Federer sneuwel in Griekse tragedie
Tennis
Christo Buchner - Roger Federer het hom gister midde-in 'n Griekse tragedie bevind toe die 20-jarige Stefanos Tsitsipas hom in die vierde ronde van die Australiese Ope in Melbourne met 6-7 (11/13), 7-6 (7/3), 7-5, 7-6 (7/5) verslaan het en sodoende die Switser se droom verydel het om dié titel vir die sewende keer te wen.
Die 14de gekeurde Griek het in ongeloof gestaar toe Federer ná byna vier uur se spel 'n moeë hou in die onderkant van die net vasgeslaan het om Tsitsipas die grootste sege van sy indrukwekkende jong tennisloopbaan te besorg.
“Ek is die gelukkigste man op aarde,” het 'n steeds sigbaar geskokte Tsitsipas ná sy sege gesê.
“Roger is 'n legende van ons sport en ek het soveel respek vir hom. Dit was 'n droom van my om hier in die Rod Laver-arena teen hom te kon speel, wat nog te sê hom klop. Ek kan nie beskryf hoe dit voel om hom te klop nie,” het hy gesê.
Tsitsipas het net een keer in die hele wedstryd op Federer se afslaan deurgebreek. Dit was in die 12de pot van die derde stel, toe die derde gekeurde Switser 'n handrughou teen die net laat beland het.
Tot in daardie stadium het Federer reeds 12 breekpunte gehad, maar kon nie een in 'n deurbraak omskep nie.
Dit was uiteindelik die Switserse meester se ondergang dat hy soveel kanse verbrou het. Op elk van die breekpunte teen hom het die jong Griek 'n antwoord gehad en dit met groot vasbeslotenheid afgeweer.
Die wedstryd wat vir hom so skouspelagtig geëindig het, het op 'n vals noot begin toe hy sommer al in die eerste afslaanpot twee waarskuwings oor tydvermorsing ontvang het.
“Ja, dit was ontwrigtend,” het hy erken, “maar ek het deurgaans met 'n aggressiewe ingesteldheid gespeel en besluit ek sal tot die einde veg. Ek het ook nie my geduld verloor nie.”
In die meeste houverwisselings van die agterbaan af het Tsitsipas staande gebly teen sy 37-jarige teenstander.
Toe Federer die Wimbledon-titel vir die eerste keer gewen het, was Tsitsipas maar vier jaar oud, en toe Federer as beroepstennispeler gedebuteer het, was hy nog nie eens gebore nie, maar sy gebrek aan ervaring vergeleke met Federer s'n was by tye skaars sigbaar.
Tsitsipas het Federer by tye ontsenu deur sy spel goed af te wissel en veral by die net koning te kraai. Nie sedert die dae van uitstekende netbestormers soos John McEnroe, Boris Becker en Stefan Edberg was daar 'n speler wat so vaardig by die net gelyk het soos Tsitsipas gister nie.
Al het hy die eerste stel in net minder as 'n uur naelskraap verloor, het dit die jong Griek nie van stryk gebring nie en hy het net harder geveg.
Federer kon net nie sy weerstand knak nie en moes later selfs van allerlei valhoutjies gebruik maak om punte te wen. Selfs sy vernaamste wapen, sy voorarmhou, het losgetorring onder die druk wat die bossiekop van Athene op hom geplaas het.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie