiek Namibië hieraan erkenning sal gee nie,” sê Van Rensburg, wat ook op die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) se afrigtersvereniging dien.

Jacobs het die 60 meter in 7.19 sekondes afgeblits. Die atleet van Windhoek Gimnasium het haar tevore op dié afstand toegespits en is ook die nasionale binnenshuise rekordhouer in die 60 meter, met vertonings van 7.50 en 7.46 sekondes, onderskeidelik in Amsterdam (Februarie 2018) en Birmingham (Februarie 2020) opgestel.

Dié item is een van die afstande waarin meer as een rekordvertoning aangedui word, om vir faktore soos hoogte bo seespieël of windsterkte voorsiening te maak.

Jacobs is nietemin ooglopend goed op stryk en liefhebbers van atletiek kan uitsien na haar volgende ontmoeting met iemand soos die tienerjarige Beatrice Masilingi, ’n ewe ambisieuse mededinger wat reeds op die randjie van Olimpiese kwalifisering vir Tokio 2021 gedraai het.

Ernst Narib, wat ook by die organisering van die byeenkoms betrokke was, het sy spoed uitgestal toe hy die 100 meter in 10.29 sekondes gewen het (windspoed 2.2 m/s), met Even Tjiviju tweede in 10.33, Sydney Kamuaruuma derde (10.41) en Elvis Gaseb vierde (10.41).

Narib – ’n naelloper met uitsonderlike uithouvermoë en bestendigheid – was ook in die 150 meter baas toe hy in 15.47 teen Gilbert Hainuca (15.64) gewen het. In die 200 meter was Narib se wentyd 21.22, teenoor Elvis Gaseb van Namib Lions se 21.85.

In die hoogspring vir mans was Emmanuel Samuntu die enigste inskrywing, maar hy het sy beste gegee en nietemin tot ’n respektabele hoogte van 1.90 meter gevorder.

Nog ’n uniekheid van Saterdag se byeenkoms was dat nie net senior atlete nie, maar ook juniors in verskeie ouderdomsgroepe meegeding het.

Vir toeskouers was die ongesnyde gras wat op een helfte van die veld kniehoogte gestaan het, ook ’n onooglikheid wat afbreuk aan die aansien van die reëlings gedoen het.

JUNIORS

Die 17-jarige Ryk Erasmus van QSB-klub was op stryk met wentye van 16.66 in die 150, asook ’n 38.41 in die 300 meter.

Lea Prinsloo (17 jaar, Edugate) was tops in die 60 meter (7.85 s), maar in die 150 meter is sy deur Windhoek Gimnasium se Desire Moolman (19.11) geklop. Moolman het die 300 meter ook in 42.03 gewen.

Triomf-klub se 17-jarige Alessandra Kaura het in die verspring belofte getoon met ’n wenpoging van 5.34 meter.

Windhoek Gimnasium se Leane Boshoff (15) was sterk in die diskusgooi (40.45 meter).

VOLGENDE?

Sover bekend het Atletiek Namibië tans nog geen bevestigde datums vir sy volgende groot byeenkoms nie, in afwagting op die staatshoof se aankondiging van die nuutste regulasies teen Covid-19.

Beperkings soos die getal toeskouers wat sportbyeenkomste mag bywoon, of dat dit nie langer as twee ure mag aanhou nie, steek tans ’n stokkie voor die aanbieding van talle geleenthede.

Op skolevlak toon die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se atletiekprogram aan dat streekbyeenkomste vroeg in aanstaande maand sal begin.

Soortgelyk

 

Vrou woon in haar motor by hospitaal

6 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

6 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

6 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

6 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

6 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

6 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...

'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

6 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS)...

#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

6 ure gelede |

Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal...

‘Geen personeel betrokke by stropery’

6 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat geen van sy personeel by wildstropery betrokke was nie en stropery het...