Drywer rinkink glo met ampsmotor

Die man wat glo ’n regeringsvoertuig misbruik, is steeds in die tuig.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het ’n voorlopige ondersoek gelas na die beweerde misbruik van een van sy ampsvoertuie nadat Republikein verdagte videomateriaal hiervan gepubliseer het.

Mnr. Charles Kabajani, die waarnemende uitvoerende direkteur, het gister gesê die bewerings het hulle Vrydag bereik en hulle het onmiddellik opgetree.

Volgens hom behoort die ondersoek eersdaags afgehandel te word.

Omdat die ondersoek nog nie voltooi is nie, is dit moeilik om in hierdie stadium enige besonderhede te verstrek, het Kabajani gesê.

Hy wou ook nie bevestig die werknemer is me. Katrina Hanse-Himarwa, die minister, se motorbestuurder nie.

Aanvanklik is beweer die voertuig was in ’n motorongeluk toe Hanse-Himarwa se bestuurder glo onder die invloed van alkohol roekeloos en nalatig bestuur het.

Republikein het haar Donderdagmiddag gevra of sy hiervan kennis dra.

Al wat sy toe gesê het, is dat sý nie in ’n motorongeluk betrokke was nie en die beweerde voorval ook nie onder haar aandag gebring is nie.

Hanse-Himarwa het gister gesê sy is onbewus van langtermynmisbruik omdat dít nie onder haar aandag gebring is nie. “Neem kennis daardie voertuig is nie een van my amptelike voertuie nie. Dit word normaalweg gebruik deur drywers om te reis na baie belangrike persone (BBP’s) se huise om hulle vir pligte op te tel.”

Die BBP’s word van hul huise in amptelike BBP-motors vervoer, sê sy. “Dit bly onaanvaarbaar vir ’n amptelike drywer om enige GRN-voertuig te wanbestuur. Ek veroordeel die optrede van die drywer; die toepaslike owerheid moet geskikte stappe doen.”

Volgens Kabajani is die werknemer nog nie geskors nie omdat dit sal afhang wat die voorlopige ondersoek aan die lig bring.

Oor die presiese klagte wat die werknemer in die gesig staar, was die waarnemende uitvoerende hoof eweneens onwillig om inligting te verskaf. “Jy het vir my gesê dis ’n kar wat misbruik is; ’n kar wat op een of ander manier beskadig is. Ek dink dit is al.”

Op ’n vraag oor die aard van die betrokke voertuig het Kabajani gister gesê: “Ek weet dis ’n kar. Ek kan nie die tipe kar onthul nie, maar ons beskik oor die inligting.”

Werknemers van die ministerie sê die storie loop dik by Government Office Park, waar die hoofkantoor geleë is, dat dié bestuurder glo dikwels met die amptelike voertuig op nieamptelike sendings was.

Elvira Hattingh berig dit volg nadat lesers video aan Republikein oorhandig het waarop beweerde verdagte aktiwiteite vasgevang is. Dit het op Sondag 11 Maart omstreeks 19:00 in Brakwater in ‘n oop parkeerarea agter die Poor Sinclair’s Katolieke Kerk gebeur.

Volgens ooggetuies het twee motors aanvanklik op die oop stuk grond parkeer - ’n wit Hyundai Accent met die registrasiemerke GRN 996 en nog ’n donkerkleurige sedanmotor.

Op die video kan gesien word hoe die regeringsmotor, wat op die oog af skade oraloor sy panele het, se band geruil word.

Later word sy nommerplate verwyder, terwyl die donkerkleurige sedanmotor weer sy verskyning maak en daar skynbaar geld aan die persoon oorhandig word wat besig is om die plate af te haal. Daar word ook plan gemaak om die beskadigde kattebak toe te maak voordat die beskadigde regeringsmotor met sy noodligte aan wegry.

Die ooggetuies sê hulle het die stadspolisie van die verdagte aktiwiteite in kennis gestel, maar die polisie het glo eers opgedaag nadat die verdagtes weer weggery het.

Republikein het die video geredigeer en dit, asook die oorspronklike, aan die ministerie van werke en vervoer oorhandig. Dié ministerie is vir die regeringsvloot verantwoordelik. Intussen is Republikein se geredigeerde weergawe in sosiale media versprei.

Konstabel Romeo Simasiku, ’n woordvoerder van die stadspolisie, het gistermiddag bevestig hulle ondersoek die saak.

Republikein het in Julie verlede jaar berig die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat Hanse-Himarwa in ’n ongeluk was.

Haar ampsmotor en ’n Toyota Hilux-bakkie was in dié botsing betrokke.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!