Geen keuse – ons bly positief, sê Handura

Rolspelers in Namibiese hokkie hou steeds nabetragting oor die afgelope week se deelname aan die Afrika-kampioenskap.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Dit was frustrerend om die Namibiese vrouespan se gesukkel by die afgelope Africa Hockey Road to Tokyo 2020-toernooi – die laaste kans vir Olimpiese kwalifisering – te aanskou, het afrigter Erwin Handura in ’n boodskap aan die plaaslike media erken.

Ondanks die hoë verwagtinge vooraf, moes Handura daarop terugval dat die afgelope toernooi “weer ’n goeie goeie leerervaring” vir die span was. Nederlae teen Kenia (0-1), Suid-Afrika (0-5), Ghana (0-3) en Zimbabwe (2-3) het Namibië in die laaste posisie laat eindig, terwyl Suid-Afrika as die onoorwonne vrouekampioen uit die stryd getree het.

Handura sê: “Ons is ’n hoër gerekende span as Kenia en het die wedstryd oorheers, maar ons afronding van geleenthede voor die doelkas het ons opnuut in die steek gelaat.

“In die wedstryd teen Ghana het ons tien hoekhoue gehad, maar kon nie een keer die bal in die doelhok plaas nie.”

Handura reken die feit dat selfs die senior lede van sy groep wat in Namibië gebaseer is, vooraf feitlik geen kompeterende veldhokkie gespeel het nie, was deel van die planne wat skeefgeloop het.

“Jou nasionale span kan net so sterk wees as jou nasionale liga. Hoe verwag jy om sonder ’n nasionale liga ’n sterk nasionale span te hê? Ideaal gesproke behoort spelers week ná week ligawedstryde te speel en dan op grond van hul skerpheid vir die nasionale groep gekies te word, maar in teenstelling hiermee moes ons by die nasionale groep hulle met vriendskaplike wedstryde probeer skerp hou. Dit terwyl die helfte van die spanlede hul hokkie in Suid-Afrika speel.”

Handura sê van Namibië se beste spelers in die afgelope toernooi was waarskynlik die jonger garde wat uit die skoleliga kom, waar sommiges omtrent 30 wedstryde dié seisoen vir hul skoolspan gespeel het.

“In die afwesigheid van ’n nasionale klubliga het ons nie goed gevaar nie. Ons het ook net minder as twee weke gehad om die span saam te snoer en kombinasies te toets vandat die spelers uit Suid-Afrika kon aansluit by die plaaslike groep, van wie verskeie werkende amateurspelers is.

“Dit was frustrerend om te sien hoedat ons geleenthede op die aanval skep, wat dan voor die doelkas verlore gaan.”

Die afrigter sê ’n volgende program van nege maande sal in September begin, ter voorbereiding op die binnenshuise Afrika-bekertoernooi wat volgende jaar in Mei of Junie voorlê.

“Die spelers weet ons moet maar net ons koppe optel en aanhou om hard te werk. Ons kan nie bekostig om nou negatiewe denke te laat posvat nie.

“Ons was die beter span op die baan teen Zimbabwe, teen Kenia en teen Ghana, maar ons kon nie doele behaal nie. Daar is positiewe aspekte en lesse wat ons uit die afgelope week kan neem. Ons kyk vorentoe en bly positief om Namibië as ’n hokkieland verder te ontwikkel.”

MANS

’n Welverdiende troosprys vir die Namibiese manspan was dat onderkaptein DJ Strauss die toekenning as die beste doelwagter uit die vyf spanne in die toernooi ontvang het.

’n Gelykopwedstryd teen Zimbabwe (2-2) was die naaste dat afrigter Trevor Cormack se manspan aan ’n oorwinning gekom het.

Strauss, die 28-jarige veteraan van DTS-hokkieklub in Windhoek, se vertonings voor die doelhok het hom nietemin individuele erkenning besorg.

“Ek is baie trots en dankbaar. Om as die beste doelwagter in Afrika vereer te word, is ongelooflik. Ek het dit reeds in binnenshuise hokkie reggekry en om dit oko in veldhokkie te vermag, was ’n persoonlike mikpunt.

“In die geheel voel ek tevrede met wat ons buitengewoon jong span reggekry het. Agt van ons spelers is 18 jaar of jonger en ons tweede doelwagter, Richter van Rooyen, is net vyftien.
“Ja, ons sou graag teen spanne soos Ghana, Kenia en Zimbabwe beter uitslae wou behaal, maar die vordering wat ons span oor die laaste vyf jaar gewys het, is merkwaardig.

“Op só ’n jong ouderdom sal die afgelope week se ondervinding bitter baie vir die span beteken.”

Die manskampioenskap is deur Suid-Afrika ingepalm, wat in die beslissende wedstryd teen Egipte met 3-2 die knoop deurgehaak het.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!