Fietsongeluk: Mercedes-man in hof

Andrew Poolman
Andrew Poolman en Lloyd Zandberg – Die 41-jarige mnr. Paulus Kambata het gisteroggend in die Windhoekse landdroshof verskyn ná hy Maandagaand in hegtenis geneem is in verband met die noodlottige tref-en-trap-ongeluk op die westelike verbypad waarin die fietsryer me. Ingrid van Wyk Scholtz (38) gesterf het.

Kambata het Vrydagaand glo die swart Mercedes bestuur toe Scholtz op haar fiets binne die geel sperstreep van agter gestamp is.

Ná die aanvanklike berigte dat Scholtz deur ’n taxi gestamp is, het die betrokke taxidrywer die polisie genader en op die spoor van die swart Mercedes geplaas, wat hom aan die linkerkant verbygesteek het en glo ná die botsing weggejaag het.

Kambata, wat Maandagaand by sy huis in hegtenis geneem is, staan op ses klagte tereg, wat die hoofklag van strafbare manslag insluit.

Die ander klagte wat landdros Linus Samunzala aan hom voorgelees het, is roekelose bestuur, die versuim om by ’n ongelukstoneel stil te hou, die versuim om hulp aan ’n beseerde/s by ’n ongelukstoneel te verleen, regsverydeling en die versuim om ’n ongeluk aan te meld.

Kambata het aangedui hy sal van private regsverteenwoordiging gebruik maak en hy was reeds met sy regsman in verbinding.

Hy het gesê hy sal nie meer as ’n dag of twee nodig hê om sy regsverteenwoordiging gereed te kry nie.

Hy bly in aanhouding tot ’n formele borgtogaansoek ingedien word. Die moontlikheid dat hy direk of indirek met die ondersoek kan inmeng of op die vlug kan slaan, is deur die aanklaer uitgewys, asook die erns van die klagte teen hom.

Die saak is tot 20 Februarie 2020 vir die afhandeling van regsverteenwoordiging, asook vir verdere ondersoek uitgestel, wat die insameling van die forensiese verslag, die nadoodse ondersoek en die ooggetuieverslae insluit.

Scholtz was jare lank ’n stadsbeplanner en vennoot by Stubenrauch Planning Consultants.

Sy was ook ’n ywerige fietsryer wat die Desert Dash ultrawedren van Windhoek na Swakopmund as soloryer aangedurf het.

’n Roudiens word Vrydag om 19:00 by die VGK kerk in Khomasdal gehou. Die begrafnisdiens is Saterdag om 09:00, ook by die VGK kerk.

‘Dit kan nie waar wees nie’

Scholtz se jare lange vriendin, me. Connie-Marlene Theyse, sê: “My eerste reaksie was dat dit nie kan waar wees nie. Dan staan jy langs die pad waar dit gebeur het en besef dis die werklikheid. My hart het in stukke gebreek en ek sukkel om dit in my kop te kry.”

Theyse en Scholtz het gereeld saam fiets gery en weekliks ’n spinning-klas bygewoon.

“Sy het so ’n mooi hart gehad en sy wou net altyd die beste in almal uitbring. As Ingrid haar kop op iets gesit het, het sy dit gedoen.

“Al kon sy in ’n stadium tydens die Nedbank Desert Dash nie meer behoorlik sien nie, het sy aangehou en voortgery. Sy het gesê ‘ek kan die pienk en geel van jul windbaadjies sien, ry net stadig voor my’. Ons het haar almal moed ingepraat. Na ’n hele ent het ons gevra dat ’n bystandvoertuig haar oplaai omdat sy net nie meer kon nie.”

Scholtz het baie mense se lewens geraak – nie net in die fietsrygemeenskap nie, sê Theyse.

Sy sê niemand is veilig op Namibië se paaie nie.

“Daar is nie ’n fietsryer wat nog nie ‘n benoude oomblik op die pad met ’n motor gehad het nie. Ons vra dat ons ook net in ag geneem word.”

- [email protected], [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!