'Ek was 'n Judas wat vir mense gelieg het'
'Ek was 'n Judas wat vir mense gelieg het'

'Ek was 'n Judas wat vir mense gelieg het'

Die verhoor van 'n vrou wat deur skuld gedryf is om bedrog te pleeg, duur vandag voort.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



'n Senior admini­stratiewe beampte het gister in die hoërhof in Windhoek getuig sy was met haar rug teen die muur oor skuld en het besluit om geld by haar werkgewer te steel sodat haar kinders nie die dak oor hul kop verloor nie.

Die 49-jarige Stephanie­ Serfontein het skuld beken op 34 klagte van bedrog en een van geldwassery en aan die hof vertel hoe sy tussen Oktober 2009 en Julie 2012 altesaam N$4 253 013,50 by ­Ferrodrill Namibia gesteel het.

Serfontein het in haar pleitverduideliking gesê sy het “vanweë haar verlammende finansiële probleme 'n skema bedink om bedrog te pleeg”.

Sy het dit gedoen deur krediteure van Ferrodrill se fakture vir diesel wat gelewer is, te vergroot en die verskil tussen die werklike bedrae en die vervalste bedrae te steel.

Die totale waarde van die transaksies by die faktuurknoeiery betrokke, was N$17 617 781,44.

Serfontein het in haar pleitverduideliking gesê sy het die geld vir die krediteure na die bankrekening van haar eksman en medebeskuldigde in die saak, mnr. Isak Serfontein (47), 'n onaktiewe bankrekening van haar dogter waarvan sy die nommer geken en die bankkaart in haar besit gehad het, asook haar eie bankrekening oorbetaal.

Die geld wat ingevolge die korrekte fakture aan die krediteure verskuldig was, het sy aan hulle oorbetaal, en die verskil tussen daardie bedrae en die bedrae op die vervalste fakture het sy gehou.

Volgens haar bekentenis is N$3 213 451,83 van die gesteelde geld deur haar eksman gebruik terwyl N$1 039 553, 77 na haar eie sak is.

Die geld wat sy in haar dogter se rekening oorbetaal het, het sy gebruik om hul skuldeisers mee te betaal. Die geld wat na haar rekening gevloei het, is vir huishoudelike ­uitgawes aangewend.

Regter Kobus Miller het Serfontein ingevolge haar pleitverduideliking skuldig bevind en gelas dat haar eksman se verhoor van haar verhoor geskei word omdat hy gister op al die klagte onskuldig gepleit het. Sy verhoor sal op 20 Maart voor regter Christie Liebenberg voortgaan.

Sy het daarna in getuie­nis ter strafversagting aan die hof vertel dat sy 'n groot deel van haar kinderlewe by haar oupa en ouma gewoon het.

Haar ma was van haar biologiese pa geskei en later ook van haar stiefpa, wat haar aangeneem het.

Sy het getuig sy het by haar grootouers gebly omdat sy die stabiliteit verkies het.

Sy het verder getuig dat haar eerste huwelik, waaruit haar twee kinders gebore is, asook haar huwelik met (Isak) Serfontein ontstuimig en gewelddadig was.

Laasgenoemde het baie gedrink en sy sakeplanne het die een na die ander misluk terwyl sy skuld net al hoe meer geword het, het sy aan die hof vertel.

“Al wat ek ooit vir my kinders wou gee, is 'n stabiele huis waar daar liefde is. Ek wou altyd net dit vir my kinders gehad het.”

Die hof het verder gehoor sy het sowat 'n jaar voordat die bedrog op die lappe gekom en sy en haar eksman in hegtenis geneem is, besluit om hom te verlaat.

Volgens haar het haar eksman haar egter afgepers om met die bedrog voort te gaan en geld aan hom oor te betaal deurdat hy gedreig het om haar ma en haar dogter te vertel wat sy gedoen het.

“Ek was tussen die duiwel en die diepblou see,” het sy gesê.

“Ek was 'n Judas wat vir mense gelieg het.”

Die verhoor duur van­oggend voort.

Adv. Louis Botes tree vir haar op in opdrag van mnr. Sarel Maritz, terwyl mnr. Jan Wessels haar eksman verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!