DRK-verkiesing wys op nuwe kultuur van demokrasie
Phyllis Taoua - Die verkiesing in die DRK dui onteenseglik op die nuwe kultuur van demokrasie wat besig is om in Afrika pos te vat, skryf Phyllis Taoua.
Op 30 Desember 2018 het 46 miljoen burgers hul stemme in 'n historiese verkiesing in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) uitgebring.
Daar was nog nie 'n vreedsame oordrag van mag in dié land sedert die einde van Belgiese heerskappy in 1960 nie. As dié verkiesing 'n uitslag oplewer wat oor die algemeen as geloofwaardig beskou word, sal dit 'n nuwe era van verteenwoordigende regering in Afrika inlui.
Die uitstel van verteenwoordigende regering in die DRK het 'n lang geskiedenis. België het ná die Berlyn-konferensie (1884-'85) die Kongo as 'n koloniale gebied verkry en van Léopold II tot koning Boudewyn I het Belgiese administrateurs aan die hoof van een van die wreedste regimes op die vasteland van Afrika gestaan.
In 1960 het Patrice Lumumba die eerste premier geword en die mag met Joseph Kasa-Vubu, die vise-president, gedeel.
'n Sameloop van interne en eksterne faktore het tot 'n krisis gelei, waarin Lumumba in 1961 vermoor is en Mobutu Sese Seko se magsopgang begin het.
Hy het vanaf 1965 met die steun van Westerse lande sy land se natuurlike hulpbronne geplunder en hy was een van die hardnekkigste hekwagter-diktators in die 20ste eeu.
Hy het langer as 30 jaar aan die mag vasgeklou.
Laurent-Désiré Kabila het in 1997 oorgeneem as president te midde van konflik wat uit die Rwandese volksmoord in 1994 na die Kongo oorgespoel het.
Kabila se lyfwagte het hom in 2001 vermoor en sy seun, Joseph, wat sedertdien aan bewind is, het hom opgevolg.
GEWELDDADIGE BETOGINGS
Gewelddadige betogings het in 2006 en 2011 op die verkiesings gevolg.
Pro-demokrasie aktiviste doen sedert 2012 stille werk in die Kongo wat besig is om vrugte af te werp. 'n Onlangse voorbeeld is die mobilisasie van 21 burgerregte-organisasies wat onderneem het om die uitslag van die verkiesing op niegewelddadige wyse te beskerm. Daar is ongetwyfeld 'n paradigmaskuif van historiese belang aan die gang.
Ondanks die teenwoordigheid van 40 000 waarnemers is wydverspreide ongerymdhede in die onlangse verkiesing gedokumenteer.
Voorlopige verslae deur die magtige Katolieke Kerk, wat regstreeks kennis van die proses het, dui nietemin op 'n duidelike sege vir een presidensiële kandidaat. Diplomatieke bronne identifiseer die wenner as Martin Fayulu.
Sedert die uitslae van 31 Desember 'n oorweldigende sege vir Fayulu bevestig het, het die regering die internet, die sein van Radio France Internationale asook selfoondienste landswyd opgeskort.
VERTRAGINGSTEGNIEK
Baie glo Kabila se poging om die verkiesing te manipuleer ten gunste van sy uitgesoekte opvolger, Emmanuel Ramazani Shadary, het misluk.
Hulle beskou die optrede teen die inligtingsnetwerke as 'n vertragingstegniek en sensuur, eerder as die beweerde poging om fopnuus uit te skakel.
Terwyl die wêreld te midde van toenemende internasionale druk op die nasionale verkiesingskommissie wag om die uitslae amptelik aan te kondig, is dit reeds moontlik om te sien dat betekenisvolle verandering in die DRK plaasgevind het.
Die massiewe toestroming na die stembusse onder baie moeilike omstandighede is 'n duidelike bewys dat die mense van die DRK verbind is tot 'n demokratiese oorgang, hoewel die proses ver van volmaak was.
* Taoua is 'n professor aan die Universiteit van Arizona waar sy onder meer Franstalige lande in Afrika bestudeer.
– Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie