Ek is 'n kospleb

02 March 2018 | Rubrieke
Ek gaan dit nou maar ruiterlik erken – ek is 'n kospleb. Nie 'n kossnob of 'n foodie nie, maar presies die teenoorgestelde daarvan.

Ek hou van mayonnaise. My slaaie bestaan uit drie bestanddele – en mayonnaise. Ek gooi sommer 'n blob mayonnaise op wors, hoender en enigiets wat nog nie mayonnaise op het nie.

Ons eet ook net blikkies groente. Baie kommin, ek weet. Dis cheaper as vars groente en sommer baie minder moeite.

Vir alkoholiese verversings het ek altyd Tassies gedrink tot ek myself na whiskey bekeer het, want dit maak nie so vet en so dronk nie. Sommer cheap whiskey. Met báie water. Nie soda- of mineraalwater nie, sommer kraanwater. En sonder ys, want ys is soms net te veel moeite. Dís hoe kommin ek is.

Ek koop net Ricoffy. Bruin oploskorrels mos maar. Fancy koffie drink ek net by die werk, maar ook net sodat ek kan wakker word, al gee dit my trekkings en laat dit my vreeslik vloek – ten minste laat dit my vinniger werk. By die huis en oor naweke drink ek my bruin oploskorrels, want ek hoef nie by die huis wakker te wees nie.

Ons drink ook meestal uit ­plastiekglase. Nie baie classy nie, ek weet. Maar ek en Spruit het die gawe om glase te breek en om te stamp. Dit gaan woes tuis. Ons is nie gevrekte soort mense nie. Ons diere ook nie. Plastiekglase is net veiliger by ons.

Ek ken nie vleissnitte nie. Ek weet wat chops, ribs en drumsticks is, maar ek weet nie eintlik wát dit is wat ek nie weet wat dit is nie. Ek weet ook nie hoe werk goeters soos “bedruip”, “blansjeer”, “gratineer”, “krummel”, “glasuur”, “vlok”, “snipper” of “marineer” nie. Ek weet wel hoe werk “verteer”. Terloops, ek moes nou eers al daai woorde in Spruit se gasvryheidstudies-handboek gaan opsoek.

Ek maak my kos meestal in die mikrogolf, want ek's honger en ek's haastig.

Al my kosplebbery is eintlik maar sodat Spruit 'n goeie opvoeding kan kry, en kan leer hoe om nié 'n pleb te wees nie.

Vrydagaande eet ek en Spruit NikNaks en chocolates – die cheap soort. Daai soort wat soos plastiek proe en nie meer as N$10 kos nie.

Verder gooi ons sout oor ons kos nog voor ons dit geproe het. Ons maak pakkiesous by pasta. Three Cheese of Creamy Garlic. Crushed garlic eet ons sommer net so uit die houertjie. Ons koop daai blended soort kookolie – daai soort wat jou hartaanvalle gee. Ons verstaan nie wat mens met kruie doen nie – kruie maak nie jou maag vol nie.

Spruit wend allerhande kreatiewe kosmaakpogings aan. Sy't haar eie pastamaker, roomysmaker en selfs 'n Kook en Geniet. Sy's classy wanneer dit by kos kom. Sy wil als self maak. Maar ook net wanneer sy minstens 12 ure slaap ingekry het, soos op 'n Saterdag, Sondag of vakansiedag.

Ons idee van 'n lekker koppie sop is Cup a Soup – kookwater met groenerige soutpoeier by. Dis mos maar wat dit is.

Vir nagereg meng ek sommer suiker en peanut butter. En dan eet ek dit net so uit die pot uit. Ek het nie tyd vir tjorts in my lewe nie. Skaam. Te. Loos.

Vir kicks kleur Spruit ons pasta, pannekoeke en koekies blou. Dis darem 2% fancier as bleek goeters.

En as jy nou naar is ná jy van al hierdie kommingeit gelees het, dan is jy waarskynlik in die minderheid.

Ja, die minderheid.

Want 'n kossnob (én 'n kospleb) is iets wat jy eintlik net kan wees as jy in die eerste plek baie geld vir kos het.

Selfs mayonnaise kos geld. 'n Mikrogolf ook. En die feit bly staan, honger is 'n daaglikse werklikheid vir duisende inwoners van ons land.

So, ek kou maar my mayo-worsie en bly verder stil, want ek weet daar's mense wat nie eers kan bekostig om so kommin soos ek te kan wees nie.

Soortgelyk

 

Studie-debakel vir Namibiërs in Zambië

1 dag gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is deur die Namibiese hoë kommissariaat in Zambië gewaarsku dat twee universiteite in dié buurland waar 91 Namibiese...

Meatco heroorweeg BTW-besluit

1 dag gelede | Landbou

Nuus van Meatco se herinstelling van die betaling van 15% BTW (belasting op toegevoegde waarde) op alle beestransaksies by die abattoir, is deur die NLU...

Slaggate teen einde Julie herstel

1 dag gelede | Infrastruktuur

Die munisipaliteit van Windhoek verwag dat alle slaggate van die hoofstad se paaie teen einde Julie herstel sal wees. Die woordvoerder van die munisipaliteit, me....

Onderwyseres ‘ontvoer’ skoolmeisie glo vir seks

2 dae gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Onderwyseres van ’n hoërskool in die Suide het gister in die hof verskyn op aanklagte dat sy glo ’n skoolmeisie ontvoer...

Sokkerkoors loop hoog!

2 dae gelede | In beeld

Die opening van 2018 se Wêreldbekersokkertoernooi het gister by die Luzhniki-stadion in Moskou plaasgevind. Nagenoeg 80 000 sokkerliefhebbers het die seremonie bygewoon en die immerbekende...

Vakbond, regering stamp kop oor huishulpe

2 dae gelede | Arbeid

Augetto Graig – Die permanente sekretaris in die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, sê daar steek geen waarheid in die Namibiese...

Vaarwel aan Daantjie Louw

2 dae gelede | Mense

Tielman van Lill - “Stil, broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet, en dis verlaas . . . ”Só is die woorde van die...

Netumbo by slenters betrek

2 dae gelede | Ministeries

Denver Kisting – Slenters doen tans die ronde waarby die adjunk- eerste minister en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, betrek...

Weer vir 15 Junie 2018

2 dae gelede | Weer

WEERWAAK: ‘n Koue front en buie word in die ||Kharasstreek en suidelik kus verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud tot matig in die Suide met enkele...