Die jaar 2004 in oënskou

31 December 2004 | Politiek en nasionale nuus
Woensdag, 1 September
- Windhoek se stadspolisie kan nog voor die einde van hierdie jaar \'n werklikheid word. Die Adjunkminister van Streek- en Plaaslike Owerheid en Behuising, prof. Gerhard Tötemeyer, het gister \'n wysiging op die wet op plaaslike owerhede in die Nasionale Vergadering (NV) ingedien om die munisipaliteite van Windhoek, Swakopmund en Walvisbaai te bemagtig om \'n polisiediens in dié stede op die been te bring.
- Dit gebeur nie aldag dat \'n sportman of sportvrou twee wêreldtitels by een kampioenskap wen nie. Maar ons eie Schalk Burger het die karatewêreld verbaas toe hy presies dít reggekry het by die onlangse JSKA Karate Wêreldbekertoernooi in Pretoria.

Donderdag, 2 September
- Kommersiële grondeienaars het vanaf vandag drie weke om beswaar aan te teken teen die Regering se voorlopige waardasie van hul eiendomme.
- Die staat se saak teen hoofinspekteur Michael Booysen het tydens die borgaansoek knou gekry toe sy liefmeisie, wie se woonstelkamer hy by die verpleegstershuis van die sentrale hospitaal na bewering aan die brand sou steek, die klagte teen hom laat vaar het. Die klag van brandstigting teen hom duur egter voort.

Vrydag, 3 September
- Namibië se land- en landboubank is weer leierloos. Agribank, wat op die oomblik \'n eis van meer as N$6 miljoen deur \'n vorige hoof uitvoerende beampte in die gesig staar, sal aanstaande week eers \'n besluit neem oor \'n nuwe waarnemende hoof nadat \'n tydelike regeringsplan om \'n adjunkminister in dié hoë amp aan te stel, skynbaar misluk het.
- Die Regering gaan aanstaande jaar die krane vir gratis voedsel stywer toedraai om sodoende behoeftiges minder afhanklik van aalmoese te maak.

Maandag, 6 September
- Die Regering gaan hom binne die volgende 24 uur vasloop in \'n regsuitdaging nadat die raad van AgriBank besluit het om nie gehoor te gee aan \'n eis deur die Minister van Finansies dat hulle moet bedank nie.
- Die internasionale gemeenskap moet alles in sy vermoë doen om \'n herhaling van terroriste-aanvalle, soos die Beslan-gyselaarsdrama in die suide van Rusland, te voorkom. Dit is die reaksie van die Minister van Inligting en Uitsaaiwese, mnr. Nangolo Mbumba, na aanleiding van die Beslan-drama waarin minstens 390 mense omgekom het, waarvan ongeveer die helfte kinders is.
- Namibië se naelloper, Frank Fredericks, het Vrydagaand by die IAAF Golden League byeenkoms in Brussel, België, wraak geneem en die Olimpiese silwermedaljehouer in die 200-meter, Bernard Williams met tyd van 20,20 sekondes geklop.

Dinsdag, 7 September
- Nóg \'n slenterslag is besig om groot getalle oudsoldate van die Suid-Afrikaanse Weermag en die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag op te slurp. Ná \'n geldfoefie aan die begin van die jaar oopgevlek is waarin oudsoldate aansienlike bedrae aan weermagpensioene belowe is, het dié skema nou weer sy kop in Namibië uitgesteek.
- President Sam Nujoma het gister die wind uit die seile van Swapo-aanspraakmakers vir die Nasionale Vergadering (NV) geneem met die aanstelling van mnr. Leon Jooste as Adjunkminister van Streek- en Plaaslike Owerhede en Behuising. Mnr. Jooste, die eienaar van Eden Wildlife, \'n wildsplaas net buite Grootfontein, neem nou by prof. Gerhard Tötemeyer oor wat verlede week as adjunkminister en NV-lid bedank het.

Woensdag, 8 September
- Die Namibiese regering het die afgelope maand reeds N$22,5 miljoen van die totale eise van N$34 miljoen aan plaaslike boere uitbetaal vir lewendehawe wat verlede jaar weens die droogte van die hand gesit is.
- Beyers Naude, een van die leidende blanke Suid-Afrikaanse stemme teen dié land se apartheidbeleide, is gister op die ouderdom van 89 dood.

Donderdag, 9 September
- Namibië huiwer op die drumpel van internasionale verleentheid oor die onmenslike behandeling van immigrasiewerkers uit Bangladesj wat aan die voorspits van die multi-miljoen tekstielaanleg, Ramatex, staan. Skokkende onthullings is Dinsdagnag gemaak oor die skandalige omstandighede waarin sowat 420 Bangladesjers leef, wat die haglike toestande van die berugte apartheidwoonkwartiere by verre oortref.
- Borgtog van N$10 000 is onder streng voorwaardes aan \'n senior polisiebeampte van die ernstige misdaadeenheid, hoofinsp. Michael Booysen, toegeken na hy al vir bykans \'n maand in aanhouding is.

Vrydag, 10 September
- Die meerderheid werkers uit Bangladesj moes sowat N$23 000 betaal vir die paradys wat hulle uit armoede sou red, maar in haglike woonomstandighede in die Namibiese hoofstad in \'n hel geëindig het.
- Die Namibiese Hoë Kommissaris in Maleisië, mnr. Neville Gertze, wat onlangs met \'n ambassadeurspos beloon is vir sy hardnekkige toewyding om die Ramatex-belegging voor die neuse van verskeie Suider-Afrikaanse belangstellendes vir Namibië weg te raap, het noue familiebande met die agent wat vir Oosterse gasarbeiders huisvesting in Namibië moet reël.

Maandag, 13 September
- Die geduld van Ramatex se Bangladesjiese werkers om onder haglike omstandighede te woon, het Vrydag opgedroog en die polisie het hul hande vol gehad om geweldpleging by die Windhoek-Wes huis te voorkom.
- Ministeriële komitee is saamgestel om die Bangladesjiese-drama wat hom die afgelope week in Windhoek afgespeel het, te ondersoek en die skuldiges aan die kaak te stel.

Dinsdag, 14 September
- Olieboor van 10 376 ton, die Vinar Ex Astar, kan net nog \'n wrak langs die verbode diamantkus van Namibië word nadat dit gister steeds roerloos op die sand tussen Meob- en Conceptionbaai gelê het. Dié roesbad het blykbaar vroeg Vrydagoggend gestrand.

Woensdag, 15 September
- Migrasiewerkers uit Suidoos-Asië leef steeds in onveilige en haglike toestande in ander huise in die Namibiese hoofstad, ten spyte van die skokonthullings wat tot die deportasie van 372 Bangladesjers aanleiding gegee het. Sowat 40 Bangladesjiese werkers van Ramatex, wat deel van die groep van 66 uitmaak wat die maatskappy voor die hof gesleep het oor die beweerde onwettige uitsetting uit die land, leef in haglike toestande in drie klein huisies in die Otjomuise-woonbuurt in Windhoek.

Donderdag, 16 September
- \'n Afpersingsveldtog onder die vaandel van die internasionale terroristebeweging, al-Qaeda van Osama Bin Laden, het Namibië vandeesweek getref.

Vrydag, 17 September
- Die omvang van die vermeende brieweveldtog al-Qaeda in Namibië het gister wyd uitgekring. Kommer heers veral omdat dié veldtog saamgeval het met die derde herdenking van die al-Qaeda-aanslag op die Wêreld Handelsentrum en die Pentagon op 11 September 2001.

Maandag, 20 September
- Die wenner van die Mej. Tiener Namibië vir vanjaar is Nikita Prinsloo van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool. Die naaswenners is Carmen Kriel van Sekondêre Skool Duneside (eerste prinses) en Frieda Shilongo van die Hoër Tegniese Skool (tweede prinses).
- Verdeeldheid onder Swapo-geledere is besig om te verdiep in afwagting van die hou van die party se nasionale konvensie vir die opstel van \'n kandidatelys vir lede van die Nasionale Vergadering (NV).

Dinsdag, 21 September
- Die eerste bevestigde gevalle van miltsiekte, ook bekend as antraks, het in die Caprivi-streek voorgekom. Dit volg na \'n ernstige uitbraak van die siekte in Botswana, wat reeds tot die sluiting van die Chobe Nasionale Park teenaan Namibië gelei het.
- \'n Dertienjarige seun van Grootfontein se naam kan binnekort in die rekordboeke van krieket opgeteken staan ná kolfwerk uit \'n ander wêreld die naweek. Tommie van der Merwe van Grootfontein het Vrydag \'n ongelooflike 296 lopies in \'n onder 13-skolewedstryd oor 30 boulbeurte teen Tsumeb Gimnasium geslaan. Die openingskolwer is met die voorlaaste bal van sy span se kolfbeurt van 357 uitgevang.

Woensdag, 22 September
- Namibië moet waak teen die ontluiking van swart elite in sy strewe na die ekonomiese bemagtiging van voorheen agtergeblewenes, het kenners gewaarsku omdat dit bedreiging vir die bereiking van die doelwitte in Visie 2030 inhou.

Donderdag, 23 September
- \'n Stewige vergoedingspakket en vele byvoordele wag op Pres. Sam Nujoma wanneer hy in Maart 2005 die tuig as staatshoof neerlê. Daarmee word verseker dat hy aan lewenstandaard niks sal inboet teenoor dit waaraan hy tot nou gewoond was nie.

Vrydag, 24 September
- Dit gons sedert gister in die Karas- en Hardapstreke waar die Karas Vleismaatskappy die reg gekry het om 250 000 kleinvee-eenhede per jaar aan die splinternuwe slagplaas op Keetmanshoop te lewer.

Maandag, 27 September
- Die tronkdeure kan dalk agter die Minister van Binnelandse Sake, mnr. Jerry Ekandjo, toeklap as hy nie op 29 Oktober aanvaarbare redes kan aanvoer hoekom hy nie vir minagting van die hof toegesluit moet word nie.

Dinsdag, 28 September
- Donker skadu\'s is op die eerste dag van openbare getuienis voor die presidensiële kommissie van ondersoek na die voormalige Geamalgeerde Kommersiële Beheermaatskappy (Amcom) en die Ontwikkelingsbrigade-korporasie (DBC) oor Namibië se ontwikkelingsgeskiedenis gewerp.

Woensdag, 29 September
- Namibië sal voortaan prominente plek in die gewilde Mnet-sepie, Egoli beklee wanneer Walco kantoor in Windhoek open.

Donderdag, 30 September
- Die bloedspoor van Namibiese plaasgruwels teen bejaarde prooi het op die drumpel van twee vooraanstaande bure, die Staatshoof, mnr. Sam Nujoma, en sy landbouregterhand, mnr. Paul Smit, die 73-jarige mnr. Frikkie Theron, se lewe geëis.

Vrydag, 1 Oktober
- In \'n radikale ommeswaai van die Duitse regering se standpunt oor oorlogsvergoeding aan Namibiërs, het die Duitse ambassadeur in Namibië, dr. Wolfgang Massing, gister bekendgemaak dat sy regering nou gereed is om oor dié aangeleentheid te onderhandel.
- Die polisie se skitterrekord in die oplos van plaasmoorde, was gistermiddag ongeskonde met twee verdagte Theron-moordenaars agter slot en grendel nadat hulle die voorslagboer van Eldorado, die 73-jarige mnr. Frikkie Theron, in Namibië se uitsoek Otavi-landbouhartland koelbloedig vermoor het.

Maandag, 4 Oktober
- Namibië het \'n hoogs gevorderde vervalsingsnetwerk van nasionale dokumente blootgelê. Minstens vier Namibiërs is reeds aangekeer in verband met die eerste grootskaalse skending van die staat se netwerk van inligtingstegnologie wat gelei het tot die uitreiking van vervalste paspoorte, reis- en verblyfdokumente, vakansie- en studiepermitte en geboortesertifikate.
- Die laaste veiling by die Omatako Brahmaan-stoetery word op Woensdag 13 Oktober vanjaar op die plaas Ovigere van mnr. Dirk Mudge aangebied. Die 20 Wit Brahmaanbulle is die vrug op 23-jaar se stoetloopbaan wat met die 50ste bestaansjaarvieringe van die ras in die krale van Ovigere se Omatako-stoetery onder die hamer kom.
Dinsdag, 5 Oktober
- Komplot om van sekere senior Swapo-leiers ontslae te raak, word reeds van voor die buitengewone kongres in Mei gevoer. Dit het regstreeks tot die swak vertoning van dié senior lede op die naweek se verkiesingskonvensie gelei.
- Lüderitz was gister die gasheer vir een van die laaste koninklike posskepe, die RMS St. Helena, toe sy haar vir die eerste keer in die dorp se hawe ingewikkel het. Wat die gebeurtenis meer uniek gemaak het, is dat die skip een van die min skepe is wat as top-passasiersskip bestempel word én skeepsvrag vervoer.

Woensdag, 6 Oktober
- Meer as duisend arteritislyers in Namibië moet hulle nou tot ander behandeling wend nadat die middel Vioxx aan die mark onttrek is, aangesien dit chroniese gebruikers se risiko op hartaanvalle en beroertes verhoog.
- Die toesighoudende owerheid van Namibiese finansiële instellings, Namfisa, het gister \'n dringende aansoek by die hoërhof ingedien om die besigheid van Legal Shield Namibia onder tydelike kuratorskap te plaas.

Donderdag, 7 Oktober
- Die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) sê Legal Shield Namibia se weiering om spesifieke aangeleenthede en besorgdhede reg te stel om aan die vereistes van die wet op korttermynversekering te voldoen, het regstreeks aanleiding gegee tot \'n dringende hofaansoek om die maatskappy onder tydelike kuratorskap te plaas.
- Die familie van die Namibiese huursoldaat wat Dinsdag in Harare, Zimbabwe, dood is, is nog nie amptelik van sy dood in kennis gestel nie. Hulle vrees nou dat hulle nie die geleentheid sal hê om hom volgens hulle Himba-tradisies te begrawe by die nedersetting waar hy grootgeword het nie.

Vrydag, 8 Oktober
- Die Namibiese regering van President Sam Nujoma staan saam met drie plaaslike maatskappye met noue Swapo-bande, sentraal in die jongste skandaal wat losgebars het rondom President Saddam Hoesein van Irak se Olie-vir-voedsel-program. Die Namibiese regering het bewysstukke vir sewe miljoen vate ru-olie blykbaar van Saddam persoonlik ontvang in \'n skandaal wat moontlik verband kan hou met die verbreking van VN-sanksies teen die vorige Irakese regering.
- Einde aan visdiewery in Namibiese seegebied is gister op Walvisbaai deur die Minister van Verdediging, mnr. Erkki Nghimtina, aangekondig. \"Van vandag af is die Namibiese vloot gereed om op onwettighede in Namibiese waters toe te slaan.\"

Maandag, 11 Oktober
- In plettervat op Namibiese rugby is die uitvoerende komitee, waaronder die twee presidente, van die Namibië Rugby-unie (NRU), op die vooraand van die finaal van die Afrikabeker-reeks summier van hul poste onthef.

Dinsdag, 12 Oktober
- Die Namibiese polisie op Okongo in die Ohangwena-streek moes die afgelope naweek tussenbeide tree om \'n konfrontasie tussen sowat 500 lede van die Oukwanyama-stam en \'n afvaardiging van die Ondonga-stam af te weer.
- Die Adjunkpremier, eerw. Hendrik Witbooi, het Saterdag op Gibeon met me. Johanna Isaacks in die huwelik getree.

Woensdag, 13 Oktober
- Namibië was gister een van die min lande wat oor brandstofpryse kon glimlag: terwyl die olieprys teen US$45 per vat alle vorige rekords laat spat het, is plaaslike pomppryse tot die einde van die jaar gevries.
- \'n Geheimsinnige transaksie waarin \'n onbekende hoeveelheid toermalyn uit \'n myn van die ontwikkelingsbrigadekorporasie (DBC) glo wederregtelik teen miljoene van die hand gesit is, is die jongste onthulling voor die kommissie van ondersoek wat dié omstrede staatsmaatskappy ondersoek.

Donderdag, 14 Oktober
- Op die vooraand van die hervatting van die algemene jaarvergadering van die Namibiese Rugby-unie (NRU) om \'n bestuurspan te kies, kring die onmin in rugbygeledere uit.
- Die Namibiese Landbou-unie (NLU) staan vandag voor \'n kruispad met tweespalt onder sy lede oor die posisie wat die unie moet inneem om nog \'n bestaansreg te hê. Dié aangeleentheid sal vanmiddag op die spits gedryf word met die verkiesing van \'n nuwe president vir die NLU wat die pas van vernuwing vir die unie sal moet aangee.

Vrydag, 15 Oktober
- Die Namibiese Landbou-unie (NLU) het laat gisteraand sy nuwe president bekendgemaak. Dié warm stoel sal vir die volgende jaar deur mnr. Raimar von Hase volgesit word, na die voormalige politikus mnr. Jan de Wet se termyn verstryk het.

Maandag, 18 Oktober
- Agtien toeriste uit België het belewenis soos min op die strand gehad toe boggelrugwalvis minder as tweehonderd meter van die kant halfuur lank al sy swem- en duikkunsies kom vertoon het. Die skouspel het hom Donderdagmiddag tussen Sandvishawe en Rondeduin, suid van Walvisbaai, afgespeel.

Dinsdag, 19 Oktober
- Jurgens Strydom het nog \'n mylpaal in sy rooskleurige loopbaan as junior tennisspeler behaal. Die 17-jarige gebore Windhoeker het Saterdagaand weggestap met die Beste Sportpresteerder-toekenning van die Namibiese Skolesportunie (NSSU).
- President Sam Nujoma het persoonlik in die beskuldigdebank beland in die voorslepende stamtwis in die Noorde weens sy beweerde voortrekkery van die Ondonga-stam en openlike benadeling van die Oukwanyama-stam.

Woensdag, 20 Oktober
- Die eerste mense wat miltsiek opgedoen het, is op Lusu naby Linyanti gediagnoseer nadat dié siekte in Namibië se Caprivi-streek begin versprei het.

Donderdag, 21 Oktober

- Die diplomatieke immuniteit wat \'n kleinseun van \'n Namibiese diplomaat in Suid-Afrika geniet, het meegebring dat hy \'n vry man uit die Pretoria gevangenis gestap het. Die Suid-Afrikaanse owerhede se hande is afgekap om die 20-jarige Zondi Ashipembe op klagtes van huisbraak met die doel om te roof, roof met verswarende omstandighede en poging tot verkragting te vervolg.
- Namibië se voorste vroueswemmer, Danielle van Zijl, het vyf nasionale ope rekords en vier nasionale ouderdomsrekords verpletter toe sy onlangs aan die sewende Wêreldkampioenskap in Indianapolis, VSA, deelgeneem het.
- Die tafel is gedek vir die Namibiese Rugby-unie (NRU) om Saterdag die eindfluitjie vir die slepende probleme in rugby te blaas.

Vrydag, 22 Oktober
- Miltsiekte, ook bekend as antraks, het in Namibië se kommersiële landbougebied uitgebreek en Leonardville is onder kwarantyn.
- Die Ministerie van Buitelandse Sake het reeds die amptelike versoek van Suid-Afrika vir die opheffing van diplomatieke immuniteit van mnr. Zondi Ashipembe ontvang. Geen finale besluit is egter nog geneem nie.

Maandag, 25 Oktober
- Die gemeenskap van Outjo is in smart gedompel nadat \'n geliefde onderwyseres van dié dorp en haar man die afgelope naweek slagoffers van \'n bloedige gesinsmoord in Windhoek was. \'n Middeljarige man van Windhoek, mnr. Johannes Hendrik (Hannes) Thorburn, het omstreeks 06:00 Saterdag in raaiselagtige omstandighede drie van sy familielede doodgeskiet en daarna die wapen op homself gerig.
- Die ekonomies-geknelde Kubaanse regering van president Fidel Castro gaan \'n viskwota as \"solidariteitskenking\" van die Namibiese Regering ontvang.
- Mnr. Dirk Conradie is Saterdag onbestrede in sy pos as president van die Namibië Rugby-unie herstel nadat die enigste ander kandidaat, mnr. James Camm, die vorige dag uit die wedloop onttrek het.

Dinsdag, 26 Oktober
- Die aantal mense in die Caprivi wat miltsiekte opgedoen het, styg steeds en teen gistermiddag was altesame elf Namibiërs in \'n spesiaal afgesonderde eenheid van die staatshospitaal op Katima Mulilo opgeneem vir behandeling.

Woensdag, 27 Oktober
- Die twee oud-Namibiërs wat Vrydag om menslikheidsredes uit die berugte Chikurubi-tronk in Harare vrygelaat is, het nie eers meer huise om na terug te keer nie. Mnr. Puis Kanjowa (45) en mnr. Leratu Eselumu (46), twee voormalige Koevoet-lede en deel van die groep van 67 vermeende huursoldate wat in Maart in Zimbabwe in hegtenis geneem is, is albei siek en het dringend mediese sorg nodig.

Donderdag, 28 Oktober
- Mannie Heymans het onlangs \'n veld van meer as 2 000 fietsryers uitgestof toe hy die Crater Cruise-rit oor 96 km in Parys in die Vrystaat gewen het.

Vrydag, 29 Oktober
- Die gewilde Namibiese sangeres, Juanita du Plessis, het vroeër vandeesweek dringende hofbevel teen die sekstydskrif Loslyf gekry omdat dié op \"walglike, eksplisiete en siek wyse\" in sy November-uitgawe met haar die gek skeer.

Soortgelyk

 

Voertuie deur Löwen meegesleur

12 ure gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer – Twee toeriste én 'n barmhartige samaritaan moes gister hulpeloos toekyk hoe beide hul voer­tuie deur vloedwater in die Löwenrivier meegesleur word.Dié twee...

Boer slag huurbeeste glo self

12 ure gelede | Misdaad

Elvira Hattingh – 'n Boer uit die Windhoek-omgewing het Donderdag sy vierde verskyning in die landdroshof in Windhoek gemaak op aanklag dat hy 'n boer...

Weer vir 19 Januarie

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word oor die binneland verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Namib en verre suide met 'n paar buie, andersins gedeeltelik...

Voëlgriep dalk in Namibië

12 ure gelede | Omgewing

Adam Hartman en Erwin Leuschner – Nadat voëlgriep in Suid-Afrika in die Wes-Kaap etlike maande gelede uitgebreek het, bestaan die vrees tans dat seevoëls langs...

Mense keer op keer uit riviere verskuif

12 ure gelede | Regering

Tanja Bause – Talle huise aan weerskante van 'n rivier wat parallel met Istanbulstraat in Otjomuise loop, het Sondagnamiddag oorstroom. Baie van die betrokke mense...

Pedofielsaak skuif na hoërhof

12 ure gelede | Howe

Kristien Kruger – Die vermeende pedofiel wat daarvan beskuldig word dat hy verskeie jong seuns in Windhoek verkrag en vir pornografies doeleindes misbruik het, se...

Reënseisoen skop buitengewoon swak af

12 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Ofskoon Namibië se weerkantoor opnuut wydverspreide donderbuie vir vandag oor die binneland voorspel, het die eerste helfte van die reënseisoen “baie swak”...

Noorde wag vir reën

12 ure gelede | Weer

Terwyl die sentrale en suidelike gedeeltes van Namibië hoë neerslae die afgelope paar dae aangeteken het, moet die noorde van die land nog volgens die...

Verslag: Verskaffers het Agribusdev droog gemelk

12 ure gelede | Ministeries

Mathias Haufiku – ’n Forensiese verslag oor Agribusdev se sakebedrywighede voer aan verskaffers het voorkeurbehandeling ontvang om sake met die maatskappy te doen deur prysvasstellingstaktieke...