Die stryd om oorlewing

Tanja Bause
Tanja Bause – “Sonder ’n dringende plan van aksie sal die wilde perde van die Namib teen die einde van volgende jaar uitsterf.”

So lui ’n brief wat aan die minister van die omgewing en toerisme (MET), mr. Pohamba Shifeta, geadresseer is.

Die brief en uitnodiging aan die minister om besoek af te lê om homself van die situasie te vergewis, is deur die Aus/Lüderitz Tourism & Business Action Group en die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) se tak op Lüderitz gestuur.

“Die wilde perd-bevolking neem teen ’n eksponensiële koers af terwyl hulle ’n waardevolle toeriste-attraksie vir ons besighede en vir ons streek is,” lui die brief.

“Sonder die perde verwag ons negatiewe gevolge vir ons besighede en breër ekonomiese impak soos die verlies van werksgeleenthede – wat teenstrydig is met Visie 2030 en die Harambee- welvaartplan is.”

Daar is 41 merries en 72 hingste oor. Die jongste merrie is ses jaar oud. Sedert 2013 het nie ’n enkele vul oorleef nie. Hoe minder die aantal merries en hoe groter die generasiegaping, hoe hoër die risiko dat die perde gaan uitsterf. Die voortbestaan van die wilde perde word nie net deur die aanhoudende droogte bedreig nie maar ook deur die toenemende getalle hiënas wat op die perde en veral die vullens prooi.

Die //Kharasstreek het drie toeriste-attraksies onder die top-10-trekpleisters in Namibië: Die Visrivier-canyon, die wilde perde en Kolmanskuppe.

“Statistiek wys daarop dat Aus in 2016 om en by 25 000 hotelgaste en kampeerders gehad het. Verder is daar sowat 130 werksgeleenthede op Aus wat direk met toerisme te doen het. Dus is die toerismesektor die grootste werkverskaffer op Aus. In 2016 was daar 33 179 betalende gaste wat Kolmanskuppe besoek het. Vir al die toeriste is die wilde perde ’n groot aantreklikheid. Die verdere indirekte besigheid van toeriste op Aus en Lüderitz, soos onder meer die diensstasies, winkels, kroeë en aktiwiteite, is noemenswaardig,” lui die brief.

Die organisasies stel voor dat die status van die wilde perde in die Namib Naukluft Park deur die MET van “tydelike inwoner” na “permanente inwoner” verander word. Die perde is reeds langer as 100 jaar in die park – veel langer as wat dit as ’n nasionale park verklaar is. Die diere lewe saam met ander in die park, sonder dat hulle met inheemse spesies in kompetisie is.

“Maar,” lui die bief, “omdat die perde nie inheems in die park is nie, word hulle deur die MET as eksoties beskou.”

Dit is volgens die aksiegroep en die NCCI onregverdig omdat mense al verskeie kere in die ekosisteem in dié deel van die nasionale park “ingemeng” het. Toe die perde die eerste keer na die gebied geneem is, is daar boorgate gesink en kunsmatige watergate vir hulle geskep sodat hulle kon oorleef. Dit is juis dié watergate wat hul oorlewing bedreig omdat gevlekte hiënas wat na die park teruggebring is, nou ook permanent water het. Wat die situasie vererger, is die wildwerende heining wat in 1986 opgerig is en die oos-wes-beweging van wilde diere en perde na gebiede met hoër reënval verhoed.

“Ons ekosisteme het weens die inmenging van die mens verander, dus behoort ons voort te gaan met inmenging, bloot om alle spesies te bewaar. Veral dié wat toerisme bevorder.”

Gevlekte hiënas bedreig nie net die wilde perde nie, maar ook die lewensbestaan van baie mense wat in die toerismebedryf is en daarvan ’n lewe maak.

Die belangegroepe meen die MET kom gereeld met oplossings vorendag vir ander probleemdiere, “dus moet hulle nou ook ’n oplossing vir die gevlekte hiënas vind voordat dit te laat is”.

Die gevlekte hiënas word sedert Maart 2017 gevoer, wat die aas op perde verminder het, maar dit is nie ’n langtermynoplossing nie.

Die belangegroepe meen selfs dit sal nie die volgende geslag wilde perde wat binnekort gebore moet word, van die hiënas se aanslag red nie.

Ongelukkig is tyd nie aan die wilde perde se kant nie en ’n dringende oplossing sal vir hul voortbestaan gevind moet word voordat dié besondere diere verdwyn.

Op 23 November is daar ’n vergadering in Windhoek by die MET kantore met al die belanghebbende groepe en die adjunk permanente sekretaris Louisa Mupetami om oor die lot van die wilde perde van die Namib te gesels.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!