Eskom nie u00e1l speek in SA ekonomie se wiel
Eskom nie u00e1l speek in SA ekonomie se wiel

Eskom nie ál speek in SA ekonomie se wiel

Hoe meer die VSA en China se ekonomiese groei aan bande gelê word deur die oor-en-weer- vergeldende tariefheffings, hoe meer sal die buurland se uitvoere ook benadeel word.
Christo Luüs – Daar is toenemende kommer oor die ekonomiese impak van die handelsoorlog tussen die VSA en China – en ook Suid-Afrika sal nie daarvan kan ontsnap nie.

Die meeste goedere wat tussen die VSA en China verhandel, kan in die tweede kwartaal van vanjaar aan tariewe onderwerp word. Die proses het reeds in 2018 begin in ’n poging om ekonomiese en politieke druk op mekaar toe te pas.

Die dispuut het ’n jaar gelede aansienlik geëskaleer ná ’n ondersoek na Chinese praktyke ten opsigte van intellektuele eiendom en tegnologiese oordrag. Teen Augustus verlede jaar het die VSA reeds tariewe van 25% op $50 miljard se Chinese goedere gehef wat na die VSA ingevoer word. Hierdie tariewe teiken veral die “Made in China 2025”-produkte wat ten doel het om China as ’n wêreldmag te vestig in die vervaardiging van gevorderde tegnologiese produkte.

China het op sy beurt tariewe van 25% begin hef op Amerikaanse produkte soos sojabone, motors en whisky – alles produkte van kernnywerhede in ’n hele aantal Republikeinse deelstate.

In September 2018 het die VSA ook ’n 10%-heffing begin plaas op ’n verdere $200 miljard se ingevoerde goedere van China, waarop China geantwoord het met tariewe van tussen 5% en 15% op Amerikaanse invoergoedere ter waarde van $60 miljard.

Die oor-en-weer- vergeldende stappe het nie gehelp om die handelsoorlog te stuit nie – inteendeel, dit het net meegehelp om die politieke welwillendheid wat nog bestaan het, weg te kalwe.

Op die G20-vergadering in Desember verlede jaar in Argentinië het pres. Donald Trump van die VSA en pres. Xi Jinping van China op ’n tydelike skietstilstand in die handelsoorlog ooreengekom. Die onderhandelinge het egter nie betekenisvolle deurbrake tot gevolg gehad nie en het ook nie bestaande tariewe geskrap of verlaag nie. Dit het wel die VSA se planne om tariewe op nog $200 miljard se Chinese invoergoedere, wat vir Januarie 2019 beplan was, vir 90 dae uit te stel.

Intussen sou die twee lande verdere onderhandelinge voer ten einde ’n oplossing vir hul handelsdispute te vind. Tot dusver was daar egter min vordering en ’n beraad wat in Maart sou plaasvind, is nou tot April (of selfs later) uitgestel.

The New York Times berig hoewel baie dinge nog onseker is, word een ding duidelik: Die Trump-administrasie sal die dreigement van tariewe oor China se kop hou om te verseker dat hy wat ook al hy belowe in die finale ooreenkoms eerbiedig. Dit veroorsaak kommer by Amerikaanse ondernemings dat die ekonomiese skade en onsekerheid wat deur die handelsoorlog geskep word, kan voortduur selfs nadat ’n ooreenkoms bereik is.

Die VSA stel taamlik drastiese maatreëls voor om die handelsdispuut te beëindig. Dit sluit in die aansienlike vermindering van die VSA se handelstekort met China, sowel as die verslapping of skrapping van tegnologie-oordrag-vereistes vir Amerikaanse maatskappye wat in China bedrywig is.

Die toekoms van innovering in kerngebiede soos 5G- mobiele netwerke en kunsmatige intelligensie, is van kardinale belang vir albei lande – vir sowel ekonomiese as militêre oorwegings. Die leidende moondheid op hierdie gebiede sal ’n aansienlik strategiese voorsprong opbou in die jare wat kom. Dit verklaar in ’n groot mate die belangrikheid van die vaslegging van internasionale handels- en investeringsreëls in die dispuut.

Die VSA se aandrang op ’n bilaterale verdrag met China verminder die moontlikheid dat ’n formele of informele koalisie met ander lande gevorm kan word wat soortgelyke sentimente as die VSA oor Chinese handelspraktyke het. Dit kon dalk ’n belangrike deurbraak gewees het om China se houding aansienlik te versag.

’n Verslag van die VSA se handelskamer en die navorsingsgroep die Rhodium-groep, wys die sektore wat veronderstel is om voordeel uit die invoertariewe te trek word in der waarheid benadeel. Dit kalwe die mededingendheid van die VSA se inligtingstegnologiesektor weg.

In die verslag word ook geraam dat die VSA se bruto binnelandse produk (BBP) met $1 000 miljard kan verminder oor die volgende tien jaar as die handelsoorlog met China sou voortduur. In 2018 was die VSA se BBP $20 500 miljard.

In die mate dat die VSA en China se ekonomiese groei aan bande gelê word deur die oor-en-weer- vergeldende tariefheffings, sal Suid-Afrika se uitvoer ook benadeel word. Europese groei wat begin taan en die onsekerheid wat deur Brexit geskep word, plaas ’n verdere demper op ons land se uitvoer-vooruitsigte.

Tesame met die Eskom-fiasko, wat produksie, investering, werkskepping en produktiwiteit ernstig benadeel, lyk die aanvanklik meer belowende ekonomiese vooruitsigte vir 2019 vergeleke met 2018 nou na wensdenkery.

· Christo Luüs van Ecoquant is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!