Die magtige Kunene bruis

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Met die Kunenerivier in vloed is verskeie kampeerplekke en lodges reeds oorstroom.

“Ons spoel weg. Hierdie is die hoogste wat ons die Kunenerivier in 30 jaar beleef het,” het me. Johanna Herridge van die Omunjandi-ruskamp gister aan Republikein gesê.

“Al ons geboue is onder water. Ons het nuwe huise volgens die vloedvlakte gebou, maar selfs daar is ook water. Ons hoenders is darem op hoë grond en ons het die skape berge toe gevat,” sê sy.

“Die Caluequedam is op maksimumvlak en die sluise is oop. Almal is onder water, behalwe by Epupa. Boonop het ons Saterdagaand groot reën gehad en nou loop al die riviertjies.”

Herridge sê paaie in die omgewing is slegs met 4x4-voertuie begaanbaar.

Kunene River Lodge het op hul Facebook-blad laat weet die water vloei regdeur hul kamp.

“Ons is tydelik tot einde Februarie gesluit weens die Kunenerivier se hoë watervlak. Moenie probeer om deur te kom nie. Ons sal die publiek op hoogte van die watervlakke en padtoestande hou.”

Die Omjunjandi-ruskamp en Kunene River Lodge is in 2018 ook deur die Kunene se vloede oorstroom.

Mnr. Koos Verwey van Epupa Falls Lodge het per SMS laat weet “ons het absoluut geen pyne nie”.

Hy sê die lodge is oop en begaanbaar.

“Die kampeerterrein is geraak, maar ons keer die ergste water met honderde sandsakke af.”

Verwey stem nie saam met bewerings dat die Kunenerivier sy hoogste watervlakke sedert 1983 bereik het nie.

“In 2011 het die water teen 2 400 kubieke meter per sekonde afgekom. Die watermeter stroomaf van die Epupavalle was heeltemal onder water. Sondagoggend was dit nog vier meter bo die watervlak.”

Verwey sê die jongste satellietbeelde vir Angola toon meer water word in die volgende paar dae verwag.

“Ons vul sandsakke om die water te blokkeer en in ’n ander rigting te stuur.”

Die Hidrologiese Dienste van Namibië het verlede week reeds ’n waarskuwing uitgereik dat gemeenskappe langs die Kunenerivier die nodige voorsorgmaatreëls moet tref.

REëN VAL LANDSWYD

Die afgelope naweek het wydverspreide reën landswyd voorgekom.

Op die pad tussen Mariental en Maltahöhe in die gebied van Voightsgrund het ’n brug weggespoel. In die omgewing van Kappsfarm het ’n voertuig in die vloedwaters van die Seeisrivier omgeslaan.

Op die Facebook-blad “Reën in Namibia” is foto’s van Heja Lodge, oos van Windhoek, se restaurant gedeel wat onder water is.

Berigte van reën op dié blad strek van Windhoek tot Kappsfarm, Gobabis, die Von Bachdam, Okahandja, Rehoboth, Kalkrand, Ruacana, die Etosha Nasionale Park, Outjo, en so ver suid as Gochas, Keetmanshoop en Karasburg.

Die Namibiese weerkantoor het ’n weerwaak vir vandag uitgereik en waarsku teen swaar donderstorms en reën oor die noordelike en sentrale dele, asook plek-plek in die Hardapstreek.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!