ECN gaan Itula se aansoek teenstaan
ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

Die aankondiging van pres. Hage Geingob as die verkose leier vir die volgende vyf jaar moet tersyde gestel word, eis ’n eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat.
Denver Kisting
Denver Kisting – Vanweë die beweerde negatiewe uitwerking van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in die afgelope presidensiële verkiesing moet die proses tersyde gestel word.

Dr. Panduleni Itula, ’n tandarts en Swapo-lid, was die regerende party se amptelike kandidaat, pres. Hage Geingob, se mees gedugte teenstaander in dié verkiesing.

Hy en enkele van die opposisieleiers staan aan die spits van die geding om die kiesuitslae van die presidensiële verkiesing te herroep en moontlik vir Geingob te ontsetel.

Itula en sy bondgenote vra die hoogste hof in die land, die hooggeregshof, om “sonder onbillike versuim” te gelas dat 27 November se presidensiële verkiesing opnuut plaasvind.

Dae nadat die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat gedreig het om die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) hof toe te sleep, is hofstukke op dié liggaam beteken.

Dié stukke beslaan 126 bladsye beslaan en is Woensdaglaatmiddag by die hooggeregshof geliasseer.

Itula sê by monde van sy prokureur, me. Elize Angula, die bekendstelling van EVM's in 2014 strook nie met die vestiging van Namibië as soewereine, sekulêre, demokratiese en eenheidstaat wat gegrond is op die beginsels van demokrasie, die oppergesag van die reg en geregtigheid vir almal nie.

Die grondwetkenner prof. Nico Horn sê ’n grondwetlike aansoek om die afgelope presidensiële verkiesing se uitslae te betwis, kon waarskynlik sterker gewees het as hulle gesteun het op ’n onderneming deur die ECN dat dié liggaam met ’n papierspoor vorendag sou kom as dit nodig sou raak.

Horn sê dit blyk nou dat daardie onderneming nie eerbiedig kan word nie. “Die saak is baie moeilik en ek dink die verkiesingskommissie het ons hopeloos gefaal.”

Itula het onlangs tydens ’n geding voor die verkiesingstribunaal aangevoer die gebruik van EVM’s is nooit soos die kieswet bepaal amptelik in gebruik gestel nie.

In die huidige beplande geding verwys hy egter na die uitgawe van die Staatskoerant waarin die ECN in 2014 amptelik kennis gee oor die gebruik van EVM’s.

Dié toestelle is toe reeds tydens daardie jaar se Nasionale Vergadering en presidensiële verkiesings gebruik.

Hiernaas, voer hy aan, druis EVM’s ook in teen skeiding van pligte kragtens die Grondwet.

Itula meen voorts dié toestelle is eweneens ongrondwetlik omdat hulle gebruik in verkiesings teenstrydig is met Namibiërs se reg op vryheid van politieke aktiwiteit.

Ingevolge dié bepaling – artikel 17 – het alle inwoners die reg om aan vreedsame politieke bedrywighede deel te neem wat daarop gemik is om die samestelling en beleidsrigtings van die regering te bepaal.

Die tandheelkundige meen ook die gebruik van EVM’s het uiteindelik ’n negatiewe uitwerking op die afgelope presidensiële verkiesing gehad.

Hoewel Geingob as oorwinnaar uit dié stryd getree het, het Itula hom plek-plek by sekere kiesafdelings verslaan.

Die voorsitter van die ECN, adv. Notemba Tjipueja, het Saterdagaand 30 November vir Geingob as verkose president aangewys.

Volgens Itula en sy swaargewigspan se ontleding van die Grondwet het die gebruik van die EVM’s ook ’n impak op die totstandkoming van wetsontwerpe tot wette met die handtekening van die president.

Buitendien plaas die gebruik van elektroniese stemtoestelle die uiteensetting en samestelling van die ECN soos die Grondwet daarvoor voorsiening maak in gevaar, voer Itula in sy stukke aan.

Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani van die Popular Democratic Movement (PDM), sê hulle voer ’n ander strategie in die mou.

Teen alle verwagting in het Venaani hom nie by Itula en kie. as aansoeker geskaar nie.

Mnr. Theo Mujoro, die hoofkiesbeampte van die ECN, het gister gesê: “Ons sal dit definitief teenstaan.”

Horn sê vir Itula se aansoek om te slaag, sal die hof moet bevind “die kennis wat ons nie het nie of wat daar binne in die masjiene is wat nie vir ons gegee kan word nie,” is so wesenlik dat dit die uitslae sou kon beïnvloed.

Itula se saak word “’n bietjie versterk” omdat “hy nie wil hê dat die uitspraak moet sê dat hy gewen het nie; hy wil net hê die moontlikheid moet aanvaar word dat sy teenstander (Geingob) nie 50% van die stem gekry het nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!