Esau vat Ehika vas

Aantygings van niebetaling

27 February 2018 | Ministeries
Ottis Finck - Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het die besturende direkteur van Ehika Fishing, mnr. Rojo van Wyk, opdrag gegee om die trustfonds vir vissermanne se weduwees (FWT) ten volle in werking te stel, met verteenwoordigers wat deur die weduwees self verkies is, asook met die opening van ’n bankrekening wat uitsluitlik deur die weduwees bestuur sal word.

Esau het ook beveel dat FWT op die maatskappy se raad verteenwoordig word proporsioneel tot die hoeveelheid aandele in hul besit.

Die minister het ook gevra vir finansiële rekords en bankstate wat toon hoe wins sedert 2012 deur die maatskappy verdeel is.

“Indien die trustfonds nie in die verlede die proporsionele dividende ontvang het nie, moet dit wat uitstaande is, onmiddellik in die weduwees se rekening betaal word,” het die minister gesê.

“Ek wil ook regverdiging op skrif sien vir beleggings wat die maatskappy gemaak het. Beide die maatskappy en die trustfonds moet hiermee tevrede wees,” het Esau ook in sy brief van 23 Februarie aan Van Wyk geskryf.

Die minister beskou die tekort aan regulering van die fonds as ’n skending van die bepalinge van die wet op mariene hulpbronne.

“Jul regte is nie opgeskort nie, maar geen visvangkwotas sal aan die maatskappy toegestaan word tot die bestaande kwessies aangespreek word en die huidige bestuur asook die FWT daarmee tevrede is nie,” skryf die minister.

Esau het vir Van Wyk 21 dae gegee om oplossings vir elk van die kwessies in die brief aan hom voor te lê.

Dié verwikkelinge volg ná die minister op 15 Februarie met Van Wyk en verteenwoordigers van die FWT op Walvisbaai vergader het.

Tydens die vergadering is vasgestel niemand van die FWT word op Ehika Fishing se raad verteenwoordig nie.

Dít ten spyte daarvan dat die fonds met 40% se aandele die maatskappy se meerderheidaandeelhouer is.

Dit beteken die weduwees is by besluite uitgesluit en kan nie hul regte binne die maatskappy uitoefen nie.

Lede van die fonds het op 17 November verlede jaar reeds ’n verskeidenheid klagte in hierdie verband onder die minister se aandag gebring.

As gevolg hiervan het Esau met 34 lede van die trust vergader ná hy die opening van Ehika se kouestooraanleg op Narraville bygewoon het.

Hiertydens het hy vasgestel kommunikasie tussen Ehika en die FWT is gebrekkig.

“Ons is nie behoorlik ingelig van die trustakte nie en daar was geen aanspreeklikheid in terme van operasies en geld wat ons danksy ons 40%-aandeelhouding moes ontvang nie.

“Ons wil weet waar die aandeelsertifikate is. Die betaling wat ons ontvang het, is eers gehalveer, en toe heeltemal gestaak. Ehika neem ook besluite sonder ons en ons het geen verteenwoordiging op die raad nie. Die verkiesing van trustees is ook problematies,” sê die weduwees.

Die minister het toe onderneem om ’n vergadering met ander aandeelhouers te belê en het Van Wyk na die vergadering op 15 Februarie genooi.

Daar het Esau die weduwees ingelig dat die ministerie se rekords toon die trustfonds besit 40% van die maatskappy, Rojo van Wyk 30%, Eddie van Wyk 15% en Clive Johannes 15%.

“Ek het jul kwessies met amptenare van die ministerie bepreek en hulle opdrag gegee om ’n volledige verslag met aanbevelings op te stel. Hulle kon bevestig dat die trust aandele het en dat die aandeelhouding bygedra het tot die toekenning van die maatskappy se visvangregte,” sê die minister.

“Mense word ontneem van regte en aandeelhouding en dit is kommerwekkend. Dis ’n ernstige saak en het tot klagtes gelei. Die wet bemagtig my om aksie te neem en dit sal ek doen. Die weduwees moet erken word as die maatskappy se ruggraat. Ek wil hê julle moet ’n demokratiese trust vorm en almal by toekomsplanne betrek. Die raadgewende komitee moet heringestel word en elke kwartaal moet ’n verslag aan my voorgelê word,” het die minister gesê.

Van Wyk het gesê die weduwees se geld is gebruik om die kouestooraanleg op Narraville te bou en hulle is mede-eienaars van die aanleg.

“Ehika het by die ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) aansoek gedoen om ’n lening van N$27 miljoen, maar het slegs N$17 miljoen gekry. Uitbetalings aan begunstigdes is nie gestaak nie, en sal voortgaan. Dit was slegs herlei om ’n bykomende N$22 miljoen in te samel, wat gebruik is vir infrastruktuur wat waarde tot die masbankerbedryf sal voeg,” sê hy.

Volgens die minister is Ehika nie die enigste skuldige in terme van visvangmaatskappye wat onregverdig by voorheen benadeelde aandeelhouers baat nie.

“Ek is bewus van ander wat dit ook doen. Dit gebeur op Walvisbaai en dwarsoor die land. Dit is ’n baie hartseer situasie.”

Die kabinet oorweeg tans ’n puntestelsel wat in die toekoms gebruik sal word om soortgelyke maatskappye te identifiseer en om vas te stel wie visvangregte moet kry en wie nie, volgens die minister.

Soortgelyk

 

Air Namibia vra nóg miljarde

9 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman - Air Namibia se topbestuur sê dit sal tussen N$2,5 en N$3 miljard kos om winsgewend en selfstandiger te word.By ‘n voorlegging aan...

175 ton op 136 wiele

9 ure gelede | Energie

Twee vragmotors het gister met ’n NamPower-transformator van 175 ton daarop deur die hoofstad gery.Die vrag word deur vier voertuie begelei en is op pad...

'Elke dag is die beste van my lewe'

9 ure gelede | Mense

Tanja Bause - Sowat 18 jaar gelede het mnr. George Groenewald se lewe ná ’n motorongeluk handomkeer verander. Ná die ongeluk is hy meegedeel dat...

Weer vir 20 September 2018

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal dit baie warm wees, maar bloedig warm in...

Swakopmunder skuldig aan seksdade

9 ure gelede | Howe

Denver Kisting – ’n 42-jarige man van Swakopmund is die afgelope week op vyf klagte van kinderhandel en vyf alternatiewe klagte van onwelvoeglike dade met...

Prins William kom kuier

9 ure gelede | Gebeure

Francoise Steynberg - Prins William gaan Maandag vir die eerste keer amptelik in Namibië kom kuier ná sy rooikop broer, Harry, die land al 'n...

Interpol-bal aan die rol vir Rooies

9 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) en Interpol span tans kragte saam om ’n oudlanddros terug in Namibië te kry.Adj.komm. Immanuel Sam, Namibië se plaaslike...

‘Goue gonsers’ verower die kus

9 ure gelede | Kuns en vermaak

Leandrea Louw - Walvisbaai Privaat Hoërskool (WBPHS) was vanjaar die gasheer vir die derde, jaarlikse Nictus Napso Kuns- en Kultuurfees. Dit was inderdaad ’n fees...

NSFAF vorder skuld liewer self in

9 ure gelede | Onderwys

Augetto Graig - Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het op 14 September ’n ooreenkoms beëindig wat hulle met Tribesmen en die Suid-Afrikaanse New...