Drie maande om misdaad nek om te draai
Drie maande om misdaad nek om te draai

Drie maande om misdaad nek om te draai

Volgens die Namibiese polisiehoof sal daar afgereken word met beamptes wat lui, korrup of dronk is.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het polisiebeamptes drie maande gegee om van misdaad in Windhoek ontslae te raak.

Só het hy gister aan polisiebeamptes van die Wanaheda-, Katutura- en Otjomuise-polisiekantoor gesê.

“In die volgende drie maande moet ons alles wat ons het vat en na die front neem om die stad skoon te maak. Ons moet misdadigers verdryf,” het hy gesê.

Hy het ook gesê hy wil nooit weer hoor van ’n toeris wat in die stad beroof is nie.

“Ons moet in die strate sigbaar wees en voetpatrollies doen. Beamptes moet waaksaam wees. Hulle moenie lyk of hulle besig is om loerinkopies te doen nie. Daar is groot fout met die ontplooiing van voetpatrollies en die identifisering van gevaarpunte. Dit moet verander,” het hy gesê.

“Daar is groot probleme wanneer dit by die veiligheid en sekuriteit van die stadsgemeenskap kom.”

Volgens Ndeitunga weet die polisie waar bendes soos Boko Haram uithang, en ook van sjebeens wat 24 uur per dag onwettig bedryf word.

“Waar is die polisiebeamptes? As ons weet van plekke moet ons daar wees. Vroue is nie meer veilig om op hul eie op straat te stap nie. Studente word deur onwettige taxidrywers beroof, hulle is nie veilig nie. Die gemeenskap het hul vertroue in die polisie verloor.”

Volgens Ndeitunga moet beamptes van die Namibiese polisie met die stadspolisie saamwerk en verkeersbeamptes moet meer sigbaar wees.

“Daar was ’n kragonderbreking in Windhoek wat tot groot verkeersopeenhopings gelei het. Die polisie was nêrens te sien nie. Ons moet gereed wees vir enige noodgeval in die stad en optree. Wat ’n mooi gesig sal dit nie wees as ons ’n polisiebeampte by ’n skool sien wat kinders veilig oor die straat help nie, of wat by ’n kruising in die oggend- of aandverkeer die verkeer lei en beheer nie.”

Hy het die teenwoordige beamptes gevra of hulle maandeliks ’n salaris ontvang en of hulle dink hulle verdien dit.

“Daar is polisiebeamptes wat hier sit wat ’n salaris ontvang en absoluut niks doen om dit te regverdig nie,” het hy gesê.

Ndeitunga het vertel van vier beamptes wat op Oshakati in hegtenis geneem is ná hulle glo gevangenes se kos gesteel het.

Hy het ook gesê hy is bewus van beamptes wat dossiere steel en verkoop.

“Ek weet julle verkoop dit vir N$500. Julle verdien nie om in die polisiemag te wees nie. Ek waarsku alle beamptes om nie by misdaad betrokke te wees nie. Julle wat hier sit, moet my inlig van kollegas wat lui, korrup en dronk is sodat ek stappe teen hulle kan doen,” het hy gesê.

Hy het gesê ’n polisiekantoor is nie beamptes se persoonlike kantoor nie, maar ’n openbare kantoor.

“Mense wat by ’n polisiekantoor instap, moet professioneel en met respek benader en hanteer word.”

Volgens Ndeitunga het die kantoor van die eerste minister ’n openbare opname oor die polisiediens gedoen, waarvolgens hulle baie swak gevaar het.

“Die mense is gevra of hulle al ’n polisiekantoor besoek het. Baie van hulle het gesê hulle het, maar die beamptes het hulle nie gehelp nie óf het belowe om hul sake te ondersoek, maar het nooit opgedaag nie. Dit is nie aanvaarbaar nie.”

Wanneer ’n verdagte in hegtenis geneem word, moet die persoon volgens Ndeitunga beskerm word.

“Ek weet van ’n geval by die Katutura-polisiekantoor waar die polisiebeampte vir ’n gevangene gesê het hy gaan hom in ’n sel saam met verkragters toesluit sodat hy verkrag kan word. Elkeen wat in hegtenis geneem word, is onskuldig tot ’n hof hulle skuldig bevind het. Julle is nie die aanklaer, hof of wet nie. Julle is net polisiebeamptes wat die gemeenskap moet dien,” het hy gesê.

Hy het die polisie se eenheid vir dwelms en ernstige misdaad geprys vir die werk wat hulle doen, en ander gemaan om hul sokkies op te trek.

“Dié wat niks doen nie is besig om die polisie se beeld te besoedel, terwyl al ons pogings daarop moet fokus om Khomas van misdadigers te bevry.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!