Eagles se ambisie hoog ingestel

Krieket

17 April 2019 | Sport
Tielman van Lill - Krieket Namibië het sy nasionale Eagles-groep van 14 spelers bekend gestel wat vanaf komende Saterdag in Windhoek aan ’n deurslaggewende sesnasie-toernooi gaan deelneem.

Die Internasionale Krieketraad (ICC) se 2019 Wêreldkrieketliga afdeling 2-toernooi (WCL2) tussen die assosiaatlande Namibië, Hongkong, Kanada, Oman, Papoea-Nieu-Guinee en die VSA word vanaf Saterdag by Wanderers en Affiespark in Pionierspark asook die United-ovaal in Olympia aangebied.

Die Eagles onder aanvoering van kaptein Gerhard Erasmus sal alles in hul vermoë doen om die kompetisie te wen. Dit is Namibië se enigste kans om die proses aan die gang te sit om vir die eerste keer sedert 2003 weer vir ’n groot ICC-toernooi, naamlik die 2023 Wêreldbeker in Indië te kwalifiseer.

By die 13de Wêreldbeker sal daar net plek vir tien lande wees, net soos wat ook vanjaar die geval met die skouspel in Engeland en Wallis in Juniemaand is.

Die heel belangrikste taak in die komende week se toernooi is om Namibië se plek in Afdeling 2 te beskerm en relegasie af te weer (vyfde en sesde), sodat die Eagles in 2021 saam met dié afdeling se kwalifiseerders asook ’n paar hoër gerekende spanne in tel vir die latere WB-uitduntoernooie kan bly.

Vir die sterker krieketlande wag die ICC se heel eerste Superligareeks (Mei 2020 tot Maart 2022) waaraan die top-12 plus Nederland gaan deelneem. Net die voorste sewe lande in die reeks, asook die gasheerspan Indië kwalifiseer regstreeks vir die 2023 Wêreldbeker, asook twee wat die finale uitspeelrondes oorleef.

2003 ONTHOU

Namibië het vir die 2003 Wêreldbeker in Suid-Afrika gekwalifiseer, waar hulle in ’n groep saam met Australië, Engeland, Indië, Nederland, Pakistan en Zimbabwe geplaas was.

Die Namibiërs het wel al hul wedstryde verloor, maar het byna vir ’n opskudding teen Engeland gesorg toe Rudie van Vuuren vyf paaltjies vir 43 lopies neem en Jan-Berrie Burger 85 lopies moker. Engeland het wel met 55 lopies gewen, maar kon Namibië nie in sy toegelate 50 boulbeurte uitboul nie en met dreigende reënwolke kon hulle in die knyp gewees het terwyl Burger en Danie Keulder saam die lopies laat vloei het.

Gavin Murgatroyd en Keulder, wat deel van die 2003 wêreldbekerspan was, het by die spanaankondiging vandeesweek van hul vasberadenheid vertel om vir dié 2003 WB te kwalifiseer.

“Ons het nie veel van die ander lande se spelers gedink nie. Ons was almal bloot amateurs wat lief was vir krieket en het met die aanloop om te kwalifiseer daaraan gewoon geraak om te wen.

“In die kwalifiserende toernooi die vorige jaar in Kanada moes ons tien eendagwedstryde opeenvolgend teen assosiaatlande wen, waarin ons ook geslaag het. Toe ons met die veldtog om WB-kwalifisering begin het, het ons aan die begin amper gewen; later het ons wel begin wen en algaande het dit ’n gewoonte geword om oorwinnings te behaal,” het die twee verduidelik.

WCL2

Die toernooi van eendagkrieket in Windhoek begin met die rondomtalie-groepfase, voor die uitspeelwedstryde vir die finale posisies op Saterdag 27 April. Drie wedstryde word elke dag gespeel, met Maandag en die Donderdag as rusdae (reserwedae indien nodig).

Die Eagles se wedstrydbepalings is soos volg:

Saterdag 20 April: teen Papoea-Nieu-Guinee by Wanderers.

Sondag 21 April: teen VSA by Wanderers.

Dinsdag 23 April: teen Kanada by United.

Woensdag 24 April: teen Oman by Affiespark.

Vrydag 26 April: teen Hongkong by Affiespark.

Saterdag 27 April: uitspeelwedstryd vir finale posisie.

Die toernooi is Namibië se eerste ernstige toets vandat Pierre de Bruyn as nasionale afrigter oorgeneem het. Albie Morkel en HD Ackermann tree as konsultante op en Dee Thakur is die spanbestuurder.

Op papier het Namibië een van sy sterker spelersgroepe van die afgelope jare. Die aansluiting van die linkerarm naatbouler Christi Viljoen, wat provinsiale krieket vir Otago in Nieu-Seeland speel, is welkome nuus, asook JJ Smit se terugkeer na volle fiksheid as waarskynlik Namibië se vinnigste snelbouler. Jan Frylinck, Bernard Scholtz, Tangeni Lungameni en Zhivago Groenewald is ook ervare boulers op dié vlak.

Craig Williams se terugkeer van sy vroeër uittrede laat die kolflys stewiger vertoon, terwyl Stephen Baard se ondervinding in Nieu-Seeland handig te pas kan kom. Jean Bredenkamp het ook sy Namibiese paspoort verkry ten einde op internasionale vlak te kan speel.

Daar sal gewis ook op JP Kotze, Zane Green en Picky ya France se knoppie vir waardevolle lopies gedruk word, want die mededinging tussen Namibië en die ander vyf spanne was die afgelope jare iets geweldig.

Die Eagles: Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck (onderkaptein), Stephen Baard, Jean Bredenkamp, Karl Birkenstock, Zane Green, Zhivago Groenewald, JP Kotze, Tangeni Lungameni, Bernard Scholtz, JJ Smit, Christi Viljoen, Craig Williams en Picky Ya France.

- [email protected]

Soortgelyk

 

NSFAF sluit ooreenkoms met Bank Windhoek

1 uur gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) en Bank Windhoek het vandag ʼn ooreenkoms aangegaan vir ʼn nuwe stelsel waardeur geld aan kwalifiserende studente gestuur...

Chinees Dinsdag in hof ná werker se skietdood

1 uur gelede | Misdaad

Die man wat gister na bewering deur sy Chinese werknemer in die Andara-nedersetting doodgeskiet is, is as mnr. Andreas Hausiku (32) geïdentifiseer.Hausiku was ‘n inwoner...

Twintig jaar tronkstraf vir verkragter

2 ure gelede | Howe

‘n 34-jarige man van Otjiwarongo is gister 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ‘n minderjarige. Die dogter was...

Taking charge

13 ure gelede | Mense

Mariselle Stofberg Anthea van Heerden decided to take a leap of faith to start her own company in Windhoek.She is the managing director and...

Moontlike deurbraak

13 ure gelede | Misdaad

Denver KistingDie man wat gisteroggend weens Maandag se bloedbad op Arandis aangekeer is, het glo vir etlike ure geweier om met die polisie saam te...

Só staan sake in die Namibiese huis

13 ure gelede | Regering

Denver KistingPres. Hage Geingob het gistermiddag gesê sy boodskap van “welvaart vir almal” moenie verkeerd verstaan word nie.Volgens hom was die bedoeling nooit om oordaad...

Kabajani blossoms at GIPF

13 ure gelede | Mense

Michelline Nawatises Annette Likeleli Kabajani is a holder of a bachelor’s degree from the University of Namibia (Unam). She has also attained several management and...

Baking a name for herself!

13 ure gelede | Mense

Ester Kamati At the age of 28, Alma Tangi Nakanduungileh is climbing the entrepreneurial ladder and adding sweetness to her clients’ lives. A qualified...

A passion to unlock potential

13 ure gelede | Mense

Ester KamatiJustina Mulokoshi is a chartered accountant (CA) at PwC who has big dreams and is constantly on the lookout for new ways to improve...