Furnmart-staking sleep voort

Honderde werkers lê tuig neer

14 June 2019 | Sakenuus
Augetto Graig - Die landswye staking van Furnmart- en Home Corp-werkers wat aan die Metaal- en Verwante- Namibiese Werkersunie (Manwu) behoort, sleep steeds voort.

Die staking het op 1 Junie begin.

Me. Justina Jonas, Manwu se algemene sekretaris, het Dinsdag gesê meer as 280 werkers by winkels aan die kus, in die Noorde en in die hoofstad neem aan die wettige staking deel.

Die werkers eis beter vergoeding en voordele van die meubel- en huishoudelike ware-kettingwinkelgroep.

Volgens Jonas het Furnmart in die verlede geen vakbond in Namibië erken nie.

Sy sê onderhandelinge tussen Manwu en die maatskappy oor jaarlikse salarisverhogings verlede week was nie suksesvol nie.

“Sedert laas jaar bied hulle 6% aan, en dit net vir die werkers wat nie kommissie verdien nie. Hulle het dit ook reeds toegepas. Van die werkers kry dit, en van hulle nie. Tipies van verdeel en oorheers . . .” het sy gesê.

Jonas het gesê die gemiddelde maandelikse vergoeding by Furnmart en sy filiaal Home Corp is N$2 500, terwyl verkoopspersoneel sowat N$3 500 ’n maand verdien – sonder voordele.

“Daar is ook mense wat selfs minder verdien,” het sy gesê.

“Dít by ’n besigheid waarvan die wins verlede jaar met 67% gestyg het,” sê sy.

Volgens die vakbondleier het hulle verlede week twee opsies aan Furnmart se bestuur voorgelê.

Die eerste opsie behels die aanvaarding van ’n 6%-verhoging met die byvoeging van ’n vervoertoelaag gebaseer op tariewe van die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta), of N$567 per maand.

Opsie twee behels ’n algemene verhoging van 8% en ’n N$400-vervoertoelaag per maand, het Jonas voorgestel.

“Furnmart voel te hel met julle. Dit is ’n klap in die gesig vir die werkers,” het sy gesê.

Manwu se adjunk- algemene sekretaris, mnr. Enwich Tuvatera Kazondu, het gesê: “Onderhandelinge behels gee en neem. Tot dusver is dit net ons wat gee en hulle wat neem. Vir ons is dit ’n belediging. Hulle onderhandel nie met ons nie. Hulle het geen sodanige bedoeling soos dinge nou lyk nie.”

Jonas sê 338 werkers was ten gunste van die staking en sowat 85% van dié werkers neem daagliks daaraan deel.

“Die mense van Furnmart dreig en intimideer die werkers,” het sy gesê.

“Die werkers binne is bang om uit te kom. Manwu is ’n organisasie met beginsels en ons wil die boodskap duidelik maak: Kom uit, kom uit. Hierdie staking word deur die wet beskerm.

“Julle het ’n verpligting. Ons doen dit nie vir ons nie, maar vir ons kinders en die toekomsgeslag. Kom in groot getalle en plaas druk op Furnmart,” het sy gesê.

“Ons weet van takke soos Lüderitz waar mense bang is. Staan op vir jouself, niemand kan vir jou opstaan nie. Laat die winkels sluit. Kom ons neem eienaarskap van die staking waarvoor julle gestem het,” het sy gesê.

Jonas sê sy kan nie voorspel hoe onderhandelinge verder sal verloop nie.

“Hulle het gesê hulle kan ons niks bied nie. Ons het gevra vir hul boeke om self te sien hulle kan nie betaal nie, maar hulle weier volstrek.

“Ons maak staat op die kantoor van die arbeidskommissaris, wat die saak ondersoek. Miskien onderhandel hulle in die donker met spoke, maar nie met ons nie,” het sy gesê.

Volgens Jonas is Furnmart en Home Corp van Botswana af, waar hul werknemers ook nie vakbondverteenwoordiging het nie.

Sy sê kommunikasie met die groep se topbestuur in die buurland is ’n stryd.

Die groep se plaaslike bestuur wou geen kommentaar lewer nie.

Furnmart het vroeër vanjaar aan Botswana se aandelebeurs onttrek.

Die groep, wat in 2018 ’n wins van meer as N$143 miljoen gemaak het, spog met 33 Furnmart-winkels in Namibië, 36 in Suid-Afrika en 49 in Botswana.

Home Corp in Namibië het winkels op Swakopmund en in Windhoek.

Soortgelyk

 

Omkeerpunt vir Meatco

16 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Meatco het die afgelope boekjaar sy totale verliese met N$33 miljoen gesny en het boonop daarin geslaag om sy gemiddelde produsenteprys met...

Honde, katte, kinders, sushi en goeie harte

16 ure gelede | Omgewing

Tanja Bause - Die niewinsgewende organisasie Have-a-Heart op Walvisbaai het onlangs in samewerking met Mobile Animal Clinic Namibia 'n baie suksesvolle sterilisasie- en kastrasieveldtog onderneem....

Lubowski ‘krabbel terug’

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Mnr. Sisa Namandje, pres. Hage Geingob se prokureur, sê me. Gabrielle Lubowski skrabbel terug nadat sy vroeër die staatshoof glo valslik beskuldig...

Blowing the whistle

16 ure gelede | Mense

Justicia Shipena Tamara !Gaoses is the first internationally recognised female 3x3 basketball referee in the country and this qualification allowed her to officiate...

LPM betreur Operasie Kalahariwoestyn

16 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman – Die Landless People’s Movement (LPM) het sy stem by die toenemende druk gevoeg dat die regering lede van die Namibiese weermag (NDF)...

Weer vir 25 Junie 2019

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en matig tot warm in die Suide. Elders sal dit sonnig en warm wees, maar baie warm in die Noorde. KUS:...

Hilton Hotel 7de keer beste in Namibië

16 ure gelede | Toerisme

Vir die sewende agtereenvolgende jaar het die Hilton Hotel in Windhoek met die World Travel-toekenning vir 2019 as die beste hotel in Namibië weggestap. “Ek...

CoW-drama kry tweede asem

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Sodra sy tugverhoor afgehandel is, kan die stadsraad besluit of strafregtelike klagte ook teen mnr. Robert Kahimise, Windhoek se uitvoerende hoof, gelê...

Kalahariwoestyn-slagoffer se lyk op lorrie

16 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – Talle Namibiërs is woedend omdat mnr. Fambauone Black (22) se oorskot die afgelope Saterdag agter op ’n lorrie terug Zimbabwe toe vervoer...