Ek en die bekmakêniek
Tielman van Lill – Laas Vrydag moes ek weer die tandarts besoek en dink toe onmiddellik terug aan ‘n vroeëre ontmoeting met dié “gewilde” mense.
In Desember 2016 beland ek by ‘n tandarts in Windhoek waar die oorsaak van my ellende vasgestel word.
Die bekmakêniek, soos my ou vriend Jaco sou gesê het, is oordrewe vrinnelik. Nadat sy ’n paar kiekies van my ontstoke tand geneem het, staan sy terstond met ’n spuitnaald nader om die ou spulletjie te verdoof. “Die ding moet vandag nog uit,” soebat ek.
“Noup,” sê sy. “Ons gaan eers hierdie kwaad hokslaan alvorens die outjie getrek kan word en ek sal die senuwees moet uithaal.”
Eers word ’n ou salfie aan die teikenarea gesmeer om die aanvalle van haar spuitnaald op my sagte tandvleise te verdoof. Dit help en ek kan voel hoe die “giffies” hul werk doen.
“Hoe voel die kêrel nou,” verneem sy en tik met een of ander tannespênner teen die tand. “Oooo,” sê ek. “Dié ding lewe nog,” sê sy en staan bedrewe nader en dien ’n galbitter konkoksie toe wat rou aalwynsap na swiets sal laat smaak.
Ek voel hoe die lamtes hier van my kroontjie tot by my nek toesak. Nadat sy my klaar geboor en geswys het, word ek dronkerig losgelaat en verlaat met jellierige bene en ietwat onvaste trant die gebou.
Dit voel vir my of almal kan sien hoe ek lyk en stap selfbewus oor die straat na waar Goose, my ysterperd, staan. Skielik kry ek lus vir ’n sigaret om my aan flarde senuwees te lawe en bedel vir ’n los “ghwai” by ‘n stalletjie teen vyf dollar.
’n Vrou wat langs my geparkeer staan, wil ry en ek staan hoflik opsy. My voet haak aan die randsteen en ek steier nes ’n dronkie en kan sien hoe sy my beloer. “Ek is gespuit,” sê ek met ’n papperige bek en probeer die sigaret tussen my lippe plaas. Ek mis die teiken en die sigaret val op die grond.
Net toe kom daar ’n meterprefek (boetebessie) aangewals. “How are you sir,” vra sy en loer wantrouig na my. “I am fine,” sê ek onnodig en probeer weer die sigaret in my mond kry. Die keer tref ek bedrewe my neus en die rookding val weer. “Did you drink this morning?” vra sy en gee ’n noodroep op haar radio.
Minute later daag ’n padprefek (verkeersbeampte) op. My mond raak nog droër terwyl ek met alles wat pap en dik is na hom kyk. My tong voel rond soos ’n papegaai s’n en kleef aan my verhemelte vas terwyl my regteroog soos ’n ou plooi hang.
“May I see your license and ID please?” vra hy en staan bakhand terwyl ek sukkel om die nodige bewyse beskikbaar te stel.
“Ek kom van die tandarts af,” sê ek met klanke wat vreemd op die oor val. “I’ve heard that one before,” sê hy en gee ’n ingenome grinnik terwyl hy vir sy kollega oogknip.
“Bôgger julle,” dink ek by myself. Ek gaan my nie vandag onskuldig laat vang nie en soek benoud na ’n ontsnaproete. “I want you to come with me for some tests,” sê hy en staan met ’n paar blink boeie nader. Ek gee ’n tree terug en verloor opnuut my balans.
Die beampte kry ’n vasberade blik in sy oog en kry my aan die arm beet. “Wait wait!,” keer ek paniekerig en onthou van die tandarts se faktuur in my hempsak. Voor ek my kom kry klik sy juwele styf om my regterpols. Ek ruk daai broodnodige dokument met die spoed van witlig uit. “Look for yourself,” sê ek ontsteld.
Nadat hy die faktuur deeglik soos ’n vendusie-bees bestudeer het, geen hy die stuk papier terug en sluit die boei oop. “Thanx sir,” sê ek. “Keep up the good work,” sê ek onnodig verlig terwyl ek my kêps opsit.
“Ride safely,” sê hy en bars uit van die lag. “I know who you are and was just playing a joke on you,” voltooi hy die sin tussen sy proese deur. Iewers sal ek die swernoot moet terugkry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie