Dausab skuldig aan moord op vriendin
Dausab skuldig aan moord op vriendin

Dausab skuldig aan moord op vriendin

Die man wat drie jaar gelede van die moord op 'n teologie­student beskuldig is, is gister daaraan skuldig bevind.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



“Die beskuldigde was te alle tye bewus van sy dade en kon tussen reg en verkeerd onderskei. Hy kan nie van blaam onthef word nie,” het regter Naomi Shivute gister in haar uitspraak gesê voordat sy André Dausab gister aan moord met direkte opset skuldig bevind het.

Dausab het die 32-jarige me. Gofaone Motlamme op 22 Februarie 2014 27 keer met drie verskillende messe gesteek. Sy het op die toneel gesterf.

Dausab het tydens die verhoor getuig dat hy slegs gedeeltes van die gebeure wat tot die moord op sy meisie gelei het, kan onthou. Hy het ook beweer dat hy nie kan onthou dat hy Motlamme met 'n mes gesteek het nie, maar dat hy moet aanvaar dat hy verantwoordelik vir haar dood was.

Regter Shivute het in haar uitspraak gesê Dausab se weergawe is onwaar­skynlik, gegewe die feit dat hy die teenwoordigheid van gees gehad het om drie verskillende messe te gebruik. Toe die eerste twee messe gedurende die gru-aanval gebreek het, het hy Motlamme met 'n derde mes aangeval.

Regter Shivute het verder gesê die brief wat Dausab ná die moord aan die oorledene se familie geskryf het, getuig daarvan dat hy geweet het die misdaad wat hy gepleeg het, was verkeerd.

Volgens die klagstaat het die voorval by Motlamme se woonstel in Erasmusstraat in Windhoek plaasgevind. Motlamme, wat van Botswana afkomstig is, was 'n derdejaarstudent by die United Lutheran Theological Seminary se Paulinum-kampus.

Dausab het getuig dat hy na Motlamme se woonstel gegaan het om “te versoen of om die emosies wat verlore geraak het in ons verhouding te herleef”.

Tydens die besoek het hy egter SMS-boodskappe van 'n ander man op haar selfoon gesien. Sy het aangedui dat sy al die vorige jaar reeds by iemand anders betrokke geraak het.

Dausab het getuig dat hy deur woede oorweldig was omdat Motlamme hom bedrieg het. Hy het haar geklap en met 'n naelknipper gedreig waarna sy na die kombuis gehardloop het en 'n mes gaan haal het. In die struweling oor die mes het Dausab die oorhand gekry en haar vermoor.

Hy het getuig hulle het geval terwyl hulle oor die mes baklei het en dat hy bloed aan sy hand gesien het toe hy aan haar skouer gedruk het om homself van die vloer af op te druk. Hy het ook 'n mes in sy hand gesien en het gesê dit was die laaste wat hy kon onthou tot hy homself langs 'n snelweg bevind het waar hy probeer het om verbygaande voertuie te stop.

Dausab is kort ná die moord in Coetzeestraat in Pionierspark in hegtenis geneem toe hy die polisie van die moord in kennis gestel het.

Betoë vir vonnisoplegging sal op 30 Augustus aangehoor word.

Advokaat Ethel Ndlovu tree namens die staat op en Dauseb word deur mnr. Bronwell Uirab verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!