Die lewe is net u2019n vinger lank
Die lewe is net u2019n vinger lank

Die lewe is net ’n vinger lank

Denver Kisting
Ons almal gebruik dié cliché ydelik: Die lewe is kort.

’n Stellenbosse studente-orkes, waarvan ek ’n eertydse erekwotalid is, Zinkplaat, se Bertie voeg in een van hul treffers by: “Alles is OK. Alles gaan verby. Die lewe is té kort om suur te word . . .”

Maar wat presies beteken dit? Hoe lank is kort? En wat is dié ding, die lewe, wat glo kort is?

Ook: Wat beteken die dood? Is die lewe óók die dood? En hoekom sukkel ons so om die kloutjie van die lewe by die oor van die dood te kry? Of doen ons nie?

In ’n litnet-onderhoud verlede jaar met die godsdiensskrywer Jean Oosthuizen, sê die gerekende Bolandse filosoof, prof. Anton van Niekerk, onder meer: “Ons almal leef daagliks saam met die dood as ons altyd aanwesige, onontkombare moontlikheid – wat een of ander tyd ook vir ons almal werklikheid gaan word.

“Dit roep ’n duidelike en onvermydelike filosofiese problematiek op: Hoe bepaal die werklikheid en onontkombaarheid van die dood die manier waarop ons probeer om sin te maak van die lewe?”

’n Ewe holruggeryde stelling is “hoe ouer mens word, hoe meer besef mens wat belangrik is”.

Daar is, myns insiens, meriete in clichés omdat daarin dikwels ’n stukkie waarheid verskuil lê en versteek is. ’n Stukkie iets waarmee mens jouself kan vereenselwig.

Ek moes ’n paar waarhede in die gesig staar namate ék ouer geword het.

My lewe lank, maar veral in my ligsinnige 20’s, was ek dóódseker (pun intended), ek is onsterflik en my hulpbronne van tyd en energie ken geen perke nie.

’n Ander wanindruk waaronder ek verkeer het, is dat kwantiteit kwaliteit beteken (en ek gebruik dié anglisismes met opset – alliterasie gee krag, sien!).

Van gesonde én ongesonde grense het ek veel minder geweet as van kernfisika en wat ek dáárvan weet, is vervolgbaar min.

’n Grondverskuiwende gesprek, waarin ek per ongeluk beland het, het my gehelp om te begin sin maak van my waardes. Selfrespek bult toe haar spiere ’n kortkop bo konsekwentheid, ruimhartigheid en waardigheid en ’n klompie ander.

Maar, moes ek toegee, ek is nie aldag seker wat selfrespek beteken of hoe dit in die praktyk lyk nie.

Ek moes 35 jaar oud word om te leer oor komplekse konsepte soos attachment styles.

Élkeen van ons het wonde opgedoen tydens ons kindertyd ongeag wat die bedoelings en gedrag van ons primêre versorgers was, seg die slimmes.

Daai wonde kan van iets so oënskynlik onskuldig wissel, soos dié deur ’n oorbeskermende ouer toegedien of, in uiterste gevalle, sluit dit mishandeling in.

En, leer die imago-teorie ons, ons is (veral romanties) aangetrokke tot mense wat ons moet help om daai wonde te genees.

Ek het my lewe lank na eksterne erkenning gesmag. Ek wou behoort. Ek wou deel voel. Ek wou aanvaar word. Om verwerp en verlaat te word, het ek meer as die dood gevrees.

Tot ek besef het hoe kort die lewe is. Hoe die lewe – en, dus, die dood – nie gesig koop nie. Nie wag nie. Nie ’n kleedrepetisie is nie. En my f*kk*l skuld nie.

Dié is, wat my betref, my enigste kans.

My allesoorheersende lewensdroom is om te lewe tot ek 90 jaar oud is.

Vir die skrale 54 jaar wat oorbly, móés ’n paar groot goed vet gee. Baie daarvan het met eerlikheid en bewustelikheid te doen.

Ek moes beter na myself begin kyk – fisiek, emosioneel en geestelik. Dit het die afgelope jare geweldige opofferings gevra: Behalwe dat ek my janniejammergatgesindheid koebaai moes kus, is dit bykans vyf jaar sedert ek alkohol en sigarette prysgegee het. En deesdae draf ek ’n halfmarathon vir pret kaf.

Waarmee ek die moeilikste gestoei het en wat steeds daagliks deel van my reis bly, is om te besef ek dat ek alleen op dié reis is.

Dat mý goedkeuring genoeg is.

Dat ék elke dag moet kies om van die geskenk van ’n nuwe dag die allerbeste te maak.

Die lewe is niks langer as ’n vinger nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!