'Elke druppel tel'
'Elke druppel tel'

'Elke druppel tel'

Borsvoeding is 'n volledige voedings- en voorkomende gesondheidspakket vir babas en jong kinders.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



As alle babas onmiddellik ná geboorte direkte ­velkontak ontvang, vir ses maande uit­sluitlik geborsvoed word en tot op twee jaar bykomende voeding ontvang, sal die sterftesyfer vir kinders onder vyf jaar met ten minste 13% tot 20% daal.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste (MoHSS), mnr. Ben Nangombe, het die opening van Namibië se eerste borsmelkbank gebruik om die belangrikheid van borsvoeding te beklemtoon.

Hy het dit as 'n volledige voedings- en voorkomende gesondheids­pakket vir babas en jong kinders beskryf omdat dit beide ma en kind teen siektes beskerm. Volgens hom het dit ook 'n geweldige impak op 'n gemeenskap se toekomstige welstand.

“Die eerste stap om ondervoeding onder kinders te verminder, is op­timale borsvoeding wat hulle in staat stel om van hul eerste lewensdae af positief te groei,” het hy gesê.

Uitsluitlike borsvoeding vir ses maande en voortgesette ­bors­voeding daarná terwyl ondersteunende voedsel vir twee jaar of meer ­bygevoeg word, verbeter volgens Nangombe die gesondheid en welstand van kinders en ma's.

Dit verminder boonop huishoudelike uitgawes in veral armoede­geteisterde gemeenskappe.

“Borsvoeding bemagtig vroue deur hulle in staat te stel om in beheer van hul reproduktiewe gesondheid te wees en om meer selfonderhoudend te wees deur hul babas te voed sonder om geld aan plaasvervangers vir borsmelk te bestee.”

Volgens Nangombe verminder ma's se risiko op hewige nageboorte­like bloeding wanneer borsvoeding dadelik begin word.

Borsvoeding bied beskerming teen bloedarmoede en ystertekorte by ma's omdat dit menstruele vloei vertraag en die risiko van borskanker, kanker van die eierstokke en ­diabetes ­verminder.

Nangombe het kommer uitgespreek oor die feit dat sommige gesondheidsgeriewe en gesondheidslui borsvoedende ma's, gesinne en pasgebore babas nie optimaal ondersteun nie.

Hy het na die implementering van die nasionale babavriendelike ­hospitaalinisiatief (BFHI) verwys, wat die koers van optimale bors­voeding kan verhoog, gesondheid kan bevorder en gesondheids-, maat­skaplike en ekonomiese uitkomste vir ­individue en nasies kan verbeter.

Die BFHI bevorder beter beleidsrigtings en prosedures in kraamsale om ma's te ondersteun om in die eerste uur van die baba se lewe te begin borsvoed en ook met die nodige vaardighede toe te rus om daarmee voort te gaan wanneer hulle ontslaan word.

Hy het ook verwys na die nasionale beleidsrigting en riglyne vir voeding vir babas en jong kinders wat op die voordele van uitsluitlike borsvoeding, die bestuur van borsprobleme en die bekendstelling aan ondersteunende voedsel fokus.

Die doel van Namibië se borsmelkbank is onder meer om die aantal borsmelkskenkers te verhoog, asook die aantal babas wat hierby sal baat.

Nangombe het gesê die regering, ontwikkelingsvennote, gemeenskapsgebaseerde organisasies, die private sektor en individue moet meer doen om te verseker vroue word ondersteun om vir die eerste ses maande van die baba se lewe uitsluitlik te borsvoed.

Dit vereis onder meer dat gesondheidswerkers die kennis moet hê om borsvoeding te bevorder, sowel as die interpersoonlike kommunikasie­vaardighede om ma's met raad en hulp te ondersteun.

“Werksplekke en ander instellings moet ook ondersteunend wees en ma's aanmoedig om met ­borsvoeding voort te gaan ná hulle na hul werk of studies terugkeer. ­Voldoende finansie­ring moet beskikbaar wees om die openbare gesondheidstelsel te versterk om ma's en gesinne onder­steuningsdienste te bied.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!