Die vrugte van 13 maande se geduld

'n Vrou en haar kleindogter het ’n hond in 'n rivierloop vir meer as ’n jaar lank gereeld gevoer voor hy uiteindelik saam met hulle huis toe is.
Tanja Bause
Tanja Bause - ’n Vrou se geduld en deursettingsvermoë met ’n rondloperhond het uiteindelik ná 13 maande vrugte afgewerp.

Me. Mariaan Jacobs kon ná meer as ’n jaar die dier se vertroue wen en uiteindelik het Spirit die liefdevolle huis gekry wat hy verdien.

Meer as 'n jaar gelede het Mariaan by haar seun in die Eros-woonbuurt in Windhoek gaan kuier toe sy ’n swart hond langs Nelson Mandelarylaan in die veld sien loop.

Sy het die Civilian Animal Protection Unit (Capu) se WhatsApp-groep van die hond laat weet.

'n Paar dae later het sy die hond weer gesien en die groep laat weet waar hy is, maar dat sy nie kos in haar motor vir hom het nie.

"Katrin Hochreiter van Capu het gesê ek moet net daar wag, sy is op pad met kos. Dit was 13 maande gelede en van daar af het ons daagliks vir hom kos gaan gee,” vertel Mariaan.

Sy het vir Spirit saans teen 21:30 gaan kos gee omdat hy bedags weggekruip het. Later het sy sy kos na Von Eckenbrecherstraat verskuif en hom daagliks 16:30 begin voer.

“Hy het in die veld gebly, maar as hy my voertuig gesien het, het hy aangehardloop gekom. Ek kon glad nie aan hom raak nie. Ek moes die kos uitsit en weer in my voertuig terugklim. Hy het dan kom eet en ek kon weer uitklim, maar moes my afstand hou."

Mariaan het haar kleindogter, Haylie Geldenhuis (7), saamgeneem en sy het met Spirit begin speel.

“As Haylie in die sand gaan sit het, het hy by haar gaan sit. As sy gehardloop het, het hy saam gehardloop. Ons kon egter steeds nie aan hom raak nie."

In September het 'n skaars voëlsoort in die bome ingetrek waar Spirit sy kos gekry het en dit het talle mense hierheen gelok.

“Spirit het begin om sosialiseer en besef nie alle mense is sleg nie. Hy het selfs begin om uit my hand te vreet. Maar ek kon steeds nie aan hom raak nie."

Mariaan, Jo en Vera Tagg, Calvin Notel en Katrin het toe ’n vanghok uitgesit en probeer om Spirit te vang. Die slim hond het het dié plan egter gefnuik.

Volgende is 'n leiband ingespan om Spirit te probeer vang. Iemand sou sy kos vashou en dan is gehoop dat hy sy kop deur die lus sou druk. Maar weer was Spirit te vinnig.

“In November het ons besluit ons móét hom nou vang sodat hy Kersfees by die huis kan wees. Ons het alles gereël, die veearts en almal was gereed . . . ”

Die dag voor Spirit volgens plan die veearts sou besoek, het mnr. Reinhard Redecker en Mariaan by Spirit onder die boom waar hy gewoonlik gevoer word, gestaan.

“Ek het ’n Weense worsie in my hand gehad en wou dit vir Reinhard gee toe Spirit sy kop deur die lus sit! Reinhard het dit toegetrek en ons het hom gevang. Ons het baie groot geskrik en die trane het begin loop.”

Reinhard het Spirit vasgehou en dr. Gernot Redecker is gebel.

“Spirit het vir Reinhard gebyt en omdat hy baie bang was, op hom gepiepie. Reinhard het hom egter net bly vashou. Ná 'n rukkie het hy opgegee en stilgelê,” vertel Mariaan.

Die veearts het Spirit verdoof, waarna hy teen siektes ingespuit is.

Hy is toe na die Windhoek Pet Lodge buite die stad geneem.

“Hulle het my die volgende dag gebel en gesê Spirit wil nie eet of drink nie. Ek en Haylie het in die kar geklim en na hom toe gery. Ons het vir hom kos aangebied en hy het onmiddellik begin eet.”

Vir die volgende twee weke het Mariaan en Haylie Spirit daagliks gaan besoek en vir twee ure lank met hom gespeel.

Die groot oomblik het aangebreek nadat Spirit vir 'n week in me. Marieta Grobler se sorg was.

“Met ons aankoms by Windhoek Pet Lodge kon ons aan hom raak en hom streel. Dit was ongelooflik. Dertien maande van voer en ons kon uiteindelik aan hom vat!”

Op 6 Desember is Spirit na sy nuwe huis toe.

“Dit was asof hy nog altyd hier was. Hy het onmiddellik aangepas en is baie tuis,” het Mariaan gesê.

“As ek so in die rivier met Spirit gespeel het, het ek altyd gewens ek kan aan hom vat en hom huis toe neem sodat hy in my bed kan slaap,” het Haylie gesê.

“In my kop het ek aan hom gevat en toe ek vir die eerste keer dit regtig kon doen, was dit beter as wat dit in my kop was,” het sy bygevoeg.

“Spirit wil net speel en dit is asof hy nou besef wat hy vir langer as twee jaar misgeloop het. Hy het nou ’n veilige tuiste en hy en Haylie is onafskeidbaar,” het Mariaan gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!