EFF-lede gryp grond in Gauteng

Grond is in die Storm­­voëlweg-­gebied, Olieven­hout­bosch, Atteridgeville, Soshanguve-Suid en Blue Hills gegryp.
Chaos het Saterdag op verskeie plekke in Gauteng los­gebars toe duisende plakkers, sommige met Toyota Fortuners en ander luukse motors, begin het om vir hulle erwe uit te merk en huise op oop stukke grond te bou.

Minstens tien grond­eienaars van Midrand het teen Saterdagmiddag aanklagte by die polisie ingedien, maar hulle is aangesê om interdikte te kry voordat die polisie kan optree.

Teen Saterdagmiddag het die polisie wel “gesprekke” gehad met die EFF, wat volgens alle aanduidings 'n leidende rol gespeel het.

“Ons het vir hulle gesê dit is nie hul grond nie,” het brig. David Tsotsotso, bevelvoerder van die ­Midrand-polisiekantoor, gesê.

Peter Seolele, die EFF-lid wat volgens die besetters die leier van die grypery was, het ná dié gesprek met die polisie gesê hy het begin om sy mense “huis toe” te stuur.

Maar steeds was gesinne oral met tuinvurke, grawe, pikke en harke besig om grond gelyk te maak, gras te sny, bome af te kap en bosse te verbrand om plek te maak vir nog hutte.



'Magteloos'

“Hierdie is baie scary. Jy kan jou plannetjies maak (teen besetting van jou grond), maar daar is duisende van hulle. Wat de hel doen jy? Jy is só magteloos,” het Marianne Loubser Saterdagmiddag gesê.

Sy woon met haar tienerdogter in die Timsrand-hoewegebied naby Knoppieslaagte.

Hulle het uit vrees nie Saterdagaand by die huis geslaap nie.

Sowat 4,5 km daarvandaan was Maria en Rick Coutsoulis Saterdagmiddag met hul twee jong kinders en hul troetel­diere in hul huis vasgekeer.

Sowat 100 besetters het die pad voor hul huis versper sodat hulle nie kon wegkom nie. Agter hul huis, sowat 10 m van hul heining af, was ander besetters besig om met pangas bome af te kap en erwe uit te merk.

Hulle het die polisie in Olievenhoutbosch, asook die Tshwane-metropolisiediens gebel, maar ure later het niemand hulle nog kom help nie.

Toe hulle foto's en video's van die besettings probeer neem, het iemand van buite die erf op hulle geskree en gevloek, sê Maria.



'Nuwe buurman'

Toe Sean Willis 07:30 Sater­dag by sy boumateriaalwinkel in Blue Hills, Midrand, aankom, was honderde mense besig om vir hulle huise op sy grond te bou.

'n Man het in 'n splinternuwe, spierwit Toyota Fortuner langs Willis se winkel stilgehou. “Hallo, ek is jou nuwe buurman,” het hy gesê. “Danksy die EFF.”

Nog “nuwe bure” het kort-kort opgedaag om hout en pale by Willis te koop.

Willis sê hy is te bang om te weier, want hy vrees dat hulle sy eiendom sal be­skadig as hy hom teësit. “Die waarde van my eiendom val vandag (Sater­dag) elke minuut,” sê hy moedeloos.

Hy besit sowat ses hektaar en hy reken sowat 30 van sy bure se grond is ook beset. Daar is heelwat huise en ondernemings in die omgewing, maar dis meestal ver van mekaar af. Die gebied is 'n klipgooi van Rooihuiskraal en Randjesfontein.



Genoeg plek

Oorkant die N1-snelweg sit die gesogte Midstream Estate-woonkompleks.

Sommige van die besetters het aan Rapport gesê hulle is EFF-lede en dat dié party gesê het daar is genoeg ruimte in Blue Hills “om vir jou 'n stuk te kom vat”.

Madala Mathebula (30), wat Vrydag nog in die nabygeleë township, Olievenhoutbosch, gewoon het, se nuwe eenvertrekhouthuis in Blue Hille het Saterdag teen 11:00 nog net 'n dak nodig gehad.

“Ek was al vieruur van­oggend hier,” sê hy aan Rapport. “Ons het hierdie grond regtig nodig. Ek het nie 'n werk nie en ek moet huur betaal in Olievenhoutbosch. Hierdie gaan my red. Hier is baie plek in dié gebied wat nie benut word nie. Daar is plek vir baie mense.”

Thomas Kekanu (32) van Diepsloot was ewe ­opgewonde. “Ons kry gratis grond,” het hy gesê. “Ek weet nie eens wie dit vir ons gee nie, maar ons is baie bly.”

Teen vandag gaan hier 'n splinternuwe nedersetting wees, het Thabang Tivana, 'n EFF-lid, voorspel.



Vlaag

Cilliers Brink, burgemeesterskomiteelid van die Tshwane-­metroraad, sê die besettings in Midrand was deel van 'n vlaag van grondgrypings.

Die spesiale eenheid teen grondgryping in die Tshwane-metropolisiediens kan nie by al die gevalle uitkom nie, sê hy.

Hy sê dis belaglik dat mense wat as't ware verkeersbeamptes (van die metropolisie) is, grondbesettings moet keer.

Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad, sê daar was grondgrypings in die Storm­voëlweg-gebied, Olievenhoutbosch, Atteridgeville en Soshanguve-Suid.

In die Stormvoëlweg-­gebied het die metro­polisie sowat 100 plakkershutte afgebreek.

Hy sê die grondbesettings hou met mekaar verband en plakkers is aangesê om 12:00 op verskillende plekke toe te slaan.

Die polisie het die metropolisie gehelp om hutte af te breek, sê hy.

Die metroraad staan ook private grondeienaars by om interdikte te verkry teen plakkers sodat die plakkers nie weer op hul grond kom plak nie, sê Msimanga.



Polisie

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede maand ná kritiek van opposisiepartye oor die ANC se beleid van onteiening sonder vergoeding in die parlement gesê: “Ons sal nie grondgrypery toelaat nie.”

Nonkululeko Phokane, woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie, het gesê dis 'n operasionele kwessie.

Brig. Vish Naidoo, nasio­nale woordvoerder van die polisie, het Saterdagmiddag laat gesê enigiemand wat meen sy grond is oorgeneem, moet 'n saak by die polisie indien. Hy het Rapport verwys na Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder in Gauteng, wat heeldag nie op navrae gereageer het nie.

Ook Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.

Willie Spies, prokureur wat gereeld namens AfriForum en AfriSake hofaansoeke bring teen ­onwettige besetters, sê dit is die metropolisie se taak om onwettige grondbesetting te keer.

Die Tshwane-metropolisiediens het byvoorbeeld 'n eenheid teen ­onwettige grondbesetting. Dié eenheid is onder die vorige ANC-stadsraad op die been gebring. Hy sê wanneer grondeienaars interdikte moet verkry, is dit 'n lang en moeisame proses om eers 'n uitsettingsbevel te kry en te laat uitvoer.

Die Tshwane-metropolisiediens het Saterdagmiddag gesê hulle monitor die situasie en alles is “vreed­saam”.

Die Johannesburgse­ metropolisiediens sê niemand het 'n klag by hulle ingedien nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!