Die stand van veselinternet in Suid-Afrika

Die mark na veselinternet is vinnig besig om toe te neem namate al meer woongebiede in die buurland toegang daartoe kry.
Petrus Malherbe



Die departement van telekommunikasie het onlangs bekend gemaak hoeveel Suid-Afrikaanse huishoudings tans toegang tot veselinternet het vergeleke met 'n jaar gelede.

Daarvolgens het die aantal huishoudings met 112% van 439 000 in 2017 tot 933 000 in Maart vanjaar gegroei.

Dié syfer verwys na die totale aantal huise in Suid-Afrika wat toegang tot 'n vesellyn het, maar nie wat noodwendig ingeteken is om enige internetdienste te ontvang nie.

Die aantal huishoudings wat verbind is aan 'n vesellyn en ingeteken is om internetdienste te ontvang het in dieselfde tyd van 89 000 tot

280 000 toegeneem.

Die mark na veselinternet is vinnig besig om toe te neem namate al meer woongebiede toegang kry. Die uitbreiding van die veselnetwerk geskied egter nog stadig en is steeds beperk tot Suid-Afrika se grootste stede.

Daar is wel 'n duidelike tendens onder diegene wat wel toegang tot vesel­internet het om hul bestaande ADSL-lyn te ruil vir die veel vinniger en stabieler veselverbinding.

In sy onlangse jaarverslag het Telkom byvoorbeeld bekend gemaak dat hy byna 80 000 ADSL-gebruikers in 2017 verloor het terwyl sy aantal veselgebruikers van 27 000 tot 62 000 gestyg het.

Dit is wel so dat al die kliënte wat Telkom op sy ADSL-pakkette verloor het nie noodwendig oorgeskakel het na sy veseldiens nie en verskeie het waarskynlik na ander diensverskaffers oorgeskuif.

Jacques du Toit, uitvoerende hoof van Vox, 'n prominente internetdiensverskaffer, steun die siening dat talle Suid-Afrikaners ADSL vir vesel verruil.

“Tot 60% van ons ADSL-gebruikers skuif oor na vesel,” sê hy. Daar is ook verskeie nuwe kliënte wat reeds jare lank toegang tot ADSL-verbindings gehad het, maar nou eers kies om vir die eerste keer internet in hul huise te kry danksy vesel wat in hul area beskikbaar word.

'n Groot haakplek wat keer dat meer huishoudings veselverbindings kry is die tyd wat dit verg om die netwerk na nuwe woonbuurte uit te brei.

“Dis egter net tydelik,” sê Du Toit. Hy meen kort voor lank sal volledige stede insluitend informele nedersettings toegang tot vesellyne hê.

Verreweg die grootste hindernis is tans die agterstand in die installering daarvan na individuele huise, wat enigiets tussen twee weke na 'n maand kan duur. Die tegnologie wat benodig word soos die versender is ook duur, meen Du Toit.

“Ek dink ook nie vesel gaan met tyd goedkoper word nie, maar ek glo dit sal meer waarde vir geld wees. Die laer koste om inligting in die internetwolk te stoor sal ook 'n beduidende invloed hê om mense na vesel te dryf.”

Die mark vir veselinternet is tans oorversadig, met 'n oorweldigende hoeveelheid veselverskaffers en -netwerke.

Die veselnetwerk verwys na die maat­skappy wat verantwoordelik is vir die installering en instandhouding van die optieseveselkabels in jou omgewing. Dit sluit maatskappye soos Vumatel, OpenServe,­ Octotel en Frogfoot in.

Daarteenoor verwys die veselverskaffer na die internetdiensverskaffer wat jou toegang tot die internet gee. Daar is verskeie spelers in dié mark, insluitend Vox, MWeb, Telkom, Vodacom en Cell C.

“Mettertyd sal ons beslis 'n mate van konsolidasie onder diensverskaffers sien,” meen Du Toit. “In 'n mededingende en deflasionêre mark sal dit baie moeilik wees vir 'n verskaffer sonder enige vastrapplek om te oorleef.

“Dit is selfs moeiliker as jy nie 'n geïntegreerde produkaanbod het om te bied nie. Om net basiese internetdienste te verkoop, is nie meer genoeg nie.”

Om homself van sy mededingers te onderskei stuur Vox verteenwoordigers uit na huise met vesel in die area. “Hoewel dit baie maklik geword het om aanlyn aansoek te doen vir dienste, benodig die meeste kliënte steeds 'n mate van leiding om die regte pakket en apparate te kies.”

Volgens Du Toit is daar beslis ook planne om na die platteland uit te brei. Vox het onlangs 'n nuwe roete tussen Pretoria en Richardsbaai bekom waarlangs 'n veselverbinding verby dertien kleiner dorpies gaan loop. Sodra daar genoeg belangstelling van die inwoners is, sal die maatskappy begin om veselinternet daar te installeer, sê hy.

“Vesel sal mettertyd ADSL heeltemal vervang.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!