Die smuljare van lugrederye

21 February 2018 | Rubrieke
Ek weet nie of daar enige waarheid daarin steek nie, maar ek kan stories onthou oor oorle' Basterkaptein Hans Diergaardt wat glo 'n bokkop as padkos op 'n vlug na Geneva in die vroeë 1980's ingepak het.

Die geleentheid was 'n Verenigde Nasies-indaba oor die toekoms van Namibië. Die gewigtheid van die politiek van die tyd het my verbygegaan. Wat vasgesteek het, was die bokkop op die vlug.

As kinders het ons laf gewonder of die oom die bokkop in 'n Tupperware-bak of toegedraai in tinfoelie saamgedra het. Kon hy darem die sappige bokwange op die vlug laat opwarm, of moes hy dit koud neem?

Wat was sy medepassasiers se reaksie toe hy – sekerlik – die kake moes oopbreek om by die vetterige tong uit te kom? Wat het hy met die kopgebeendere gemaak? Terug in die bak of tinfoelie en toe in die aktetas gepak om later van ontslae te raak? Wat sou die oorsese ­doeanemense sê sou hy met gebeendere daar land?

Vlieg daai tyd was nog grênd en raar - veral as jy só ver moes vlieg. Vir ons was dit amper asof jy 'n formele pak klere moes dra om betaamlik op 'n vliegtuig te kon klim. Amper soos ons in die ou dae mooi moes aantrek as ons “dorp” toe gegaan het.

Vir oompie Hans, soos hy genoem was, se onthalwe was ons daarom baie bekommerd oor die betaamlikheid van 'n bokkop op die vliegtuig! Die enigste troos waaraan ons kon dink, was dat die meerderheid van die passasiers op daardie vlug seker ander landsgenote sou wees wat die bokkop-spesialiteit sou kon verstaan het.

Maar oompie Hans het sekerlik smaaklik sy eie tuisgebak geniet terwyl hy die vreemde wêreld ingevlieg het.

So terloops, ek dink nou sommer ook aan 'n vriend wat sy agtstuk KFC-pakkie móés kry vir ons vlug eers na Johannesburg op pad na Swaziland 'n klompie jare gelede.

Dié het hy vinnig verslind die oomblik toe die liggies in die kajuit aangaan ná die opstyg en toe daarna, maag trommeldik geëet, die dun SAL-kombersie oor sy gesig gegooi en aan die snork geraak. Baie sjarmant!

Die punt is, almal soek trooskos as jy op reis gaan. As jy vlieg, of dit nou vir werk of plesier is, is daai uurtjies in die lug tóg 'n tydjie van “afsluit”, 'n blaaskansie, en mens voel dan om 'n bietjie gepamperlang te word.

Ek weet nie hoe die lugrederykos in oompie Hans se tyd was nie, maar ek is seker dit was nie soos deesdae se chicken or beef-variëteit in die goedkoop klas nie.

Maar het julle al ooit gehoor van die absolute bederf op Skandinawiese vlugte in die 1950's tot die 1980's?

'n Standaardaanbod was 'n gourmet buffettafel swaar gedek met van kreef tot kaviaar, 'n hele skaapboud waarvan jou uitsoeksnitte met flair voor jou gesny is, gebraaide hoender met kraakvel, 'n verskeidenheid worse, allerlei slaaie met geurige slaaisouse opgedis uit 'n doelgemaakte bak en nie 'n plastiekpakkie nie, allerlei gebak, en natuurlik, smaaklike nagereg wat weggespoel kan word met 'n warm – of rêrig warm – drankie.

'n Finale luuksheid was die paletreiniger. Vingerleklekkergoed!

Oor die jare heen het die kospakkies op die vlugte – insluitend in Skandinawië – kleiner en smaak­loser geword.

Met die alewige mantra van “ons moet spaarsaming met dít of dát wees”, klink die outydse bederf – insluitend oom Hans se bokkop op die vlug - amper anderwêrelds, nie net asof dit uit 'n ander era kom nie, maar asof dit van 'n ander planeet af kom!

Hoe gemaak om die geil jare van destyds te laat herleef? Miskien moes ons nie ons oorvloed mors in die jare van oorvloed nie. Dan kan ons almal in die toekoms kreef en kaviaar, of miskien sommer 'n lekker bokkop ook, aan boord geniet!

Soortgelyk

 

Elfjarige byna ontvoer

1 dag gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – ‘n Elfjarige laerskoolmeisie is Woensdag helder oordag voor haar huis byna deur ‘n groep mense in ‘n motor gedwing en ontvoer. ‘n...

Tendertafel net vir buitelanders gedek

1 dag gelede | Infrastruktuur

Ronelle Rademeyer - Die voorwaardes waaraan kontrakteurs moet voldoen om in aanmerking te kom vir twee reuse-konstruksietenders van byna N$4 miljard, is van só ’n...

Storm los by Unam-eksamen

1 dag gelede | Onderwys

Denver Kisting - Die Universiteit van Namibië (Unam) het teen gistermiddag steeds skouers opgetrek oor ’n eksamen wat eergisteraand skeefgeloop het.Nagraadse regstudente verbonde aan die...

Kalender 21 September

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Erfenisweek 2018 is goed op dreef by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) . Namibië se belangrikste erfenisinstellings het saamgespan om dié...

’n Mannekoor en wyn vir die pyn

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Die Windhoeker Männerchor (WMC) en ‘n uitgesoekte groep musikante nooi die publiek na die Wynfees/Winzerfest uit. Dít vind op 6 Oktober by die SKW...

Vanjaar reeds 29 renosters in Namibië gestroop

1 dag gelede | Omgewing

Francoise SteynbergAltesaam 21 swart- en agt witrenosters is al vanjaar in Namibië vir hul horings afgemaai.Uit dié 21 swartrenosters is 13 in die Etosha Nasionale...

Gif in waterkrip dalk stropers se werk

1 dag gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht Watermonsters van 'n krip in 'n munisipale kamp wes van Omaruru is vir ontleding na 'n private laboratorium gestuur om te bepaal...

Breek die mure af

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Yolanda Nel – Indien die klank van kabaret, Evita of die Rocky Horror Picture Show jou aandag trek, moet jy môre geen planne maak nie.Shades...

Die Kontrak is hier!

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Die groot oomblik is uiteindelik hier: VIA (DStv, kanaal 147) en Coleske Artists se splinternuwe TV-reeks, Die Kontrak, waarin die volgende groot Afrikaanse kunstenaar gekroon...