Die hart van Namibiese toerisme

Toergidse skitter

28 June 2019 | Toerisme
“Ek is mal daaroor om met mense te werk.

“Ek hou van die natuur, ek is lief vir my land en gek daaroor om in die toerismebedryf te wees wat my toelaat om met my ongelooflike land by mense van oral in die wêreld te kan spog.”

So sê Kenneth Kapitako, die eienaar van Sandwich Adventure Tours cc.

Kenneth is in Katutura in die ­hoofstad gebore en het daar grootgeword. In 2010 het hy na Walvisbaai verhuis en is as ­logistieke bestuurder by die Purity-mangaanmyn aangestel.

“Ek het as 'n vryskuttoergids by Sandwich Adventure Tours begin werk nadat ek by die myn afgedank is. Ek het begin om toeriste Sandvishawe toe te vat sodat ek my familie kon onderhou,” vertel hy.

In 2015 het hy as logistieke bestuurder by die maatskappy gewerk waarna hy 'n permanente pos as toergids en vloot­bestuurder aangebied is.

“Ek het vir vier jaar vir Sandwich Adventure Tours gewerk voordat ek in Desember 2018 die geleentheid gekry het om die besigheid oor te koop - wat ek met beide hande aangegryp het. Die toerismebedryf is een van die snel groeiende sektore in ons land en ek het die potensiaal gesien om die beeld van die besigheid as 'n plaas­like besigheid te verbeter en na die volgende vlak te neem,” het Kenneth gesê.

Kenneth is baie passievol - nie net oor sy land nie, maar ook oor sy gaste.

“Ons is uniek omdat ons altyd daarna streef om elke gas 'n reis te gee wat hulle vir die res van hul lewe sal onthou.”

“Elke dag is vir my 'n belewenis veral wanneer jy 'n toeris na 'n ontsagwekkende plek soos Sandvishawe toe neem. Wanneer hul gesigte ophelder en hul oë begin glinster oor die ongelooflike toneel waar die woestyn se duine en die see mekaar ontmoet . . . dit is die herinneringe wat hulle saam huis toe vat en ek weet ek het dit help maak. Dit is sulke oomblikke wat my hart bly maak en my aanspoor om beter herinneringe te skep,” sê Kenneth.

“Ek self kan Engels, Afrikaans, Herero, Oshiwambo, Damara/Nama, Duits en 'n bietjie Frans praat, maar tog kan die taal 'n bietjie van 'n uitdaging wees.”

Hy doen alles in sy vermoë om die gaste welkom en ontspanne te laat voel en so goed soos moontlik met hulle te ­kommunikeer.

“Die toeriste kan ook baie snaaks wees en daar word baie gelag op die ­uitstappies. Ek onthou van 'n keer het ek 'n toeris van Colombia in die voertuig gehad. Ons het by die soutpanne verbygery en hy het die berge sout sien lê. Hy het begin lag en gesê 'ahaaa . . . dit lyk soos baie kokaïen'.”

Sandwich Adventure Tours bied tans ekovriendelike, fotografiese 4x4-toere na Sandvishawe, die Topnaars en rondom die Walvisbaai-strandmeer aan. Hulle bied ook dolfyn- en robbeboottoere, asook kajakritte op die strandmeer aan. Al die toere kan apart of as een gedoen word en elkeen word met vonkelwyn en vars oesters afgesluit.

“Ek hoop dat meer van ons plaaslike mense by ons toere kom bespreek. Ons is 'n plaaslike besigheid en al ons werkers en toergidse is plaaslike mense. Ons is ook die enigste toermaatskappy wat in swart eienaarskap is wat sedert 2014 toere na Sandvishawe aanbied.”

“Ek wil graag plaaslike mense aanmoedig om saam met ons op 'n toer te gaan sodat hulle ook hul eie wonderlike land kan verken en na plekke toe kan gaan wat hulle nog nie gesien het nie. Ons sal vir hulle ook spesiale herinneringe gee van hul eie land wat hulle 'n leeftyd sal hou,” sê Kenneth.

Sy droom is om die maatskappy so uit te brei dat hulle toere landwyd kan aanbied.

As deel van hul korporatiewe sosiale ­verantwoordelikheid ondersteun ­Sandwich Adventure Tours die JB Brand-skool in die Topnaar-gemeenskap met klere en kos.

Soortgelyk

 

Valskerm-ongeluk eis Chinese vrou

4 ure gelede | Ongelukke

'n Valskerm-ongeluk het die lewe van 'n Chinese vrou, me. Ran Lei (33), Sondagmiddag geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag het die voorval...

Frankfurt-vlugte het hervat

5 ure gelede | Vervoer

Air Namibia se vlugte na en vanaf Frankfurt in Duitsland het hervat.Die Airbus A330-200 is ná die vlerkskade tydens ‘n ligte botsing Saterdagaand by die...

Beserker slaan 2-jarige nefie na bewering met graaf dood

5 ure gelede | Misdaad

‘n Tweejarige seuntjie is vroeg Saterdagoggend dood toe sy 50-jarige oom hom na bewering met ‘n graaf aangeval het, terwyl ‘n driejarige meisie wat hy...

Man vas oor 'diamantsmokkelary'

6 ure gelede | Misdaad

'n Nambiese man is Vrydag in verband met diamantsmokkelary op die grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië by Oranjemund in hegtenis geneem.Volgens die Namibiese polisie se...

Laat koppe rol - Jooste, SPYL

21 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Stemme uit die regerende party dring toenemend aan dat diegene wat beskuldig word van korrupsie onder sy geledere verwyder word.Nadat die beleërde...

Gertze skiet glo vrou

21 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in...

Namibiërs betoog oor korrupsie

21 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause - Meer as 200 mense van alle rasse en ouderdomme het Vrydag deelgeneem aan ’n teenkorrupsie-optog in Windhoek wat deur aktiviste gereël is....

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

21 ure gelede | Politiek

McHenry VenaaniPopular Democratic Movement (PDM)McHenry Venaani is die leier van die amptelike opposisie en het in 2014 as mees suksesvolle opposisiekandidat 44 271 stemme (sowat...

Weer vir 18 November

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar donderbuie oor die verre Noordooste, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige...