Digitale tegnologie: Die vierde nywerheidsrevolusie

Sowat 'n derde van internetgebruikers wêreldwyd is kinders en tieners, en al hoe jonger kinders besoek die wêreldwye web.
Henriette Lamprecht
Dit is iets wat toenemend byna elke aspek van die lewe van miljoene kinders oraloor die wêreld beïnvloed.

Die invloed daarvan, hetsy goed of sleg, lok ook hewige debat onder van ouers tot opvoeders uit. Aan die een kant bied dit onbeperkte geleenthede vir kommunikasie en handel, onderrig en vrye uitdrukking. Maar aan die ander kant skuil gevare in die donker web en word dit uitgesonder as 'n negatiewe invloed op kinders se welstand wat van ­hiper­aktiwiteit tot depressie kan aanwakker.

Die invloed van digitale tegnologie en veral die internet groei daagliks. Hoe dit ook al sy, digitale tegnologie is 'n ­realiteit in ons lewe.

Die Verenigde Nasies se kinderfonds, Unicef, het onlangs die verslag “State of the World's Children 2017: Children in a digital world” gepubliseer. Daarin val die fokus op die skade wat ­digitale tegnologie fisiek en emosioneel aan kinders kan aanrig, asook op die geweld wat dit op 'n massiewe skaal kan ­aanwakker en die lewe van honderdduisende kinders kan raak.

In die studie is ondersoek gedoen na die landskap van digitale tegnologie soos dit kinders raak en betrek, die ­digitale gaping wat miljoene kinders daarvan weerhou om deur middel van die internet toegang tot nuwe geleent­hede te kry en dalk eendag deel te kan hê aan die digitale ekonomie om sodoende generasies van armoede uit te wis.

Voorts is die onmiskenbare donker kant van die internet en digitale tegnologie ondersoek, wat wissel van kuberboelies tot aanlyn seksuele misbruik.

“Kinders se stemme is nou belangriker – en ook harder – as ooit tevore in 'n ­digitale wêreld. 'n Wêreld wat hulle nie net erf nie, maar ook help vorm. Deur kinders te beskerm teen die ergste wat digitale tegnologie het om te bied, en om hul toegang tot die beste te verbeter, kan ons wel die skaal in hul guns laat swaai,” sê Unicef se uitvoerende hoof, mnr. Anthony Lake.

Digitale tegnologie het reeds die wêreld verander. Soos wat al hoe meer kinders oor die hele wêreld aanlyn gaan, ­verander dit toenemend ook jong­mense se kinderjare.

Volgens die verslag is dit die jeug (15 tot 24 jaar) wat die meeste tyd aanlyn bestee. Wêreldwyd is 71% aanlyn in vergeleke met 48% van die totale bevolking. Kinders en tieners is sowat 'n derde van internetgebruikers oraloor die wêreld.



TOENEMENDE BEWYSE

Volgens die verslag is daar ­toenemende bewyse dat al hoe jonger kinders die ­internet gebruik. In sommige lande is kinders onder 15 reeds gesoute inter­netgebruikers, met slimfone wat die sogenaamde “slaapkamerkultuur” stook, soos wat aanlyn toegang vir baie kinders meer persoonlik, meer privaat en met minder toesig raak.

Die verslag toon voorts digitale tegnologie bied geleenthede vir onderrig en opvoeding aan kinders, veral dié in afgeleë gebiede en in 'n humanitêre krisis. Dit stel kinders voorts in staat om inligting in te win oor kwessies wat hul onderskeie gemeenskappe raak, en gee aan hulle 'n rol om dit te help oplos.

Dit kan voorts ekonomiese geleenthede bied deur aan jongmense opleidings- en werksgeleenthede te verskaf en ook deur 'nuwe' werk te skep. Tog moet onderrig, asook inligting- en kommunikasietegnologie (ICT) gerugsteun word deur opleiding vir onderwysers en sterk pedagogie. Digitale toegang raak egter toenemend die nuwe skeidslyn, lui die verslag, met miljoene kinders wat die meeste hieruit sou baat, wat uitgelaat word.

Sowat 29% van die jeug wêreldwyd, ­ongeveer 346 miljoen individue, is nie aanlyn nie. Dit geld meestal vir die jeug in Afrika waar sowat 60% van jong­mense nie aanlyn is nie, teenoor die net 4% in Europa.

Volgens die verslag kan kinders wat op hul mobiele fone eerder as hul rekenaars staatmaak, moontlik 'n tweedehandse ervaring hê, terwyl dié sonder digitale vaardighede of wat deel van 'n minderheidsgroep is, dikwels nie relevante inligting aanlyn kan vind nie.

“Digitale gapings weerspieël ook ekonomiese gapings en versterk die voordele van kinders uit meer ­welvarende agtergronde. Dit weerspieël ook die gebrek om geleenthede aan die armste en mees agtergeblewe kinders te bied,” lui die verslag.

Die gaping onderskei ook tussen geslag, met 12% meer mans as vroue wat die internet gebruik. In Indië is minder as 'n derde van internetgebruikers vroulik.

Die verslag maan digitale tegnologie kan kinders ook meer kwesbaar maak om skade aanlyn én van lyn af te ly.

“Kinders wat reeds weerbaar is, loop 'n groter risiko vir skade en dit sluit die verlies aan privaatheid in.”

Dit kan voorts tradisionele risiko's in kinders se lewe soos boelies en ­seksuele uitbuiting verhoog. Mense met onsuiwer motiewe kan makliker toegang deur middel van anonieme en onbeskermde sosialemediaprofiele en speletjieforums tot niksvermoedende kinders kry.

Nuwe tegnologie soos die “dark web” stook ook die vuur vir die regstreekse uitsending van die seksuele mishandeling van kinders en ander skadelike inhoud. Dit bemoeilik volgens die verslag die vermoë van wetstoepassingsagentskappe om by te bly. Sowat 92% van alle webtuistes waarop die seksuele mishandeling van kinders 'n rol speel en wêreldwyd deur die Internet Watch Foundation geïdentifiseer is, word in net vyf lande geskep, naamlik Nederland, Amerika, Kanada, Frankryk en die Russiese Federasie.

Die verslag maan pogings om kinders te beskerm, moet veral op weerlose en minderbevoorregte kinders fokus wat moontlik minder geneig is om aanlyn risiko's te verstaan. Kinders is ook geneig om eerder by maats te kla of om hulp te gaan aanklop as hulle aanlyn 'n bloutjie geloop het of geteister is, iets wat dit nog moeiliker vir ouers maak om hul kinders te beskerm.

Hoewel die meeste kinders hul aanlyn ervaring as positief bestempel, is ouers en onderwysers bekommerd dat kinders wat vasgenael voor skerms sit, depressief en afhanklik van die internet sal raak, en selfs tot vetsug sal ly.

Maar, maan die verslag, teenstrydige opinies hieroor verwar versorgers en opvoeders, en beklemtoon die ­behoefte van goeie navorsing oor die impak van sosiale media en die internet op die welstand van kinders.

Navorsers erken wel ­buitensporige gebruik van digitale tegnologie kan 'n bydrae lewer tot depressie en angs onder kinders.

Aan die ander kant kan kinders wat 'aflyn' sukkel om vriendskappe te smee weer die sosiale ondersteuning kry wat hulle nie elders kry nie. Navorsers is dit ook eens dat onderliggende kwessies soos depressie of probleme by die huis 'n groter impak op gesondheid en geluk het as die tyd wat kinders aanlyn bestee.

Volgens dié manne in wit jasse moet die fokus meer wees op wat kinders aanlyn doen, en minder op die hoeveelheid tyd wat hulle aanlyn is. Volgens hulle sal dit kinders meer beskerm en ook help om die meeste van hul tyd aanlyn positief te benut.

Hier kan regerings 'n rol speel om markstrategieë en aansporings te bevorder wat vernuwing en mededinging onder diensverskaffers aanmoedig. Dit sal op die beurt help om die koste van internetverbindings te verlaag en sodoende toegang vir veral minderbevoorregte kinders en hul gesinne te verbreed. Die onus rus egter ook op tegnologie- en internetmaatskappye om te sorg hul netwerke en dienste word nie deur oortreders gebruik om beelde van seksuele kindermisbruik of ander oortredings teenoor kinders te versamel en te versprei nie.

Ook die media het 'n belangrike rol te speel om die potensiële impak van aanlyn aktiwiteite op kinders se gesonde ontwikkeling en welstand te grond in navorsing en die ontleding van data.

Dit is 'n gegewe dat kinders en die jeug van vandag 'n totaal ander ­arbeidsmark betree of gaan betree as dié een waarvan hul ouers deel was.

Die verandering waarna ook as die vierde nywerheids­revolusie verwys word, word volgens die verslag gebou op 'n reeks ontwikkelings wat van ­nanotegnologie tot robotika wissel.

Die verandering en ontwikkelings dryf ekonomiese veranderinge teen 'n verblindende spoed, met sommige van die armste lande wat nog nie eens die gelyke van die vinnige industrialisering van die tweede nywerheids­revolusie beleef het nie. Die vraag is nou of kinders die vaardighede ontwikkel wat die vereis om in die tyd van die vierde nywerheidsrevolusie te floreer.

Die verslag haal Unesco aan wat sê 250 miljoen kinders wêreldwys is basies ongeletterd en nie syfervaardig nie, terwyl 200 miljoen jongmense die skool gaan verlaat sonder die nodige vaardighede om hul merk in die lewe te maak.



BASIESE VAARDIGHEDE

Maar selfs vir dié wat wel basiese lees- en numeriese vaardighede aanleer, vereis die werkplek van die toekoms toenemend ­digitale vaardighede en geletterdheid.

Die verslag verwys na die Wêreld- Ekonomiese Forum wat die betrokke ­vaardighede in drie breë kategorieë verdeel naamlik basiese vaardighede (onder meer tradisionele geletterdheid en numeriese vaardighede), vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit, kommunikasie en samewerking en laastens karakterkwaliteite soos nuuskierigheid, leierskap en aanpasbaarheid.

Belangrik is ook die feit dat nie-kognitiewe vaardighede soos kommunikasie, kreatiwiteit, samewerking en empatie steeds sal voortgaan om sukses in 'n loopbaan te bepaal.

Die verslag beklemtoon hoewel ­nywerheidsrevolusies aan die een kant werksgeleenthede vernietig het, is meer geleenthede geskep as wat verlore gegaan het. Of dié patroon homself sal herhaal in die vierde nywerheids­revolusie, moet egter gesien word.

Die gekla oor kinders wat te veel tyd aanlyn bestee, kom meestal uit die geledere van ouers en opvoeders. Tog het 'n onlangse studie wat meer as 120 000 15-jariges in Brittanje betrek het, bevind die tyd wat kinders aanlyn bestee deur ­digitale tegnologie te gebruik, het 'n “­onbeduidende” impak.

Die studie het onder meer gefokus op televisie en flieks kyk, videospeletjies speel, sowel as die gebruik van rekenaars en slimfone. Volgens die skrywers is geen gebruik oor die algemeen geassosieer met swakker geestesgesondheid nie. Inteendeel, matige gebruik van tussen twee en vyf uur per dag, en afhangend van die aktiwiteit, blyk om 'n klein positiewe uitwerking te hê.

Die studie verwys na die Gouelokkies-effek van nie te veel en nie te min nie, maar net die regte hoeveelheid, wat blyk doodreg vir kinders te wees.

Ook sê die studie die negatiewe uitwerking van te veel videospeletjies speel (meer as sewe uur per dag) op 'n kind se geestesgesondheid is minder as 'n derde van die positiewe uitwerking van ontbyt of 'n goeie nagrus.

Nog 'n studie, wat dié keer gefokus het op 13 000 vyfjariges in Brittanje, het in 2010 geen bewyse kon vind dat om langer aanlyn te wees vir dié kinders verbind kon word met van hiperaktiwiteit tot sosiale probleme nie. Dit maak egter wel saak wanneer dié kinders aanlyn is. Intensiewe gebruik in die week kan 'n groter negatiewe invloed hê omdat dit moontlik kan inmeng met ander gestruktureerde aktiwiteite soos huiswerk. Word al die bevindinge saamgegooi, bly die boodskap ­dieselfde: Die impak van digitale tegnologie op die welstand van kinders hang af van die aktiwiteit, hoeveel tyd hieraan bestee word en wanneer.

Die verslag maan, ongeag positief of ­negatief, die uitwerking van ­digitale tegnologie op kinders is oor die algemeen swak en dra slegs 'n baie klein ­gedeelte by om kinders se algemene welstand te verduidelik.

Om by die toenemende gebruik van ­digitale tegnologie aan te pas, gaan ­aanpassings verg in hoe ouers hul kinders grootmaak, lui die verslag. Ook hoe navorsers studies aanpak en hoe besluitnemers beleidsrigtings en ­voorstelle ontwikkel.

“'n Beter, breër begrip oor hoe om die internet te gebruik, hou die meeste belofte in om digitale geleenthede vir kinders te bevorder terwyl dit terselftertyd die risiko's verminder.”

*Bron: Unicef – State of the World's Children 2017: Children in a digital word

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!