Erongo in pekel oor ‘gebrekkige leierskap’

Walvisbaai is tans die episentrum van die Covid-19-pandemie in Namibië.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai – Die gemeenskap het alle vertroue in die leierskap van die Erongostreek verloor oor hul hantering van die Covid-19-pandemie.

Me. Anna Jonas, die streekdirekteur van gesondheid, het gister by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) gesê die huidige isolasie- en kwarantyngeriewe is onvoldoende.

Volgens anonieme bronne is daar mense in die Kuisebmond-woonbuurt wat wag om in kwarantyngeriewe geplaas te word nadat hulle reeds positief vir Covid-19 getoets het.

Tans is 98% van alle Covid-19-gevalle in Namibië van Walvisbaai afkomstig. Jonas het verduidelik nie net is die kwarantyn- en isolasiegeriewe onvoldoende nie, maar die streek benodig ook vervoer vir Covid-19-pasiënte en menslike hulpbronne om kontakopsporing sowel as datavaslegging te kan doen.

“Vir elke positiewe Covid-19-geval is daar 20 tot 30 kontakte. Die ministerie het ons deurlopend met persoonlike beskermende toerusting (PPE) voorsien en ons het ook ventilators ontvang.

“Ons is besig om die suurstofkapasiteit te verhoog aangesien daar net 28 beddens in die ou tuberkulosesaal by die Walvisbaai-hospitaal met toegang tot suurstof beskikbaar is. Die motorhuise wat in isolasiegeriewe omskep is, sal ongeveer 15 suurstofpunte hê. Dit sal egter eers geïnstalleer kan word as die pasiënte geskuif word wat tans in die fasiliteit gehuisves is. Ons is ook tans besig om die algemene sale in isolasiegeriewe te omskep en die suurstofkapasiteit te verhoog.”

ROTERING VAN BEMANNING

Ongeveer 127 bemanningslede wat Vrydag vanaf Europa in Walvisbaai aangekom het, is op vissersbote onder kwarantyn geplaas.

Dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste, het aan die visbedryf, in ’n dokument gedateer 10 Junie, toestemming verleen om bemanningslede te roteer.

In dié dokument het Shangula toestemming vir Carapau 1, Jupiter-1, Venus-1, Desert Ruby, Desert Jewel, Mediva Star en Caveman Star gegee om buitelandse bemanning te roteer, solank die voorgeskrewe voorsorgmaatreëls en toetsing, sowel as die verpligte kwarantyn van 14 dae gevolg word.

Jonas het gesê dit is nie die eerste keer dat bemanningslede op ’n vaartuig onder kwarantyn geplaas word nie.

“Ons het mense wat op ’n vaartuig vir 14 dae in kwarantyn is en op dag 12 getoets word voordat hulle die vaartuig kan verlaat. Slegs as al die bemanningslede negatief toets, word die vaartuig toegelaat om die hawe te verlaat.

“Daar is streng maatreëls wat gevolg moet word wanneer bemanningslede aan boord ’n vaartuig in kwarantyn is, aangesien elke individu in 'n afsonderlike kajuit gehuisves moet word. Toe die buitelandse bemanning aan boord die vaartuig gekom het, het ons seker gemaak die ander bemanningslede was nie aan boord nie.”

Mnr. Neville Andre, die goewerneur van die Erongostreek, het Vrydag verduidelik 'n polisiebeampte sal op die vaartuig gestasioneer wees.

“’n Gekwalifiseerde dokter sal aan boord wees om die daaglikse temperatuur van die bemanning te kontroleer en ander nodige mediese pligte uit te voer.”

Vroeër verlede week toe 43 bemanningslede aan boord van 'n vaartuig positief vir Covid-19 getoets het, het die gesondheidsdirekteur gesê die bemanning sal in 'n isolasie-eenheid geplaas word en nie aan boord bly nie. “Ons werk daaraan.”

COVID-19-STERFTE

Shangula het Vrydag die eerste Covid-19-sterfte in Namibië aangekondig.

Volgens die minister het die 45-jarige man die Walvisbaai-staatshospitaal op 5 Julie besoek en gekla van duiseligheid, hoes en moeilike asemhaling.

“Die oorledene is op 2 Julie by 'n gesondheidsfasiliteit gesien. Dit is bekend dat hy skisofrenie gehad het. Hy het goed op die behandeling gereageer en het nie 'n onlangse voorval van psigose gehad nie. Met die opname in die hospitaal was sy lewenstekens nie na wense nie,” het die minister gesê.

Volgens Shangula is die pasiënt op 5 Julie in 'n oorgangsafdeling in die hospitaal opgeneem waar hy behandeling vir longontsteking ontvang het totdat Covid-19 uitgesluit kon word.

“Die pasiënt se toestand het versleg en op 6 Junie het hy van asemhalingsprobleme gekla. Hy het ook tekens van nierversaking en sepsis getoon. Sy toestand het op 8 Julie vererger. Hy het rusteloos geword en begin om te hiperventileer. Hy is op dieselfde dag oorlede.”

Die minister het gesê die toetsuitslae het op 10 Julie bevestig dat hy Covid-19 gehad het en dus is hy aan Covid-19 dood.

Tate Simon Haufiku het namens die familie gesê hulle het die regering toestemming gegee om met die begrafnis voort te gaan.

“Ons verstaan die erns van die virus en ons kan nie van mense verwag om na die noorde van die land of na Walvisbaai te reis om oor hom te treur nie. Ons wil net het hy moet ’n waardige begrafnis hê.”

Die meerderheid van sy familie, wat sy ma en oom insluit, woon in die Noorde en slegs sy susters woon op Walvisbaai.

Haufiku het bygevoeg dat die stemgrepe wat tans op sosiale media versprei word nie die familie se siening verteenwoordig nie.

Jonas het gesê die man is in ’n saal as ’n vermoedelike Covid-19-geval geplaas.

Beide die streekdirekteur en die minister het nie op vrae gereageer of die man slegs na sy dood getoets is nie en of die hospitaalpersoneel wat hom bygestaan het, onder kwarantyn geplaas is.

VERLIGTINGSTRATEGIE

Andre het verduidelik 60 eenhede wat vir massabehuising op Walvisbaai en 100 op Swakopmund geoormerk is, is beskikbaar gestel om die opeenhoping van mense in die informele nedersettings te verlig.

Hy het Vrydag gesê dié 60 huise wat onder die munisipaliteit van Walvisbaai val, sal vanaf Vrydag toegeken word aan begunstigdes wat op ’n waglys is.

“Dié individue sal voorlopig na uitbreiding 16 en 18 geskuif word. Die munisipaliteit sal ’n tydelike kontrak met die mense aangaan. In totaal sal daar 600 mense na die nuwe gebied wat langs die Twaloloka- informele nedersetting geleë is, geskuif word. Uitbreiding 161 en 162 op Swakopmund sal ook gebruik word. Die munisipaliteit sal die gebied op eie onkoste diens.”

Hy het gesê beide plaaslike owerhede sal stadions en ander geboue beskikbaar stel om meer mense te hervestig wat bykomende akkommodasie benodig.

“Daar is ’n bykomende 29 huise beskikbaar vir onmiddellike besetting, maar dit sal gedoen word met inagneming van die bestaande waglyste van NHE en die Swakopmund-munisipaliteit. Daar is 111 huise onder die massabehuisingskema, maar dié huise is tans onder litigasie en kan nie beset word nie. Die res van die huise onder die skema moet opgeknap word en dit sal ‘n duur proses wees.”

Andre het verduidelik daar word ook ander oplossings ondersoek.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!