Die reis van alle reise deur Namibië

Yandi Du Plessis
TV-kykers het dalk al die spikkel gesien wat oop-en-toe ’n rooi duin afgehardloop kom in ’n advertensie vir die volgende Elders-reeks.

Dit is Erns Grundling, skepper en aanbieder van dié reisreeks, wat dié keer Namibië deurkruis en dit as “die road trip van ’n leeftyd” beskryf.

Grundling het kykNET-kykers in vorige reekse bekend gestel aan pelgrimsroetes in Spanje, Japan en verlede jaar aan die Pelgrimstog van Hoop van Kaapstad na Kaap Agulhas in Suid-Afrika.

Grundling sê “hoewel stap en staptogte altyd deel van Elders se DNS sal wees, het ons die vierde reeks, wat op 28 Julie begin, anders benader”.

Benewens staptogte soos die Namib100, suid van Walvisbaai, en die ikoniese Visriviercanyon, waarmee die reeks afsluit, pak hy adrenalien-aktiwiteite aan en stel kykers aan kleurryke Namibiese karakters voor.

Een van die legendariese Namibiërs is Boesman Davids, ’n kaalvoet-kêrel van Sossusvlei. “Boesman het in ’n vorige lewe lewensversekering verkoop in Windhoek en op ’n dag die gejaag na geld agtergelaat en lank onder ’n boom in Sossusvlei gebly.”

Hy het darem intussen ’n plasie gekoop en met ’n Japannese vrou getrou, maar Grundling ontmoet hom in Sossusvlei, waar Boesman se tweede lewe begin het.

Grundling sê met dié kuier het Boesman hom weer geleer “rykdom het niks met geld te doen nie”.

Nog ’n bekende is die leeunavorser dr. Philip Stander, saam met wie die opnamespan na ’n woestynleeu in die Hoanibrivierbedding soek. Grundling wil nie sê of hulle wel ’n leeu opgespoor het nie.

’n Wildernisstap (bundu bashing) is een van die adrenalien-episodes waarin Grundling en die span die Brandberg uitklim. Hy sê dit is ’n “bielie van ’n berg – jy klim 1 600 m in een dag tot bo en die volgende dag weer tot onder. ’n Mens het ’n permit en ’n gids nodig, een van verskeie plekke in Namibië wat só bewaar word.”

’n Hoogtepunt wat Grundling nooit op die besoek van ses weke sal vergeet nie, is die Namib100, ’n staptog van 100 km oor vyf dae al langs die kus suid van Walvisbaai.

“Ons het dit saam met Live the Journey aangepak, een van min instansies wat besoekers hier mag begelei.

“Saans slaan hulle kamp op agter die eerste duin waar hulle ’n uithaler-ete voorsit. Soggens word die kamp afgeslaan en op die volgende oornagplek opgeslaan.”

Grundling het al sowat 20 keer in Namibië gereis, baie daarvan terwyl hy ’n joernalis by die tydskrif Weg was, “maar ná dié reis was ek opnuut verlief op die land en sy mense. Elke keer voel dit soos ’n tuiskoms. Die ongelooflike natuurskoon, die gevoel van ruimte en die gasvrye mense is werklik spesiaal.”

Die span het die reis in die suide by die Oranjerivier naby die Noordoewer-grenspos begin en stelselmatig noord beweeg “deur die NamibRand, ingeloer by Sossusvlei en Solitaire en aangestoot tot by Walvisbaai en Swakopmund. Daarna verder noord na plekke soos Brandberg en Palmwag en omgedraai by die Epupa-waterval in die Kunenerivier aan Angola se grens.

“Van daar af het ons weer al die pad suidwaarts gereis, deur Etosha en Windhoek tot by die Visriviercanyon.”

Grundling is nou nog sprakeloos oor die wonder in die Namib, die oudste woestyn ter wêreld. “’n Mens sou maklik twee of drie episodes net daaraan kon wy. Ek glo egter ons dokumentasie is die enigste van die hele roete.”

Probleme op die tog van 45 dae en 8 000 km in twee voertuie was verrassend min, sê Grundling. Net drie pap wiele, ’n gesukkel om weens Covid-19-regulasies reisgenote van Suid-Afrika in Namibië te kry en die berugte Oosweer, wat hulle aan die kus getref het, “maar materiaal vir ’n lekker storie bied”.

Dié Elders-aanbieder het ook weer besef hoe belangrik goeie spanwerk is. “Om langer as ses weke saam met vier uiters begaafde ouens te kon reis en oor niks nonsens vas te sit nie, is kosbaar, eintlik ongehoord.”

Die vervaardiger Bonanza Films se spanlede wat die toer meegemaak het, is die regisseur Frankie Opperman (die akteur Frank Opperman se seun), Bertus Mostert, Jean de Villiers en Jaen Kleynhans.

• ‘Elders: Namibië’ bestaan uit 13 episodes en word van 28 Julie elke Woensdag om 20:30 uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144).

- Netwerk24

Kyk hiér na die lokprent (QR): https://q.my.na/GZCD

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!