Drie dae van rou vir Castro aangekondig
Die drie staatshoofde wat Namibië sedert onafhanklikwording gehad het, is deel van ‘n Namibiese afvaardiging wat in Havana ‘n roudiens vir die ontslape leier van die Kubaanse revolusie bygewoon het.
Estelle de Bruyn
Namibië het drie dae van nasionale rou vir die ontslape Kubaanse oudpresident, Fidel Castro, aangekondig.
Pres. Hage Geingob het die aankondiging gedoen terwyl hy gister ‘n gedenkdiens vir Castro in Havana bygewoon het. Castro is verlede Vrydag in die ouderdom van 90 jaar oorlede.
Die rouperiode sal van Vrydag 2 Desember tot Sondag 4 Desember duur en alle Namibiese vlae sal op die drie dae halfmas vertoon word.
Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie het gisteraand in ‘n verklaring gesê ‘n gedenkdiens vir Castro sal om 15:00 op 6 Desember in die parlementstuin gehou word. Geingob sal die geleentheidsrede lewer.
Geingob word op sy besoek aan Kuba vergesel deur die stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, oudpres. Hifikepunye Pohamba, die minister van veiligheid en sekuriteit, genl.maj. (afgetree) Charles Namoloh, Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, en ‘n ongeïdentifiseerde oorlewende van die Cassinga-slagting.
“Wat is die prys van vryheid? Wat is die koste om ‘n nasie te bevry? Hoeveel betaal jy ‘n land wat vir jou geveg het toe ander bondgenote van jou vyand was?” het Geingob met die aanvang van sy toespraak gevra.
Hy sê Castro het geen bymotiewe gehad in die hulp wat aan Namibië verleen is nie en wou slegs die vryheid van die mense verseker. “Hy het geen belangstelling gehad in die vele natuurlike hulpbronne van Namibië nie. Dit was sy gesindheid dat die Kubane nie gekom het om goud en diamante bymekaar te maak nie. Al wat hulle wou terughê, is die oorskot van hul gevalle kamerade.
“Terwyl ons ons vyande vergewe het, sal ons nooit ons vriende vergeet nie. Die mense van Kuba is ons vriende. Fidel is ons vriend, nou en vir altyd,” het Geingob gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie