Ek is nie oukei nie

05 March 2018 | Rubrieke
Minette Brink – Nee man, Lennie. Nee man.

Hoe moet ek nóú maak?

Die polisie sê jy het drie briewe gelos. In blou koeverte. Een vir elke kind.

Ek wil nie weet wat daarin staan nie, Lennie. Ek wil weet wie moet vir klein Lennie syne voorlees.

Ek is kwaad. Jy was die een wat soveel makliker as ek jou vinger onder die man met die grys jas se neus kon swaai. Hom en sy swart hond met die digter se wysheid wegjaag: “Die Groot Taak is om van hondedrolle sterre te maak.”

En wat gaan doen jy? Maak van die drol der drolle 'n ster. Kies 'n kortpad na die eindstreep. Ek is nie kwaad vir hom nie. Ek is kwaad vir jóú. Jy't gekroek.

Ek het nog nie gehuil nie, Lennie. Weet ook nie of ek gaan nie. Jou ma huil genoeg vir ons al twee. Jy het haar gebreek.

Hoekom het jy nie net gesê jy sak al dieper weg nie? Hoekom het jy die krag gehad om dit vir my, vir almal, weg te steek, maar niks om te keer dat die laaste asem uit jou vertrek nie. Was dit die pille? Die witjas met die baie grade en geen mensekennis nie wat jou elke week op 'n ander cocktail gesit het? Elke week 'n ander etiket op jou siel geplak het: Depressie, bipolar, adrenal fatigue? Onthou jy hoe ons gelag het oor daai laaste een omdat ons nie geweet het wat dit is nie. En die aand ná werk 'n hele show op die stoep aanmekaar gesit het oor "Die Dag van die Moertoe Byniere". Ons was vol planne om dit kunstefeeste toe te vat. Mense sou hande geklap het. Of vir ons, het jy gesê.

Wie gaan nou saam met my stoepsit? Net voor toemaaktyd Embassy toe hol vir slaptjips? Hygend terugkom met ook 'n pakkie “Mentils vir Mentie”, al het jy geweet ek het daai oggend opgehou rook. Vir die soveelste keer. In die hek se interkom blaas: Foh you . . . I keellll . . . zeee booohl. Die password vir my om oop te sluit.

Ons simpel grappies. En woordspeletjies. Tot dagbreek toe se gesels oor die lewe en die oppe en affe van sy wipwaens.

Wie gaan van nou af braai? Die vleis chewy en die broodjies verbrand? Al het ek elke keer geteem oor jy te veel gesels en nie die kole dophou nie. Oor jy jou nie gesteur het aan rou hoender nie. En dieselfde jammerlappie gebruik het vir alles. Vir wie gaan ek nou met 'n vingertuit voor die mond waarsku: Salmonella na die kantoor toe kom. Salmonella na die kantoor toe kom.

Nou moet ek alles wegpak. Ek kan nie. Nie nou al nie.

Was dit oor jy nie weer liefde kon vind nie? Omdat ons net nooit kon saamstem oor watter een van almal wat jy aan my voorgestel het, Die Regte Een sal wees nie? Sorrie as ek te kwaai was, Lennie. Ek wou jou net beskerm. Ek het jou beter geken as jyself. Tot nou toe.

Koebaai, Lennie. Ek wil nie nou meer met jou praat nie. Dalk later. Ek dink nie ek sal sommer gou huil nie.

Blou is net nie meer my gunstelingkleur nie.

Soortgelyk

 

Man sterf op Walvisbaai-Swakopmund-pad

6 ure gelede | Ongelukke

Die 27-jarige Franico Esly Huseb is vandag omstreeks 07:30 dood, nadat die bakkie waarin hy op reis was op die pad tussen Swakopmund en Walvisbaai...

Eksamenuitslae dán bekend

7 ure gelede | Onderwys

Die voorlopige uitslae vir graad 10 (JSC) en graad 12 (NSSC) hoë vlak vir voltydse en deeltydse kandidate word aanstaande Donderdag (20 Desember) amptelik bekendgemaak....

Drie meisies verdrink in sandputte

8 ure gelede | Ongelukke

Die Namibiese polisie in die Ohangwenastreek het ‘n beroep op kontrakteurs gedoen om sandputte toe te stoot wat geskep is met die uitgrawe van sand...

1,6 miljoen toeriste besoek Namibië in 2017

9 ure gelede | Toerisme

Altesaam 2,2% meer toeriste het Namibië in 2017 as in die vorige jaar besoek met meer as 1,6 miljoen buitelandse toeriste wat die land ingestroom...

Studente betaal meer by Unam

9 ure gelede | Onderwys

Die finansiële verknorsing waarin die Universiteit van Namibië (Unam) verkeer, tesame met die algemene ekonomiese vooruitsig vir die land, het die universiteitsraad genoop om klasgelde...

Plunderwoude: Ministerie ontken ongerymdhede

20 ure gelede | Plaaslik

Elvira Hattingh - Die ministerie van landbou, water en bosbou sê die meerderheid permitte wat vir die oes en vervoer van hout uitgereik is, is...

Polisie op sy knieë

20 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die land se finansiële verknorsing het die mag op sy knieë.Ndeitunga het...

Avihe-moordenaar het dalk landuit gevlug

20 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – As Avihe Cheryl Ujaha (9) nie deur iemand in haar binnekring vermoor is nie, is haar moordenaar(s) waarskynlik al landuit.Só sê die...

Weer vir 13 Desember 2018

20 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met geïsoleerde buie plek-plek in die noordelike en sentrale dele. Elders sal dit sonnig en baie tot...