Die aangename kennis van Pula by die see

09 August 2019 | Kuns en vermaak
Pedro Vorster

Die herinneringe aan die gehalte van ‘n reis lê in onbeplande klein episodes.

Ons sit en wieg op ‘n luukse bus, bestemming Pula, westelikste kusdorp van Kroasië aan die Adriatiese See.

Hier loop die uurglas van ons Kroatiese blitstoer leeg. Om my reisigersheimwee te besweer, staar ek my vir oulaas blind teen die worstelende Aleppo-denne en kalm baaitjies waar die helder see teen die bleek rots klots.

‘n Mistroostige afskeidsreëntjie stuif neer as ons Zadar verlaat. Die wolkehemel is so onwerklik, dit lyk soos die grys dekor van ‘n triestige verhoogstuk. Ons ry onder ‘n kombers reënwolke wat in ‘n onnatuurlike reguit lyn van oos na wes oor die see afgesny word. Eenkant swiep die bus se ruitveërs, dan lê hulle skielik droog. Voor ons Pula inry, skyn die son.

Pula is paljas, word daarby as ‘n koel stad verkoop en ís.

Die mense lyk treurig, maar is hoflik. Die kelnerinne is mooi en slim. Die restaurantbestuurders is vriendelik en die snuisterymakers vaardig.

In die snuffelstrate loop ek kniehoogte houtbeeldjies van die Britse grapjasse Laurel en Hardy raak. ‘n Entjie verder vang ‘n klein voëlvorm my oog. Wat beteken die simbool so fyn uit ‘n stukkie afvalhout gesny? Die logo lyk soos Batman ontmoet die Feniks.

Dit is die embleem van Zagor, ‘n Kroatiese strokiesheld, verduidelik die houtkerwer. Die voël is ‘n Thunderbird en behalwe dat die held teen die bose baklei, tap hy sy bonatuurlike krag uit die mitologie van die Amerikaanse Indiane.

In Split het ek ‘n Pink Floyd T-hemp gekoop en die skemerkroeg in Pula speel die popikone se “Shine on you crazy diamond”.

‘n Goeie teken, dink ek, terwyl ek op my yskoue wag. Dan vang my oog ‘n ou uitgawe van Mojo, ‘n popmusiektydskrif. Dawid Bowie is dood, Joni Mitchell word geinterview.

Vir ‘n wyle vergeet ek my bier en verwonder my aan die kruisbestuiwing van popkultuur. Weer vonk die sinapse en maak nog ‘n wêreldverbintenis: Pula lê op Kroasië se roete 66.

Kan ek dié eksemplaar leen en môre terugbring?

“Sekerlik.”

Die volgende dag:

“Hou maar.”

Hoe kan jy nie lief raak vir sulke akkommoderende mense nie? So byna bestel ek die duurste bier op die spyslys.

Daar is veertien tipes Craft Piva wat plaaslik gebrou word en die edele San Servolo Gold limited edition is maklik die duurste in Kroasië. Haal om en by N$70 uit vir 330 ml se uniekheid.

“Waar die leeus en Christene baklei het,” lui een strofe van ‘n Leonard Cohen-bromliedjie. Of die Pula-arena, waar die liedjieskrywer opgetree het, die inspirasie was vir die reël, is sappige spekulasie. Dat die literêre groot geeste Dante en James Joyce Pula besoek en lewend weggekom het, is egter waar.

Vandag speel die inwoners so skamerig selfbewus gladiator en Romeinse soldaat vir die toeriste se kameras en bloei harte in die Pula-arena op ‘n ander wysie. Die nuwe helde is popsterre en dié wat al in die arena opgetree het, lees soos ‘n kortlys van die “Wie’s wie” van hedendaagse wêreldberoemde musikante. Placido Domingo, Alanis Morisette, Sting, die drie Jones’e Tom, Norah, en Grace, Pink Floyd se David Gilmour en die Foo Fighters het al hier weerklink.

Die Histri en Romeine bou die eerste borswerings. Later, as ‘n strategiese hawe, word Pula gereeld in golwe oorspoel deur verskeie ryke, Bisantyns, Veniesies en vele andere.

Of mensgemaakte rampe nie genoeg was nie, dun malaria, tifus en die Groot Plaag die populasie uit tot ‘n nederige drieduisend siele.

Nader aan vandag verower die Hongaarse weermag die stad en neem die Habsburg-monargie beheer daarvan in 1797.

In skemertonnels onder die Pula-amfiteater se ground zero staan pelotonne antieke amforas leeg sonder die gebruiklike olie, wyn of as van gestorwenes.

Die universiteitstad het nie net ‘n gemoedelike bierpens nie.

Dit is ‘n klipharde six-pack gebrei deur sy verlede.

Soortgelyk

 

Oordragplanne van Hatuikulipi’s gefnuik

5 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer - Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het gistermiddag by die aktekantoor in Windhoek beslag gelê op dokumente vir die oordrag van 15 deeltiteleenhede op Swakopmund...

Waarskuwing: Swaar storms tot Saterdag

5 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl ’n vrou van Otjiwarongo Woensdag gesterf het toe reënwater haar meegesleur het, waarsku die Namibiese weerkantoor nog swaar storms kan tot...

Geen borg vir ‘renosterstroopsoldate’

5 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Die drie weermagsoldate wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n olifant in die Etosha Nasionale Park gestroop het, bly in aanhouding. Mnre....

Weer vir 6 Desember 2019

5 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Swaar storms sal in die streke van Oshana, Ohangwena, Oshikoto, Kavango-Wes, Kavango-Oos, Otjozondjupa, Khomas en Omaheke voortduur. Tref asseblief die nodige voorsorgmaatreëls. BINNELAND: Bewolk...

Kalender 6 Desember

5 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang » Die Swakopmund KIA Makietie beloof om 'n ongelooflike geleentheid te wees. Swakopmund is onlangs as Kwêla se Dorp van die...

Speke sing vir Bryn

5 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Byna twee jaar nadat hy ’n suksesvolle leweroorplanting gehad het, durf die 51-jarige Adriaan Grobler die moordende Desert Dash uit dankbaarheid vir...

Kombatters voor hof gedaag

5 ure gelede | Howe

Augetto Graig - Op 22 November vanjaar het ’n hof gelas sekere huurkontrakte op Kombat mag gekanselleer word, uitsettingsbevele mag op inwoners beteken word en...

Soogdiergids vir Namibiërs

5 ure gelede | Byvoegsels

Francoise Steynberg - Die Namibiese uitgewershuis Wordweaver spog nou met 'n Duitse uitgawe van sy oulike soogdiergids in sy natuurreeks.Mein estes Buch der Säucetiere Namibias...

Heeltyd speeltyd

5 ure gelede | Byvoegsels

KOLLIGTanja Bause – In Windhoek se Kleine Kuppe-woonbuurt is 'n heerlike speelplek vir kinders.Anta Mandy is sedert 2017 aan die stuur van die Busy Bodies...