Ervare drietal vir T20-missie vervang

15 May 2019 | Sport
Andrew Poolman - Krieket Namibia het sy 14-tal spelers aangekondig wat van komende naweek af in Kampala, Uganda, aan die Internasionale Krieketraad (ICC) se kontinentale uitduntoernooi vir die T20 Wêreldbeker deelneem.

Gerhard Erasmus en sy Eagles-span het verlede maand ’n geskiedkundige deurbraak gemaak wat vir die land sy eerste ICC internasionale eendagstatus sedert 2003 verwerf het.

Afrigter Pierre de Bruyn het dieselfde groep staatmakers behoue laat bly met die uitsondering van drie gesoute spelers wat vanweë werk- of persoonlike verpligtinge nie vir die toer beskikbaar is nie.

Die drietal wat tuis bly – Jean Bredenkamp, Craig Williams en JP Kotze – is almal topordekolwers, met Williams wat ook ’n handige naatbouler is en Kotze wat as paaltjiewagter bedrewe is.

In hul plek is Niko Davin, regterhandse topordekolwer; die regterarm naatbouler Jan-Izak de Villiers en Danie van Schoor, veelsydige draaibalbouler.

“In verlede maand se eendagkriekettoernooi het ons tot op nommer 9 of 10 bekwame kolwers ingespan. Ons het dus steeds genoeg permutasies tot ons beskikking, want manne soos Karl Birkenstock en Jan Frylinck, byvoorbeeld, kan enige rol speel,” sê De Bruyn.

Daar is ses Afrika-spanne in die toernooi, waarvan die toptwee deurdring om in Oktober in Dubai aan die finale globale uitduntoernooi vir die T20 Wêreldbeker deel te neem.

Die Namibiërs, wat Vrydag uit Windhoek vertrek, open hul toernooi twee dae later met ’n oggendwedstryd teen Botswana. Maandag kom hulle teen Ghana te staan en die volgende dag teen die gasheerland Uganda. Ná ’n rusdag kom hulle op Donderdag 23 Mei teen Nigerië te staan en sluit die Vrydag teen Kenia af.

Geen finaal word gespeel nie, met ligapunte en netto kolftempo die bepalende faktore om die twee kwalifiseerders te bepaal.

Sy span lyk dalk op papier na ’n gunsteling om suksesvol te wees, maar De Bruyn waag nie onnodige kanse nie.

“Ons het definitief ’n goeie kans om een van die twee beskikbare posisies te beklink. Ons het weer hard en deeglik voorberei en ons neem geen toernooi ligtelik op nie.

“Tegnies gesproke is Namibië net twee stappe weg om weer sy verskyning by ’n Wêreldbekertoernooi te maak, maar die toestande van die kolfblaaie in Uganda is ’n onbekende faktor en ons sal dus ten volle op ons hoede moet wees.”

Die volgende T20-wêreldtoernooi is volgende jaar in Engeland.

Die Namibiese spelersgroep is:

Stephen Baard (CCD Tigers)

Danie van Schoor (Trustco United)

Jan-Izak de Villiers (Wanderers)

Gerhard Erasmus (kaptein, WHS Old Boys)

Jan Frylinck (onderkaptein, Wanderers)

Zane Green (WHS Old Boys, paaltjiewagter)

Zhivago Groenewald (WHS Old Boys)

Niko Davin (Wanderers)

Tangeni Lungameni (WHS Old Boys)

Bernard Scholtz (Wanderers)

JJ Smit (Wanderers)

Christi Viljoen (Otago, Nieu-Seeland)

Karl Birkenstock (Wanderers)

Helao (Picky) Ya France (WHS Old Boys)

Die span word vergesel deur Pierre de Bruyn, Albie Morkel (hulpafrigter) en Dee Thakur (spanbestuurder).

VROUE VORDER

Namibië se nasionale vrouespan het met een plek hoër op die T20-wêreldranglys geklim (25ste) te danke aan sy oorwinnings teen die hoër gerekende Uganda en Kenia verlede week.

Die Namibiërs het die finaal van die toernooi in Harare gehaal en kon net nie by Zimbabwe verby kom nie, wat met 50 lopies gewen het om die enigste Afrika-plek by die globale uitduntoernooi vir die T20 Wêreldbeker op te eis.

Me. Hester Khan, Krieket Namibië se raadslid vir die vrouespel, sê dit was ’n baie aangename ondervinding om op die Harare-sportklub se wêreldklas venue te speel.

“Namibië kon die afgelope tien jaar nie daarin slaag om ’n eindstryd in sulke toernooie te haal nie. Zimbabwe het miskien gedink hulle gaan oor ons hardloop (veral ná hul reeksoorwinning van 5-0 op Walvisbaai vroeër vanjaar), maar ons het baie goed gedoen om hulle tot net 114 lopies in twintig boulbeurte te beperk.

“Ongelukkig het die vinnige verlies van ons eerste drie paaltjies ons onder groot druk geplaas. Die kolfwerk is ’n aspek waaraan ons baie aandag sal gee wanneer ons weer by die huis is.

“Ons veldwerk en boulwerk was van die beste in die hele toernooi en ons het baie komplimente daarvoor gekry.

“Die huidige span is ook nog jonk en het nie dieselfde ondervinding as ’n land soos Zimbabwe nie; ons kon ook baie leer uit die geestelike gehardheid van die sterker opposisie.

“Krieket Namibië gaan alles in die stryd werp om meer jong meisies in die sport te betrek en hul spel te ontwikkel. Binnekort lê ’n kwalifiserende toernooi vir die o.19-meisies voor en ons sien baie uit om die voorbereidende werk te doen.”

Soortgelyk

 

Toetsing vir Covid-19 kry hupstoot

27th of May 11:38 | Gesondheid

Bank Windhoek het vandag hul skenking van reagent- en weefselmonstertoetsstelle aan die Namibië Instituut vir Patologie (NIP) aangekondig. Dié handelsbank se uitvoerende beampte, me. Jacquiline...

Bank en depot sal nie sluit nie, sê Peya

40 minute gelede | Regering

Denver Kisting – Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga (foto, Nampa), sê mnr. Knowledge Ipinge, raadslid van die Walvisbaai- stedelike kiesafdeling, het...

Namibië het nou 22 bevestigde Covid-19-gevalle

48 minute gelede | Gesondheid

Namibië se jongste bevestigde geval van Covid-19, geval nr. 22, is in 'n kritieke toestand en gekoppel aan 'n ventilator in 'n intensiewesorgeenheid aan die...

B-dag: Maak of breek

11 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Dolleë staatskoffers eerder as hemelhoë besteding is waarskynlik finansminister Iipumbu Shiimi se grootste uitdaging wanneer hy vanmiddag Namibië se moeilikste begroting sedert...

Stigma jeens lorriedrywers kwel

11 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer en Francoise Steynberg – Lorriedrywers wat Namibië van noodsaaklike lewensmiddele voorsien en seker maak produkte bly op winkelrakke, bevind hulle terselfdertyd aan die...

‘Hongerpandemie’ lê vir wêreld op loer

11 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle RademeyerDie wêreld se ekonome en beleidmakers twyfel nie meer daaraan dat die wêreldekonomie weens die Covid-19-krisis in ’n resessie gedompel gaan word nie. Trouens,...

Weer vir 27 Mei 2020

11 ure gelede | Weer

BINNELAND: Koud aanvanklik, maar andersins gedeeltelik bewolk en matig in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en matig tot warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Polisie lê beslag op sestig bokse vol drank

11 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die Namibiese polisie het Maandag knap ná middernag in Pionierspark op 60 bokse drank beslag gelê.Drie verdagtes is in hegtenis geneem, het...

Chaos toe jonges op vulstasie afpyl

11 ure gelede | Ongelukke

Drie jong mans wie se name in dié stadium onbekend is, het op 23 Mei om 01:00 'n ongeluk by die Total-vulstasie in Outjo veroorsaak...