Dié vyf grotes vreet mediese fondse

Meer generiese medisyne gebruik

12 September 2018 | Sakenuus
Nellie Brand-Jonker – ’n Nuwe siekte het in 2017 kop uitgesteek onder die topvyf chroniese siektes waaraan mediese fondse wat Mediscor se dienste gebruik, die meeste geld bestee.

Bipolêre gemoedsversteuring het asma onder die topvyf vervang.

Volgens Mediscor, die bestuurder van farmaseutiese voordele, se jaarlikse verslag het mediese fondse verlede jaar 64% van die totale besteding aan chroniese siektes wat onder voorgeskrewe minimum voordele val, aan die topvyf bestee.

Die topvyf (met die persentasie van die totale besteding aan chroniese siektes in hakies):

· Hoë bloeddruk (26,5%)

· Diabetes tipe 2 (13,6%)

· MIV/vigs (10,8%)

· Hoë cholesterol (8,2%)

· Bipolêre gemoedsversteuring (5%)

Bipolêre gemoedsversteuring het asma in die vyfde plek vervang.

Die siektes se plek op die ranglys het effens verander gemeet aan die voorkoms per 1 000 lewens.

Die topvyf hier (met die getal per 1 000 lewens in hakies):

· Hoë bloeddruk (129,9)

· Cholesterol (71,5)

· Diabetes tipe 2 (36,8)

· Skildklierprobleme (33)

· Asma (20,5)

Dit stem ooreen met wat die land se grootste mediese fonds, Discovery Health Medical Scheme (DHMS), in April in ’n verslag getoon het.

Volgens Mediscor is die topvyf op die lys van chroniese toestande waaraan die meeste geld per pasiënt per jaar bestee word soos volg:

· Hemofilie: R311 850

· Veelvuldige sklerose: R69 361

· Chroniese niersiekte: R19 765

· Diabetes insipidus: R14 170

· Crohn se siekte: R11 790

Die vyf toestande beloop 6,7% van die totale besteding aan medisyne vir chroniese toestande. Die medisyne verteenwoordig egter net 0,8% van die totale produkvolumes.

Mediscor se verslag handel oor die jaarlikse bestedingstendense aan medisynes en toestande by die mediese fondse wat sy dienste gebruik. Dit behels die inligting van sowat 1,8 miljoen lede en begunstigdes.

Ander bevindinge van Mediscor se verslag sluit in:

Besteding aan medisyne het verlede jaar met 6,9% per lewe gestyg. Dit is die skerpste styging in drie jaar. Dit is grootliks weens die staatsbeheerde verhoging van 7,5% wat in 2017 toegelaat is. Daarteenoor het die gebruik van medisyne minimaal met 0,6% gestyg.

Spesialiteitsmedisyne, wat biologiese medisyne en medisyne vir skaars siektes insluit, het verlede jaar 11% van die totale besteding aan medisyne verteenwoordig. Die medisyne moet aan sekere kriteria voldoen om as ’n spesialiteitsmedisyne te kwalifiseer, soos spesiale tegnieke om dit te vervaardig en gespesialiseerde bergings- en hanteringsprosedures. Hierdie medisyne verteenwoordig net 0,2% van die volumes en die feit dat besteding daaraan so hoog is, wys hoe duur dit is.

“Ten spyte van die klein getal lede wat die medisyne gebruik, word dit ’n aandrywer van koste,” sê Christo Rademan, uitvoerende hoof van Mediscor. Die gemiddelde jaarlikse koste van dié medisyne per pasiënt beloop R87 703. Boonop het die besteding aan dié medisyne skerp met 7,7% gestyg.

Verbruikers raak al hoe meer gewoond aan generiese medisyne. Die gebruik van generiese medisyne pleks van die oorspronklike is nou 59,9%. Dit styg elke jaar. Die gemiddelde koste per item vir generiese weergawes was R122, vergeleke met oorspronklike medisyne waarvoor daar reeds ’n generiese middel bestaan van R164. Oorspronklike medisyne met ’n geldige patent het gemiddeld R289 per item gekos.

Die algemeenste medisyne waarvoor die meeste pasiënte by ’n dokter of apteek aanklop, is vir hoes- en verkouemedisyne; kombinasie-pynmiddels en beta-laktaam-antibiotika. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Ma, seun van Reho in hof ná tref-en-trap

1 uur gelede | Howe

Denver Kisting – ’n 45-jarige ma van Rehoboth verskyn na verwagting vandag saam met haar tienerseun in die landdroshof op dié dorp.Dít kom nadat die...

Hondelewe vir stropers

11 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg op Waterberg - Pas ná die ministerie van die omgewing en toerisme met die opleiding van hul honde-eenheid teen stropery begin het, het...

NBC verdrink in skuld

11 ure gelede | Tegnologie

Augetto GraigDie voortslepende arbeidsgeskil by die nasionale uitsaaier (NBC) besorg mnr. Stanley Simataa, minister van inligting en kommunikasietegnologie, hoofbrekens, het hy gesê. “Die NBC verdrink...

PDM beraadslag oor grond

11 ure gelede | Politiek

Augetto Graig - Die nasionale uitvoerende komitee van die amptelike opposisieparty, die Popular Democratic Movement (PDM), het Vrydagaand in voorbereiding op die komende nasionale grondkonferensie...

Weer vir 14 September 2018

11 ure gelede | Weer

BINNELAND: Meestal sonnig en baie warm. KUS: Gedeeltelik bewolk en koud tot matig met miskolle in die oggend op plekke. GETYE BY...

Noodvoedselbank vir hospitale sonder kos

11 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ‘n Noodvoedselbank is in die Erongostreek geskep as ‘n tydelike oplossing vir die voedseltekorte wat tans in alle staatshospitale in die streek...

Hoop vir die wilde perde

11 ure gelede | Omgewing

Die wilde perde by Garub in die Suide is ’n vulletjie ryker. Volgens ’n verklaring van die Namibië Wildeperdestigting is die vulletjie se trotse ouers...

Namibiërs trotseer Bolivia se pieke

11 ure gelede | Mense

Elvira Hattingh - Twee kleinneefs, mnre. Gerhard Jacobs en Harmen Potgieter, het onlangs uit Bolivia teruggekeer nadat hulle van die eerste Namibiërs geword het om...

Stop geweld in skole

11 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Voorvalle van geweld in skole en in Namibië is rede tot kommer, sê die minister van onderwys, kuns en kultuur.Me. Katrina Hanse-Himarwa...