Divan direkteur van Namibiese rugby
Divan direkteur van Namibiese rugby

Divan direkteur van Namibiese rugby

Rugby
Stephen Nell - Die voormalige Springbok-kaptein Divan Serfontein het sy gewig agter Namibië gegooi om dié buurland van Suid-Afrika te help om sy regmatige plek in wêreldrugby te neem.

Serfontein (63) is ’n handelsmerk-ambassadeur vir die Namibië Brouerye, ’n borg van Namibiese rugby. Hy is van daar benoem om as direksielid te dien van Namibië Rugby Beperk, wat rugby in Namibië bestuur.

Hy het aan Netwerk24 gesê daar word hard gewerk om Namibiese rugby op te hef.

“’n Maatskappy is gestig om amateur- en beroepsrugby te bestuur. Daar word gekyk na kontraktering van spelers, ontwikkeling en die uitbou van die handelsmerk van Namibiese rugby,” sê Serfontein.

“Ons gaan poog om rugby in Namibië te versterk, dit uit te bou en ’n finansiële inspuiting te gee. Ons wil die spelers behou wat ons kan, ander bykry en ook spelers ontwikkel.”

Serfontein se wens is dat die Namibiese span weer skares sal kan lok.

Mervin Green, ’n voormalige ontwikkelingshoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), is vroeër vanjaar as Namibië Rugby Beperk se uitvoerende hoof aangestel.

Die nasionale span word deur die Wallieser Phil Davies afgerig.

Terwyl dit onwaarskynlik is dat Namibië ooit ’n krag in wêreldrugby sal wees, kan dié land hom nietemin op ’n ryk rugbygeskiedenis roem.

Wyle Jan Ellis, wat as een van die grootste Springbokke van alle tye gereken word, en Percy Montgomery tel onder die uitvoerprodukte na Suid-Afrika.

In moderne jare het Namibië se Welwitschias aan die Vodacombeker-reeks in Suid-Afrika deelgeneem en merendeels skandes op die telbord gemaak.

Die destydse Suidwes-Afrika was ’n gerekende Curriebeker-span en het die Westelike Provinsie in 1988 op Nuweland ’n bloedneus gegee.

Onder die bekende spelers van daardie tyd was manne soos Shaun McCulley en Gerhard Mans, wat daarop dui dat Namibië tot meer in staat is as sy huidige aspoestertjie-status in wêreldrugby.

Serfontein hoop dat Namibiese rugby groter finansiële steun by Wêreldrugby sal geniet wanneer sy interne strukture versterk word.

Die Namibiërs wil ook mettertyd verteenwoordiging in Wêreldrugby se strukture kry. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!