Doodsnik-drama sien UJ seëvier
Rugby
Tinus van Staden
Hy moes sy doellyn in die doodsnikke verwoed verdedig en staatmaak op sy teenstander se losskakel om ’n verspot maklike doelskop te mis, maar die Universiteit van Johannesburg (UJ) het sy eerste oorwinning in vanjaar se Varsitybeker-reeks behaal.
UJ het Maandag op sy tuisveld Tukkies met 18-17 geklop, maar die besoekers het alles in hul vermoë gedoen om dié wedstryd te verloor.
Tukkies sal bitter vinnig maniere moet vind om goeie bewegings af te rond en gunstige veldposisies in punte te omskep.
Die Pretoriase studente het deurgaans kanse gehad om punte aan te teken. Hulle moes in die eerste helfte reeds ’n stewige voorsprong opgebou het, veral nadat UJ se vleuel Godfrey Ramaboea ’n geelkaart gekry het omdat hy ’n bal in sy eie kwartgebied afgeklap het.
Tuks kon nie voordeel trek teen ’n span met 14 spelers nie en die spanne het met die telling op 6-6 gaan rus.
Nadat die besoekers se stut Neethling Fouché ’n geelkaart vroeg in die tweede helfte gekry het, het die tuisspan die wedstryd beheer.
Maar in die doodsnikke, en met die telling op 18-12 in die tuisspan se guns, het Tuks bykans reg onder die pale ’n drie gedruk. Joshua Stander, Tuks se plaasvervanger-losskakel, het egter die doelskop skeefgetrek.
Niemand kan UJ se agterlyn daarvan beskuldig dat hy nie ondernemingsgees met die bal in die hand uitstal nie, maar die uitvoering het telkemale makeer en belowende bewegings is sodoende in die kiem gesmoor.
Die ligte reën wat deur die loop van die wedstryd uitgesak het, kan hier as ’n verskoning voorgehou word.
Daarbenewens het albei spanne se agterlyne ook gereeld té skeef oor die veld gehardloop, sonder enige buite-agterspelers wat met slim hardlooplyne en -hoeke gapings probeer soek het.
Die tuisspan se skrum was, veral in die eerste helfte, in trurat, maar op die grond bly UJ ’n derduiwel met sy losvoorspelers en haker, Jannes Snyman, wat altyd om die losbal meeding.
Tukkies se skrumskakel, Theo Maree, was hul beste speler. Die skopskoen van UJ se losskakel, Divan Nel, was die verskil tussen die spanne.
UJ 18 (6): Strafdoele: Divan Nel (6).
Tukkies 17 (6): Drie: Denzel Hill (5). Strafdoele: Tinus de Beer (3), Joshua Stander. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie