Fortnite verjaar en dís wat jy moet weet

Petrus Malherbe – Die videospeletjie verjaar en die meer as 125 miljoen mense wêreldwyd wat in dié speletjie belang stel, kan nou spesiale “verjaardaguitdagings” geniet.

Dit sluit uitdagings in soos dat jy voor tien verjaardagkoeke moet dans, 1 000 punte skade aan jou vyande moet aanrig en 14 speletjies moet speel. As beloning kan jy 5 000 XP (ervaringspunte) wen, en ook ’n nuwe agtergrond met ’n verjaardagkoektema daarop.

Fortnite, wat as een van die verslawendste speletjies tot dusver beskryf word, is deur Epic Games ontwikkel.

Nadat Epic Games ’n weergawe daarvan vir Nintendo se Switch bekend gestel het, is dit binne net 24 uur meer as 2 miljoen keer afgelaai.

Daar word gereken dat die getal spelers op die verskillende platforms, wat buiten iPhone en Switch ook Android-fone, Windows- en Mac-rekenaars, PlayStation 4 en Xbox One insluit, reeds meer as 125 miljoen beloop.

Hoewel dit nog nie die stormloop beleef van Pokémon Go ’n paar jaar gelede nie, is dit sterk op pad. (Pokémon Go is 800 miljoen keer afgelaai, maar net nagenoeg 5 miljoen spelers volhard daarmee.)

As jy egter steeds kopkrap oor wat presies Fortnite is en waarom soveel mense dit speel, hier is ’n kort opsomming van wat jy moet weet.

Wat is Fortnite?

Fortnite is ’n videospeletjie waarin die speler moet oorleef in ’n wêreld waar ’n storm 98% van die samelewing uitgewis het.

Almal wat die aanvanklike storm oorleef het, word nou gejag deur ’n bloeddorstige groep honger zombies.

Spelers kan óf probeer om self van die zombies te ontsnap óf daar kan oor die internet met ander spelers kragte saamgesnoer word om te sien wie kan die langste bly lewe.

In kort is dit soos The Hunger Games, maar met meer zombies.

Hoewel die speletjie bemark word vir tieners en derhalwe ’n ouderdomsbeperking van 12 dra, is dit baie gewelddadig.

Waar kom die manie daaroor vandaan?

Die eerste speletjie in die reeks, Fortnite: Save the World, is in Julie 2017 uitgereik. Elke speler kon uit ’n magdom verskillende karakters kies, elkeen met sy of haar eie persoonlikheid en sterkpunte.

Kort voor lank het ’n gemeenskap van Fortnite-spelers kragte begin saamsnoer om die zombies wat die wêreld oorgeneem het te beveg.

Hoe meer jy speel, hoe meer punte versamel jy wat jou karakter toelaat om beter wapens en ander bykomstighede te “koop”.

Soos wat die spelers verbeter en meer zombies doodmaak, raak die speletjie ook al hoe moeiliker.

So waaroor is die bohaai?

Hoewel Fortnite: Save the World reeds ’n tamaai sukses was, het dinge behoorlik ontplof met die uitreiking van Fortnite Battle Royale in September verlede jaar.

Epic Games het dit as ’n heeltemal afsonderlike speletjie uitgereik, en boonop gratis gemaak. Dit kan ook op verskeie platforms gespeel word, insluitend slimfone en die Nintendo Switch.

In Battle Royale, wat ruiterlik op The Hunger Games geskoei is, word spelers gelos in die middel van ’n onbekende wêreld. Spelers moet alliansies vorm en saam teen die vyand baklei totdat daar uiteindelik net een speler of een span staande bly.

Hoewel die speletjie gratis is om te speel, kan spelers sogenaamde V-bucks, die speletjie se eie geldeenheid, koop.

Daarmee kan nuwe uitrustings, gereedskap of wapens aangeskaf word wat jou ’n voordeel bo jou opponent gee.

1 000 V-Bucks kos sowat R130.

Kan ek keer dat my kind dit te veel speel?

Dit sal alles afhang van die platform waarop hulle speel. Op die Xbox, PlayStation en Switch kan ouers beheermaatreëls instel wat spel kan beperk tot, byvoorbeeld, 90 minute per dag. Sodra dié limiet bereik word, sal die speletjie stop.

Op ander platforms, soos ’n iPhone, iPad of rekenaar, is daar nie veel salf aan te smeer buiten om vir Boetman te smeek om nou te kom aandete eet nie.

Terloops, die gemiddelde kragmeting in Fortnite duur omtrent 20 minute. So dalk kan jy en jou bloedjies tot ’n vergelyk kom en sê speeltyd is verby sodra die kragmeting waarmee hulle besig is, klaar is.

Moet ek bekommerd wees as my kind dit baie speel?

Hoewel spelers in Fortnite ’n verskeidenheid wapens, insluitend gewere, gebruik, is die geweld nie enigsins bloedig nie. Dit is byvoorbeeld glad nie so gewelddadig soos Call of Duty nie.

Ouers moet egter daarop let dat Fortnite verslawend kan raak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in Januarie die oormatige speel van elektroniese speletjies as een van sy amptelike geestestoornisse gelys.

Volgens die WGO word dié spesifieke geestestoornis gesien as ’n “patroon van aanhoudende of herhalende speelgedrag” en dat mense wat hieraan ly die risiko van ’n “beduidende inkorting” in hul persoonlike, gesins-, sosiale, en opvoedkundige lewe loop.

Daarom raai sielkundiges ouers aan om maar altyd perke in te stel op die hoeveelheid tyd wat kinders voor skerms spandeer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!