Dertien baklei vir twee verkiesingsposte

Die openbare onderhoude van hoopvolle hoëlui vir poste as verkiesingskommissarisse het gister in die hoofstad plaasgevind.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die 13 kandidate wat meeding om twee vakatures as verkiesingskommissarisse, het gister allerlei beloftes gemaak oor hoekom húlle die werk moet kry.

Dr. Hendrik Tjibeba, ’n dosent verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam), het aan die paneel gesê kiesersopleiding lê hom na aan die hart.

Volgens hom staan die Namibiese kiesstelsel veral vanweë sy geloofwaardigheid uit.

Tjibeba sê dit is ononderhandelbaar dat verkiesingskommissarisse mense met integriteit moet wees.

As teoloog is sy rekord skoon, sê hy. “Integriteit is baie belangrik. Ek is ’n wetsgehoorsame burger.”

Hy sê hy stem heelhartig saam met ’n mening dat Namibië die voortou neem wat demokrasie in veral Suider-Afrika betref. “Ons is ’n baie stabiele land met ’n klein bevolking.”

As dosent het dit al gebeur dat ’n student wat nie aan die slaagvereiste vir ’n vak voldoen het nie, hom genader het om punte aan te pas, het hy gesê.

Maar dis belangrik om nie by onderduimse gedrag betrokke te word nie, sê hy. “Sodra jy daaroor ’n kompromis aangaan, is dit verby.”

Tjibepa het voorts benadruk hoewel kommissarisse aan politieke partye mag behoort, moet hulle daardie affiliasies verswyg. “’n Mens kan dan nie op straat verskyn in Katutura, of waar jy ook al woon, geklee in partyklere nie. Dit is onaanvaarbaar.”

Die voormalige sekretaris van die eertydse Tenderraad van Namibië, me. Welma Enssle, sê haar 30 jaar as regeringsamptenaar tel in haar guns vir die pos as verkiesingskommissaris.

Trouens, sy was as deel van die kantoor van die eerste minister lid van die span wat die verkiesingkommissie destyds gevestig het, sê sy.

Enssle sê sy lei haar lewe op so ’n manier dat niemand na haar kan vinger wys of geraamtes uit haar kas kan laat tuimel nie.

Sy het benadruk dat deursigtigheid van uiterste belang is om geloofwaardige verkiesings te verseker.

Dit is een van die aspekte waarop die kommissie kan verbeter, sê sy.

Gedurende haar ampstermyn by die Tenderraad het daar verskeie versoekings oor haar pad gekom, het sy gesê.

Tydens een van dié geleenthede het ’n man vir haar ’n koevert vol kontant vir ’n vakansie aangebied. Sy sê sy het dit van die hand gewys en vir die man gesê hulle moet voorgee die vergadering het nooit plaasgevind nie.

Me. Carola Engelbrecht, ’n oudpolitikus wat al jare in burgerregtekringe werksaam is, sê dit is belangrik dat verkiesingskommissarisse se hande skoon is.

Sy onthou ’n voorval tydens haar kort termyn in die partypolitiek, waartydens sy die party se president by die uitvoerende komitee verkla het omdat hy glo geld bestee het sonder die verlof van dié komitee.

Hoewel dit haar partypolitieke loopbaan beëindig het, het die einste president haar jare later weer genader om sy party te dien.

Dit is ’n teken van haar integriteit, sê sy.

Mnr. Vitura Kavari, 'n oudjoernalis, sê sy destydse betrokkenheid by die verkiesingskommissie as die skakelbeampte maak dat hy geen nuwe gesig is nie.

Omdat vanjaar ’n verkiesingsjaar is, sal dit sinvol wees om mense as kommissarisse aan te stel wat nou vertroud is met die instelling se werksaamhede.

Hy het voorts gesê: “Verkiesings kan ’n land maak of breek. Integriteit is deurslaggewend.”

Volgens hom is dit merkwaardig dat Namibië nog nooit verkiesingsgeweld beleef het nie, veral omdat die land se geskiedenis oorlog insluit.

Die ander hoopvolle kandidate is mee. Anna Engelbrecht, Calista Schwartz, mnre. Gerson Tjihenuna, Penias Topnaar, Lazarus Shatipamba, Barney Karuuombe, Chippa Tjirera, Michael Akuupa, Evaristus Evaristus en Moses Ikanga.

Die nuwe kommissarisse sal na verwagting in Februarie vanjaar diens aanvaar.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!