• Tuisblad
  • Sport
  • Die Azzurri sal Namibië nie te lig skat, sê Goosen
Die Azzurri sal Namibiu00eb nie te lig skat, su00ea Goosen
Die Azzurri sal Namibiu00eb nie te lig skat, su00ea Goosen

Die Azzurri sal Namibië nie te lig skat, sê Goosen

Spanne sal veiligheid eerste stel en konserwatiewe wedstrydplanne is die waarskynlike patroon vir die Wêreldbeker, verwag Italië se verdedigingsafrigter.
Hendrik Cronjé - Italië, wat na verwagting saam met die All Blacks die sterkste mededinging aan Siya Kolisi se span in die groep B-wedstryde van die Wêreldbekertoernooi sal bied, se aandag is nog nie op die Springbokke gerig nie.

“Ons doelwit is om ons eerste twee groepwedstryde te wen en vir die volgende Wêreldbeker te kwalifiseer,” het Marius Goosen, Italië se verdedigingsafrigter, in 'n onderhoud aan Netwerk24 gesê.

“Eers dan sal ons op Suid-Afrika en Nieu-Seeland konsentreer. In die stadium kyk ons nie verder as die eerste twee wedstryde nie.

“Ons is betreklik gelukkig met die loting dat ons eers in die laaste twee wedstryde teen Suid-Afrika en Nieu-Seeland speel.”

Italië se eerste wedstryd is Sondag teen Namibië in Higasjiosaka, waarna Kanada hul teenstander op 26 September in Foekoeoka is.

Goosen het 'n interessante siening oor die kragmetings wat daarna vir hulle teen die Bokke en All Blacks voorlê.

“Aan die een kant is dit moeilik, want dit is albei spanne wat 'n baie goeie kans het om die Wêreldbeker te wen. Hulle sal vir seker aan niks anders dink as om die beker huis toe te vat nie.

“Aan die ander kant is dit ook maklik, want niemand gee jou 'n kans teen hulle nie, so daar is niks druk op ons wanneer jy teen hulle speel nie.”

Goosen, wat destyds vir onder meer die Bulle, Stormers en Treviso heelagter en losskakel gespeel het, en sy span het verlede Sondag in Japan aangekom. Hulle het dadelik ná hul toets teen Engeland na Japan gevlieg.

“Ons is nogal gelukkig dat waar ons geoefen het in Italië, baie dieselfde weersomstandighede het as in Japan. So dit is nie regtig vir ons 'n baie groot aanpassing nie. Ons het ook verlede seisoen hier getoer en twee toetse teen Japan gespeel.

“Engeland het twee oefenkampe in Treviso gehou waar ek ook afrig, juis omdat die weer en humiditeit daar byna soortgelyk is aan wat ons hier in Japan ervaar.”

Die Japanse speeltoestande gaan volgens hom wel 'n invloed op die spanne se vertonings en wedstrydplanne hê.

“Die toestande sal beslis 'n invloed op die wedstrydplanne hê. Spanne sal vir seker meer skop.

“As jy sien hoe die Bokke die wedstryd teen Japan benader het, dan sal jy agterkom dat dit beter is om nie die bal te hê nie. Jy kan met goeie verdediging kanse skep om punte aan te teken.

“Die intensiteit sal steeds hoog wees, maar ek voorspel dat dit meer oor eerstefase-besit, verdediging en skopwerk sal gaan as oor hoëtempo-bal-in-die-hand-wedstrydplanne.”

Japanse speeltoestande kan spanne soos Wallis en Engeland selfs bevoordeel.

“Hulle is albei spanne wat reeds wedstrydplanne het wat fokus op veldposisie en dan om druk met goeie verdediging toe te pas.

“Hulle probeer spanne met goeie skopwerk en verdediging in hulle eie helfte vaspen en te forseer om daar foute te begaan.

“Skotland en Ierland is baie meer bal-in-die hand-spanne, so dit kan vir hulle moeilik wees as hulle nie hul wedstrydplanne by die omstandighede aanpas nie.”

Frankryk is volgens Goosen – wat vanweë sy betrokkenheid by onder meer die Sesnasiesreeks eerstehandse ervaring van hulle het – 'n baie fisieke span wat aanpasbaar in enige speeltoestande is.

“Ek voorspel hulle kan dalk goed vaar.”

Danksy die beplanning van hul dieetkundige, sal die Japanse kos nie Goosen-hulle tydens die Wêreldbeker pootjie nie.

“Ons dieetkundige het al maande gelede Japan besoek om seker te maak dat ons spyskaarte en dieet hier reg is in al die hotelle waar ons bly. Ons eet hier presies dieselfde as wat ons by die huis of voor enige ander toets sal eet.

“Natuurlik op ons afdae sal ons soesji gaan eet en die Japanse kultuur gaan ervaar.”

Italië en die Bokke se groepwedstryd vind op 4 Oktober in Sjizoeoka plaas.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!