De Klerk was vuil wasgoed in hof

Die aansoek vir die verwyde­ring van mnr. Marén de Klerk as eksekuteur van drie boedels omdat hy Namibië verlaat het, is gister aangehoor.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die prokureur wat landuit is midde beweringe dat miljoene van die bedroggeld in die Fishrot-skandaal deur twee van sy rekeninge gevloei het, is gister in die hoërhof van “'n slu en kwaadwillige aanval” op sy vennote beskuldig.

Regter Thomas Masuku het in die dringende aansoek waarin gevra is mnr. Marén de Klerk moet verwyder word as die eksekuteur van drie boedels wat hy besig is om te beredder, gehoor sy drie vennote moes tot dié geding toetree “om hul goeie naam” te beskerm.

Een van die boedels ter sprake is dié van wyle mnr. Aaron Mushimba, die bekende Namibiese sakeman wat in 2014 in 'n Kaapstadse hospitaal dood is.

Adv. Theo Barnard het namens mnr. Stoan Horn, me. Celeste Coetzee en mnr. Petrus Strauss, mededirekteurs van die firma De Klerk, Horn and Coetzee Incorporated (DHC), gevra dat sekere dele uit De Klerk se eedsverklarings geskrap word waarin hy hulle “verwoes en onrede­lik ­kritiseer”.

Barnard het aangevoer die rede waarom dit geskrap moet word, is om te verhoed dat De Klerk se beweringe “vir altyd 'n albatros om die nek is”.

Dit blyk uit die oor en weer beskuldigings in die stukke die verhouding tussen De Klerk en sy mededirekteurs het die afgelope maande versuur. Volgens De Klerk sal Coetzee, wat die voldoeningsbeampte by DHC is, “baie beslis” ook in die ACC se visier wees.

Die rede daarvoor is dat hy haar aan die einde van November of vroeg ­Desember verlede jaar ingelig het oor die beweringe teen hul kliënte, mnre. Sacky Shanghala, die voormalige minister van justisie en James Hatuikulipi, eertydse uitvoerende hoof van Investec Asset Management Namibia. Shanghala en Hatuikulipi is tans saam met die ander vier Fishrot-beskuldigdes, mnre. Bernard Esau, die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, sy skoonseun, Tamson (Fitty) Hatuikulipi, Ricardo Gustavo en Pius Mwatelulo, in aanhouding.

De Klerk sê in die stukke hy het Coetzee aangesê om alle verdagte transaksies waarby hulle betrokke was, sonder versuim by die Sentrum vir Finansiële Intelligensie (FIC) aan te meld. Volgens haar het sy eers in Januarie vanjaar van die beweringe teen dié kliënte bewus geword.



ONBEVOEG

Die aansoek om De Klerk as ekseku­teur te verwyder, is by die hoërhof ­ingedien deur mnr. Johan Penderis en die prokureur, mnr. Philip Ellis, asook die begunstigdes van die drie boedels wat deur hom beredder word.

Penderis, wat Mushimba se finansiële raadgewer was en saam met Ellis trustees van sy trust is, sê in die ­funderende eedsverklaring “dit is duidelik hy (De Klerk) was vir bykans ses maande nie in Namibië nie en is daarom nie in staat om sy take as ­eksekuteur behoorlik uit te voer

nie”.

Hy beskuldig De Klerk ook van wanadministrasie met die bereddering van Mushimba se boedel.

Adv. Andrew Corbett, SC, het gister betoog De Klerk “weet dat hy aktief deur die Namibiese owerhede gesoek word vir verskillende misdade wat verband hou met die Fishrot-skandaal, insluitend korrupte praktyke, belastingontduiking, geldwassery en afpersing”.

“Dit is die enigste rede waarom hy Namibië verlaat het en wat hom motiveer om nie binne die voorsienbare toekoms terug te keer nie. As gevolg van die erns van die aanklagte, het hy besluit om vir die gereg te vlug,” sê Corbett in sy betoogshoofde.

De Klerk voer aan hy is nie 'n voortvlugtige nie en het sedert Desember 2019 sy volle samewerking aan die owerhede gegee. Dit sluit 'n omvattende verklaring van sowat 400 bladsye in wat op 23 April aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) voorgelê is.

De Klerk ontken verder dat hy nie bevoeg is om as eksekuteur op te tree nie en maak ook die ­beweringe van wanadministrasie as onsin af. Volgens hom loop Penderis se “wraaksugtige ingesteldheid soos

'n goue draad deur sy eedsverklaring”.

De Klerk sê verder Covid-19 het bewys dit is moontlik om funksies soos boedelbereddering virtueel te verrig en dit is nie vir hom nodig om fisiek in Namibië te wees nie.

Hy sê in die stukke hoewel hy na Namibië kan kom as hy 14 dae in kwarantyn deurbring, vrees hy vir sy lewe omdat daar reeds probeer is om hom om die lewe te bring en hy al verskeie kere met die dood gedreig is.

Adv. Yoleta Campbell, vir De Klerk, het aan die hof gesê “die eerste prys sal wees as die applikante se aansoek van die hand gewys word”. Indien nie, het sy gevra dat die hof nie 'n bevinding maak oor die ­oortredings, oneerlikheid en al die ander dinge´waarvan die applikante hom beskuldig nie.

Regter Masuku het die saak tot 27 Augustus uitgestel wanneer hy moontlik uitspraak sal lewer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!