'Donker wolk oor Namibië'

Dodelikste naweek in jare op paaie
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het padgebrui­kers se gedrag gister as hoofoorsaak van die ongelukke geïdentifiseer wat tot een van die dodelikste naweke in 'n lang tyd op Namibiese paaie gelei het.

In die sowat 30 uur tussen Vrydagmiddag en Saterdag 20:00 het 23 mense in vyf verskillende ongelukke gesterf en 37 is beseer. Sover vasgestel kon word, is ten minste 'n derde van die oorlewendes se toestand ernstig tot kritiek.

Hoewel die polisie se ondersoeke ver van afgehandel is, blyk dit spoed, oorlading, dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur word as oorsake ondersoek.

Ndeitunga het by navraag aan Namibian Sun gesê “daar was die naweek 'n donker wolk oor Namibië”.

“Ek kan vir jou sê ek het nie woorde nie . . . Dit was regtig 'n baie, baie hartseer naweek.” Hy het die meeste van die ongelukke op mense se gedrag en ingesteldheid geblameer.



EERSTE ONGELUK

In die eerste van die ongelukke het die 47-jarige mnr. Werner Beddies Vrydag oor die middaguur gesterf toe sy voertuig van voor in 'n vragmotor van Namlog vasgery het. Dit het naby Seeis gebeur.

Beddies was in die rigting van Witvlei onderweg.

Mnr. Christo Swart, Namlog se uitvoerende hoof, het aan Republikein gesê die bestuurder van die vragmotor, mnr. Alex Coetzee, het na die skouer van die pad beweeg om die naderende voertuig te vermy, maar “dit het steeds in sy rigting bly kom”. (Lees ook die berig op bl. 2.)

Die impak was só erg dat die vragmotorkajuit in die rigting van die teer teruggeswaai het en aan die brand geslaan het.

Die verfrommelde wrak van Beddies se motor het 'n ent verder aan die teenoorgestelde kant van die pad tot stilstand gekom, waarná dit ook uitgebrand het. Beddies is uit die wrak geslinger.

“Toe ons die lorrie later oplig, was dele van die motor onder die trok,” het Swart gesê.

Coetzee het net geringe beserings opgedoen. “Sy regterknie is beseer en 'n toon aan sy regtervoet is gebreek. Hy is Saterdag­oggend uit die hospitaal ontslaan,” het Swart gesê.



SLAGTING BY KALKFELD

Altesaam 13 mense is op slag dood toe 'n 16-sitplek minibus, waarin 42 mense gereis het, Vrydag om 17:35 sowat 1 km buite Kalkfeld gerol het.

Die groep het uit 'n kerk op Okamatapati naby Okakarara se koorlede bestaan. Hulle was op pad na Swakopmund vir die naweek.

Volgens hoofinsp. Kauna Shikwambi, woordvoerder van die polisie, het die minibus se linkeragterband op 'n draai gebars en het die bestuurder (34) beheer oor die voertuig verloor.

Al 29 oorlewendes is beseer. Die bestuurder is met kritieke beserings na die Katutura-staatshospitaal in Windhoek vervoer, maar het later beswyk.

Volgens 'n nooddienswerker op die toneel was baie van die insittendes kinders wat op volwassenes se skote gesit het.

Adj.komm. Naukalemo Andreas, koördineerder van misdaadondersoeke in die Otjozondjupa­streek, het gister gesê 10 van die beseerdes se toestand was sodanig dat hulle met ambulanse na Windhoek geneem moes word. Die ander is in die staatshospitaal op Otjiwarongo opgeneem.

Nege van die oorledenes wat sover deur die polisie geïdentifiseer is, is mee. Justine Tjiuoro Hijarunguru (55), Uakasuva Eveline Katjeringo (48), Menesia Kaninganazo (ouderdom onbekend), Runaa Humbuu Emgard (37), mnr. Siegfried Hausiku (ouderdom onbekend), die 13-jarige Kakuhire Katjeringo, me. Urioi Rukero (29), die sewejarige Mehepa Hepundjua Rukero en 'n ses maande ou babaseuntjie, Vizamuje Kavari.

Ndeitunga sê hy wil weet “hoe kon 'n redelike mens 42 mense in 'n minibus laai wat net 16 mense kan vervoer”.

Hy sê selfs die passasiers moes besef het hulle kan nie soos sardiens in 'n minibus gepak word nie.

“Hulle moes geprotesteer het en gesê het hul lewens is in gevaar.”

Afgesien daarvan dat kinders glo op volwassenes se skote gesit het, lyk dit of leë bierkratte ook as sitplekke gebruik is.

Ndeitunga sê dit is so dat die polisie en verkeerspolisie meer sigbaar op paaie moet wees, maar het bygevoeg “die publiek moet ook seker maak hul lewens word nie in gevaar gestel nie”.

Mnr. Vetaruhe Kandorozu, streekraadslid vir Okakarara, sê dit is die grootste ramp wat die gemeenskap van Okamatapati nog getref het.

Volgens hom was al die insittendes lidmate van die Bonga-kerk.



DRONKBESTUUR LEI GLO TOT ­WALVIS-ONGELUK

Die 49-jarige bestuurder van 'n sedanvoertuig wat omstreeks 08:30 Saterdag 10 km buite Walvisbaai op die C14-pad omgeslaan het, word onder polisiebewaking in die staatshospitaal op die dorp behandel.

Dit volg nadat hy van strafbare manslag en dronkbestuur aangekla is.

Die 47-jarige mnr. Shikalepo Matheus Hamutenya, een van die twee passasiers in sy voertuig, is op die ongelukstoneel dood terwyl die ander passasier beseer is en in dieselfde hospitaal as die bestuurder behandel word.

Volgens die polisie se verslag van die gebeure het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor.

“Hy is in hegtenis geneem nadat hy positief vir alkohol getoets het,” sê Shikwambi in haar verslag.



TROMPOP BOTSING BY OTAVI

Vier mense is omstreeks 16:00 Saterdag dood in 'n botsing reg van voor tussen 'n sewesitplek stasiewa en 'n bakkie. Dit het 30 km noord van Otavi gebeur.

Volgens die polisie se verslag het die bestuurder van die stasiewa reg van voor in die bakkie vasgery. Hy het na bewering 'n voertuig op 'n blinde hoogte verbygesteek toe hy van Tsumeb af in die rigting van Windhoek onderweg was.

Die 24-jarige bestuurder en drie van sy passasiers, 'n man, vrou en kleutermeisie, is op slag dood. Die ander drie insittendes is ernstig beseer. Hulle is per ambulans na die On­gwediwa Medi Park vir behandeling geneem.

Die 37-jarige bestuurder van die bakkie en sy twee passasiers het ligte beserings opgedoen en hulle is in die staatshospitaal op Tsumeb opgeneem.

Teen gister was die oorledenes se naasbestaandes nog nie almal van hul dood in kennis gestel nie.



VERMEENDE DRONKE TREF VOETGANGERS

In die laaste van die vyf voorvalle is twee vroue en 'n nege maande oue babameisie Saterdagaand dood toe 'n vermeende dronkbestuurder hulle met sy Land Cruiser getref het. Die vroue het langs die pad gestap; een met die baba op haar rug.

Die voorval het omstreeks 20:00 naby die Okakwa-nedersetting tussen Outapi en Oshakati gebeur.

Hulle is as mee. Selma Kakolo Kahungu en Martha Aipanda uitgeken en die baba as Loide Latenda Fillipus.

Die 41-jarige bestuurder sal vandag in die landdroshof op Outapi op klagte van stafbare manslag en dronkbestuur verskyn.





'Naweke skuif ons v­eiligheid opsy'

'n Padveiligheidskenner waarsku ná 'n naweek met soveel voorvalle soos die pasafgelope een “oe en aa almal” oor die gebeure net om dan weer van die probleem te vergeet.

Mnr. Aubrey Oosthuizen, stigter en operasionele koördineerder van die West Coast Safety Initiative, sê as die stof gaan lê het, beoefen mense weer hul volstruispolitiek en verkies om die probleem op ons paaie te vergeet.

“Ons moet na die groter prentjie kyk. Padveiligheid bestaan uit vyf komponente naamlik opvoeding, wetstoepassing, die toestand van die paaie, nooddienste en evaluering.

“As een van die komponente nie ­behoorlik geïmplementeer is nie, beleef ons dat paaie minder veilig is. Dit is so in eerstewêreldlande en dit is so in derdewêreldlande,” sê Oosthuizen.

“Ons het 'n aktiewe aksieplan nodig. Een wat geïmplementeer én onderhou word,” meen hy.

Volgens hom is politici en organisasies soos kerke nie uitgesproke genoeg oor die probleem nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!