'Ek is, want ons is'

Ware omgee, 'n simpatieke oor en saamloop sonder preek, is dikwels vir dié wat in donkerte is en selfdood oorweeg, 'n troos.
Henriette Lamprecht
Die afswaai van die ekonomie het 'n wye impak op die gemeenskap gehad, erken die predikant en pastorale berader Thijs van der Merwe.

Nie net het baie mense reeds hul werk verloor nie, baie werk vir 'n afgeskaalde tarief, en hy sien mense wat sukkel om positief onder dié omstandighede te bly.

“Ek het verskeie mense in berading wat in reaksie hierop depressief geraak het. Die meeste erken die spanning het oor die laaste paar jaar opgeloop, maar dat die afgelope jaar die kameel se rug gebreek het,” sê Thijs.

Hy glo 'n mens se geloof word getoets. Volgens hom het verskeie van diegene wat om hulp aangeklop het, dadelik gesê “moenie nou met 'n 'alles sal regkom'-teologie by my kom nie!”

“Maar my uitgangspunt is God as Vader wéét wat ons deurmaak. Jesus se woorde dat daar nie 'n haar van ons kop sal val sonder Sy wete nie, troos my. Ek probeer daarom mense net terugbring na die troos. God is met ons, ook in ons swaarkry.”

Hy het afgelope week weer Prediker 11:4 met iemand bespreek: “Of 'n boom nou noord of suid val, dit bly lê soos dit geval het.”

“Dit verwys na moeilike omstandighede. 'n Mens het in die ou antieke nabye Ooste net 'n boom kon kap, met toestemming, as jy 'n gebou wou oprig of herbou. Bome wat so gebruik word, groei daar teen hange en hoe die boom val, kan 'n verskil maak aan hoe maklik of moeilik dit bewerk kon word. Lees 'n mens die teks so, verstaan jy dat die boom nie anders gaan draai omdat jy swaarmoedig, ontmoedig of 'hooploos' voel nie. Dus moet jy jou werk maar doen; werk die boom al lê hy moeilik.”

Direk daarna kom volgens Thijs die troos: Dit is God se werk. Soos jy nie kan verstaan hoe liggaam en gees bymekaarkom in die moeder se skoot nie, netso kan jy dié dinge ook nie deurdink en verstaan nie. Een ding kan jy wel doen: Dit wat jou hand vind om te doen, want jy is 'n medewerker met God.

Of daar steeds 'n stigma aan selfdood kleef, hang baie van die mens en sy persoonlikheid af, sê Thijs.

“Party mense sal dit makliker as ander verbaliseer. Daar is 'n klomp wat dit nie eens gaan noem nie, en dit net sal doen - 'n mens word soms onkant daarmee betrap.”

Volgens hom verstaan party mense dit is 'n realiteit waaroor gepraat moet word; ander skram weg.

“In die pastoraat aan agtergeblewenes is dit die een saak wat ek probeer hanteer. Iemand wat dit doen, is in wanhoop en sien nie 'n ander uitkoms nie. As mense daaroor praat, kan 'n mens dit makliker saam met hulle hanteer. Ook oor die leuen dat dit vir almal beter sal wees as ek maar net dood is, wat 'n mens in dié situasies dikwels hoor.”

Hy meen mense moet leer om weer regtig “medemens” te word, iets wat dikwels ontbreek omdat almal voortstorm om te oorleef en presteer.

“As iemand swaarkry, pas so 'n persoon nie in die ­prestasiegedrewe samelewing in nie en dit kan tot selfdood lei. Veral ook onder tieners wat geboelie word of dit 'nie maak nie'. Daarom moet mense baie meer bedag raak op mekaar, sê Thijs. Ook moet die leuen dat jou waarde bepaal word deur onder meer prestasie, ­welvaart en sukses, nek omgedraai word.

“Dis onwaar. Die mense wat die meeste vir jou beteken, is dié wat vir jou omgee - ons almal weet dit instinktief. Daarom moet ek en jy daardie mens vir ander word.”

As dit gaan oor die vraag “wat sal gebeur as ek dit doen?” is sy indruk mense is soms wel bekommerd oor wat dit sal doen aan diegene wat agterbly.

“Dit gee 'n mens 'n invalshoek om daarvandaan mense te help om weer in te sien 'ek maak saak vir mense' en wat soms help om die pad na herstel oop te maak. Die ander een is: Wat as dit nie werk nie?”

Die meeste mense het 'n diepe behoefte aan aanvaarding en erkenning, sê Thijs - insluiting in die groep en by die mense wat vir die persoon met depressie “significant others” is.

“As dit ontbreek, is mense eensaam en voel hulle verstote, oorbodig en onsuksesvol as mens.”

Omgee vir ander begin by egte belangstelling in die mens.

“Mense word dikwels uit depressie gehelp deur ander wat net opreg omgee, luister sonder om te veroordeel, wat saamloop sonder om te preek.”

Thijs se raad is om allereers vriendeliker te wees met ander, en mense as persoon te erken en waardeer. Spreek daardie met opregte waardering uit .

“Soek hulle op. Vra hoe gaan dit regtig. Bestee tyd saam met die persoon en vra vrae wat van belangstelling getuig.

“Moenie mense se waarde skat aan die hand van die wêreldse maatstawwe van sukses nie – ag mense as individue.”

Dit is juis wat Jesus vir hom so aantreklik maak, erken hy.

“Hy was op pad iewers heen om iets te doen, toe iemand Hom op sy naam roep. Telkens as dit gebeur, stop hy, onderbreek dit waarmee hy besig is om te vra: 'Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?' Anders as ons, besluit hy nie self wat die antwoord op die vraag is nie, en wat meer is, dan voldoen hy aan die versoek en gee dikwels veel meer.”

Hieruit leer hy dat mense minder taak- en uitkomsgerig moet leef en weer moet medemens word vir ander om hulle. Besef daar is veel meer bevrediging in om régtig iemand anders raak te sien en te bedien as om die volgende duisend dollars te maak. “En dat ás ons dit doen, daar mooi dinge kan gebeur.”

Ludwig Beukes, 'n maatskaplike werker en waarnemende sekretaris-generaal van die Raad van Kerke in Namibië (CCN), sê op sy beurt baie mense se situasie dryf hulle “uit desperaatheid na vals profete”. Ludwig moedig mense aan om “goeie samaritane” te wees en vir mekaar om te gee.

“Moedig mense aan om te bid en troos in God se Woord te vind - dat God in elke moeilike situasie by ons is en Hy die weg sal vind,” sê hy.

“Dit is die tyd vir 'n gees van ubuntu, 'ek is, want ons is'. Veral mans moet iemand vind om mee te praat en hul vrese en bekommernisse mee te deel.”

Ludwig erken daar is baie min gevalle waar mense met selfdoodgedagtes wél met iemand daaroor praat.

“Soms wil hulle hul eie lewe neem, maar mense neem hulle nie ernstig op nie. Ons moet sensitief teenoor mekaar wees en so iemand nie as swak sien omdat óns sterk is en so situasie sou kon hanteer het nie.”

Hy beklemtoon voorts kerke moet ondersteuningsgroepe stig waar mense wat hul eie lewe wou neem, hul stories kan deel en die stigma oor selfdood afgebreek kan word.

“Help die persoon om professionele hulp te kry, bid en lees vir hom uit die Bybel en laat hom toe om sy gevoelens te deel. Al weet jy nie wat om te sê nie, wees net daar vir hom.”

Ludwig beklemtoon ook die rol wat die media in onderrig oor selfdood speel.

“Ons moet meer in die media sien oor hoe om selfdood te voorkom en hoe ons mekaar kan help. Ons het mense nodig wat hul stories deel en sê waar ander om hulp kan gaan aanklop.

Volgens die kliniese sielkundige en stigter van die Bel Esprit-kliniek vir geestesongesteldhede, Charine Glen-Spyron, is daar beslis die afgelope vier maande 'n toename in ­pasiënte wat aan depressie- en angsversteurings ly, iets wat volgens haar ook sterk verband hou met die swakker ekonomiese toestand in die land.

Volgens Charine soek pasiënte om verskeie redes hulp. Dit sluit fisieke simptome soos moegheid, slapeloosheid, verminderde eetlus, hoofpyne en rugpyne in. Emosionele ­simptome is onder meer negatiewe denkpatrone, lae selfbeeld, huweliksprobleme, angstigheid, 'n gevoel van hopeloosheid en uitbranding.

Omdat daar steeds 'n groot stigma aan geestesgesondheid kleef, vind sy dat 'n groot aantal pasiënte steeds nie om hulp vra nie.

“Ons hoop die rapportering en bewusmaking van selfdood, asook die verhoogde inligting wat daarmee gepaardgaan, sal 'n positiewe impak op die gemeenskap hê sodat dit nie meer 'weggesteek' en geringer gemaak word as was dit is nie. Hopelik sal dit dié wat hulp nodig het, aanmoedig om eerder hulp te gaan soek. Ook sal dit vir familie en vriende die nodige inligting gee om die waarskuwingstekens te sien,” het sy gesê.

Ten einde jou lewe en gemoedstoestand te verbeter, sê Charine, kan mense probeer om dinge te aanvaar wat hulle nie kan verander nie, te fokus op dit waarop hulle wel beheer het, en tyd te bestee aan dit wat hulle laat goed voel.

“Omring jouself met mense wat positief is en oplossings soek.”

'n Voorbeeld is om te aanvaar daar is nie veel wat jy aan sommige finansiële omstandighede kan doen nie, en dat jy sal moet afskaal.

“Waaroor jy steeds beheer het, is byvoorbeeld saam met wie jy jou tyd deurbring en hoe jy na jouself en jou liggaam kyk. Jy het ook beheer oor hoe jy teenoor familie, vriende en kollegas optree en hoeveel tyd jy aan aktiwiteite bestee wat jou laat goed voel.”

Sommige stokperdjies soos stap of lees kos nie te veel nie, beklemtoon sy, en het 'n baie positiewe invloed op jou geestesgesondheid en vermoë om moeilike omstandighede te hanteer.

“Hou 'n oog op jou gemoedstoestand en vra om hulp as jy voel jou omstandighede raak te swaar en ondraaglik. Moenie wag totdat jy heeltemal hopeloos en uitgebrand voel nie.”



Namibië het een van die hoogste selfdoodkoerse in die wêreld en die vierde hoogste in Afrika.

'n Studie oor die voorkoms van selfdood in die land lewer skokkende statistieke, met 467 mense wat in 2015 aan hul eie hand gesterf het. Dit verteenwoordig 'n selfdoodkoers van 22 gevalle uit 100 000 inwoners, vergeleke met die 11 selfdoodgevalle per 100 000 inwoners wêreldwyd. Die studie beraam sowat 2,1%, ongeveer 25 000 Namibiërs, het in 2015 probeer om hul eie lewe te neem.

Vroue is beduidend meer geneig as mans om 'n selfdoodpoging aan te wend en het ook 'n groter aantal snellers wat dit voorafgaan. Meer mans sterf aan hul eie hand (84,5%) teenoor die 15,6% van vroue. Risikofaktore vir selfdood sluit slaaploosheid, geestesongesteldheid, 'n gevoel van hopeloosheid, onttrekking van familie en vriende, min energie, swak konsentrasie, moegheid en angs in.

Dié wat selfdood probeer pleeg het, was meer geneig om impulsief op te tree, minder in staat om hul emosies te beheer, en meer geneig om hul humeur met 'n vreemdeling te verloor.

Die grootste ses bydraende faktore wat maak dat mense hul eie lewe probeer neem, sluit depressie, verwerping, hopeloosheid, familieprobleme en swak eiewaarde in, asook die behoefte dat mense van hul pyn bewus moet wees. Snellers wissel van 'n verbrokkeling van romantiese verhoudings of 'n huwelik, familieprobleme, 'n finansiële krisis, die dood van 'n geliefde, asook fisieke en emosionele mishandeling deur 'n lewens- of verhoudingsmaat.

Selfdoodgedagtes en –pogings was die hoogste in die Khomas-, Erongo-, Kavango-, Otjozondjupa- en Zambezi­streek. In alle streke van die land was die risiko vir selfdoodpogings groter onder vroue as mans, hoër in stedelike as in landelike gebiede, en effens hoër onder diegene met opleiding en in die ouderdomsgroep 20 tot 30 jaar.

Die hoogste gemiddelde selfdoodkoers tussen 2011 en 2015 was in die Oshanastreek, gevolg deur Otjozon­djupa, Ohangwena, Hardap en Omusati.

Mans is vyf keer meer geneig om aan hul eie hand te sterf as vroue, terwyl die meeste selfdoodgevalle in die ouderdomsgroep 20 tot 39 jaar oud aangeteken is, met min onderskeid tussen landelike en stedelike gebiede. Die risikofaktore was nie hoër onder die verskillende bevolkingsgroepe nie en die fokus behoort eerder te wees op risiko-omstandighede en weerloosheid as op 'n spesifieke bevolkingsgroep.

Die risiko is groter onder dié wat 'n hoë­risikoprofiel en onderliggende depressie het, met 'n traumatiese gebeurtenis wat emosioneel onstellend is en as sneller dien. Faktore soos om voordeel uit sosiale omgang en sterk sosiale netwerke te trek, ondersteun deur formele dienste, blyk belangrik te wees om 'n eerste selfdoodpoging of opvolgpogings te voorkom.

Dit is noodsaaklik dat mense gehelp word om traumatiese, emosionele gebeurtenisse te hanteer. 'n Groot meerderheid van die respondente glo gemeenskappe, vriende, familie en bure sal simpatiek wees teenoor dié wat selfdood oorweeg, en graag sou wou help as hulle kon. Dit ondanks 'n aantal respondente wat gemeen het selfdood is 'n sonde.

Snellers vir selfdood hou dikwels verband met verhoudingsprobleme en was voor die meeste pogings reeds teenwoordig. Om dié risikofaktore binne families en onder vriende te identifiseer, is volgens die verslag uiters belangrik.

Slegs een uit tien mense wat selfdood wou pleeg, het spesifieke ondersteuning gesoek om dit te probeer voorkom. Hoewel ondersteuningsdienste beskikbaar is en mense hiervan bewus is, word dit vermy omdat dit “geen verskil maak nie” en “niemand sal verstaan nie”.

Selfs al is familie, vriende en godsdienstige leiers simpatiek, het hulle dikwels nie die vaardighede om die nodige ondersteuning te bied of die persoon na formele diensverskaffers te verwys nie.

Sowat 'n vyfde van die respondente het al selfdoodgedagtes in hul lewe gehad, terwyl 'n derde iemand ken wat in die jaar voor die studie selfdood probeer pleeg het.

Sowat 5,8% van respondente het al in hul leeftyd selfdood probeer pleeg. Dit beteken 'n totaal van meer as 70 000 Namibiërs, en sowat 25 000 selfdoodpogings in die jaar voor die studie. In die meeste gevalle was 'n sleutelgebeurtenis die sneller, wat die beëindiging van 'n verhouding gevolg deur familieprobleme insluit. Die helfte van diegene wat selfdood probeer pleeg het, het 'n gevoel van “verligting” ervaar, terwyl dit vir 'n derde “opwindend” was.

'n Oordosis pille blyk die gunstelingmetode onder vroue te wees, gevolg deur om hulself te hang. Mans se voorkeur is om hulself te hang, gevolg deur vergiftiging en 'n oordosis pille. Mans is ook meer geneig om 'n vuurwapen te gebruik, iets wat die mins algemene metode onder vroue is.

Meer as 85% van respondente het gevoel hul families sal nie selfdood 'n geheim wou hou nie, met dieselfde persentasie wat meen gemeenskappe gaan nie iemand wat selfdood probeer pleeg het, verwerp of stigmatiseer nie.

*Bron: National Study on the Prevalence of and Interventions in Relation to Suicide in Namibia – 2018

Kommentaar

Republikein 2024-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth | Arsenal 5 vs 0 Chelsea LaLiga: Sevilla 2 vs 1 Mallorca SerieA: AC Milan 1 vs 2 Inter Milan | AS Roma 1 vs 3 Bologna European Championships Qualifying: Coventry City 2 vs 3 Hull City | Leicester City 5 vs 0 Southampton | Middlesbrough 3 vs 4 Leeds United English Championship: Coventry City 2 vs 3 Hull City | Leicester City 5 vs 0 Southampton | Middlesbrough 3 vs 4 Leeds United Katima Mulilo: 15° | 34° Rundu: 15° | 34° Eenhana: 15° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 15° | 21° Wind speed: 22km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:02, High tide: 04:02, Low Tide: 22:08, High tide: 16:27 Swakopmund: 15° | 16° Wind speed: 27km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:00, High tide: 04:00, Low Tide: 22:06, High tide: 16:25 Walvis Bay: 15° | 23° Wind speed: 35km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:00, High tide: 03:59, Low Tide: 22:06, High tide: 16:24 Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 19° | 32° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 18° | 31° Oranjemund: 14° | 21° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 31° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 15° | 20° Maseru: 12° | 26° Antananarivo: 14° | 26° Lilongwe: 14° | 27° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 16° | 24° Durban: 18° | 23° Johannesburg: 18° | 25° Dar es Salaam: 23° | 26° Lusaka: 18° | 29° Harare: 15° | 29° Currency: GBP to NAD 23.65 | EUR to NAD 20.3 | CNY to NAD 2.62 | USD to NAD 18.94 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.34 | EGP to NAD 0.39 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.72 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.72 | RUB to NAD 0.21 | INR to NAD 0.23 | USD to DZD 134.23 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.85 | USD to EGP 47.85 | USD to KES 134.48 | USD to NGN 1277.03 | USD to ZAR 18.97 | USD to ZMW 26.35 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 74513.94 Up +0.68% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1545.38 Up +1.53% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13281.24 Up +0.26% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 25917.59 Down -3.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 329.94/OZ UP +0.59% | Copper US$ 4.52/lb UP +1.99% | Zinc US$ 2 873.90/T UP 2.4% | Brent Crude Oil US$ 88.08/BBP UP +0.10% | Platinum US$ 902.25/OZ UP +0.01% Sport results: Premier League: Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth | Arsenal 5 vs 0 Chelsea LaLiga: Sevilla 2 vs 1 Mallorca SerieA: AC Milan 1 vs 2 Inter Milan | AS Roma 1 vs 3 Bologna European Championships Qualifying: Coventry City 2 vs 3 Hull City | Leicester City 5 vs 0 Southampton | Middlesbrough 3 vs 4 Leeds United English Championship: Coventry City 2 vs 3 Hull City | Leicester City 5 vs 0 Southampton | Middlesbrough 3 vs 4 Leeds United Weather: Katima Mulilo: 15° | 34° Rundu: 15° | 34° Eenhana: 15° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 15° | 21° Wind speed: 22km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:02, High tide: 04:02, Low Tide: 22:08, High tide: 16:27 Swakopmund: 15° | 16° Wind speed: 27km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:00, High tide: 04:00, Low Tide: 22:06, High tide: 16:25 Walvis Bay: 15° | 23° Wind speed: 35km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:00, High tide: 03:59, Low Tide: 22:06, High tide: 16:24 Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 19° | 32° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 18° | 31° Oranjemund: 14° | 21° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 31° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 15° | 20° Maseru: 12° | 26° Antananarivo: 14° | 26° Lilongwe: 14° | 27° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 16° | 24° Durban: 18° | 23° Johannesburg: 18° | 25° Dar es Salaam: 23° | 26° Lusaka: 18° | 29° Harare: 15° | 29° Economic Indicators: Currency: GBP to NAD 23.65 | EUR to NAD 20.3 | CNY to NAD 2.62 | USD to NAD 18.94 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.34 | EGP to NAD 0.39 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.72 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.72 | RUB to NAD 0.21 | INR to NAD 0.23 | USD to DZD 134.23 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.85 | USD to EGP 47.85 | USD to KES 134.48 | USD to NGN 1277.03 | USD to ZAR 18.97 | USD to ZMW 26.35 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 74513.94 Up +0.68% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1545.38 Up +1.53% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13281.24 Up +0.26% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 25917.59 Down -3.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 329.94/OZ UP +0.59% | Copper US$ 4.52/lb UP +1.99% | Zinc US$ 2 873.90/T UP 2.4% | Brent Crude Oil US$ 88.08/BBP UP +0.10% | Platinum US$ 902.25/OZ UP +0.01%