Geen afdankings, belowe nywerheidsagentskap
Geen afdankings, belowe nywerheidsagentskap

Geen afdankings, belowe nywerheidsagentskap

Nida neem sowat N$2 miljard se bates by die ontbinde ODC en NDC oor.
Ogone Thlage
Ogone Tlhage - Die hoof van die nuut gevestigde agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida), mnr. Uparura Kuvare, sê nie een van die werknemers van die voormalige Offshore Development Company (ODC) en die Namibiese Ontwikkelingskorporasie (NDC) gaan hul werk verloor nie.

Dié twee instansies het met die vestiging van Nida verlede jaar oorbodig geraak.

Volgens Kuvare vervang Nida albei instansies en het dié agentskap hul funksies, bates, laste en verpligtinge oorgeneem.

Onlangs is berig afdankings is moont­lik weens 'n geskil onder nuwe Nida-raadslede oor tekenregte.

Die geskil het ook kommer gewek oor die betaling van salarisse vir Januarie.

Die raad bestaan uit Kuvare, mnr. Frans Kwala as voorsitter, mee. Marcelina !Gaoses, Diana van Schalkwyk, Anita /Naris en mnre. Job Muniaro en Hans Jochelson.

Kuvare het egter verseker ODC- en NDC-werknemers is aan boord gebring.

Hy sê 'n organogram van die agentskap sal binnekort saamgestel word om sake uiteen te sit.

Voorbereiding word tans getref om die oorname te behartig, waarvoor stappe duidelik in die Nida-wet uiteengesit is, sê Kuvare.

Hy het bygevoeg die raad se benadering is om dié proses met toewyding en sensitiwiteit te voltooi, en aan die vereistes van die betrokke wette te voldoen.

“Die Nida-wet skryf aan ons voor wat om te doen en ons sal geen toegewings maak nie,” het hy gesê.

Volgens Kuvare is die nuwe raad bloot besig om “'n raamwerk vir bestuur” op te stel.

“Daar is interne sake wat opgelos moet word; dit is baie sensitief,” het hy gesê.

Altesaam 294 werknemers word deur die oordrag van bates en laste geraak. Kuvare het verseker alle werknemers sal dieselfde behandel word.

Hy het gesê die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, mnr. Tjekero Tweya, het bepaal die NDC en ODC se werksaamhede en verantwoordelikhede sou teen 15 November 2018 deur Nida oorgeneem word. “Dit is in die Staatskoerant bekend gemaak dat Nida van daardie datum af alle bates, laste en verpligtinge­ van die NDC en ODC sou oorneem,” het hy gesê.

Hy het gesê dis vreemd dat tekenregte steeds nie deel van Nida se verantwoordelikhede is nie.

“Ons het kennis gegee ons verander name en ondertekenaars. In geen stadium is fondse onttrek nie, en proses­se word versterk. Ons is gemagtig om daardie bates oor te neem,” het hy gesê.

Nida se bates beloop glo sowat N$2 miljard, sê Kuvare.

Dit sluit verskeie plase, besigheidsparke, ontwikkelingsentrums en toerisme-ondernemings in, het hy gesê.

Intussen is Nida se raad besig om 'n uitvoerende komitee aan te stel.

“Ons wil hierdie proses bespoedig en het 'n bloudruk gefinaliseer sodat 'n grondslag reeds vir die nuwe span gelê is. Ek is net vir 'n kort tydjie hier; dit is 'n sekondering,” het hy gesê.

Nida se vestiging is reeds in 2015 deur die kabinet goedgekeur, met die insluiting van die NDC- en ODC-rade, om verteenwoordiging van ministeries, regeringsagentskappe en die private sektor moontlik te maak.

Nida moet 'n bedryfsinkomste genereer deur middel van die bestuur en toepassing van regeringsprojekte, besigheidsinfrastruktuur ontwikkel, en verantwoordelikheid vir landbouproduksie en finansiering neem.

Nida sal ook, in samewerking met openbare en private vennote, in kernprojekte belê.

NDC is deur die Namibiese Ontwikkelingskorporasie van 1993 gestig, en die ODC is volgens die bepalings van artikel 26 van die Wet op Uitvoerverwerkingsones (EPZ) van 1995 op die been gebring. Die ODC het 'n mandaat gehad om beleggingsgeleenthede binne EPZ-sones te bemark en bevorder, en om aktiwiteite met betrekking tot EPZ-sones te monitor en koördineer.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!